Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die gees wat by niks vertoef nie

Johann Sôhô Rossouw

Die Boeddha het sy Weg vir meer as 45 jaar onderrig. Telkens het hy die essensie van sy Weg met nog ’n nuwe beeld toegelig, maar die boodskap - dat lyding die gevolg van verknogtheid is - het dieselfde gebly. Waar die Westerse filosofie sy vernuwing daarin vind dat filosowe telkens die ou vraagstukke van die tradisie aan die hand van nuwe konsepte bewerk, vind die Zen-Boeddhisme sy vernuwing telkens daarin dat die meesters die tradisie aan die hand van nuwe beelde bewerk.

So het elke groot meester van die Dharma die tradisie vir hom- of haarself toegeëien met hierdie of daardie besondere beeld. Een so ’n beeld is dat die essensie van die Weg die gees wat by niks vertoef nie, is. Maar wat is die gees wat by niks vertoef nie? En hoe verwesenlik ons hierdie gees?

Die gees wat by niks vertoef nie, is die gees wat deurgaans bly in die hier en die nou. Dit is ook die gees wat slegs na die verlede of die toekoms verwys in soverre dit hier en nou relevant is - verder as dit is die toekoms en die verlede nie belangrik nie. As ons van hierdie ideaal hoor, is daar min van ons wat dit nie onmiddellik aantreklik vind en ons voorneem om so te leef nie. Maar dikwels kom ons gou agter hoe moeilik dit is: in die eerste die beste konfliksituasie grawe ons ou koeie uit die sloot, en is ons klaar nie meer met die hier en die nou besig nie; of voor ons ons kan kry, is ons besig met wat ons nog alles vandag moet doen, in plaas van met dit wat ons op hierdie oomblik moet doen. Hieruit spruit onvermydelik spanning en ander negatiewe gevolge, omdat ons, deur ons van die hier en die nou af te sny, reeds besig is om die natuurlike eenheid met die hier en die nou te ontken. So word gees en liggaam skeefgetrek.

Daarom kan ons sien dat die gees wat by niks vertoef nie, oftewel die gees wat slegs besig bly met wat hier en nou relevant is soos wat dit verander, die natuurlike gees is, waar ons ons natuurlike eenheid met dinge kan uitleef. Al sou ons egter die goeie voorneme hê om met hierdie gees te leef, is dit nie genoeg nie, aangesien die gees wat by niks vertoef nie, nie in die eerste plek voortspruit uit die wil om dit te verwesenlik nie - dan is ons nog maar net met die ego besig - maar uit die volgehoue en gereelde beoefening van zazen.

Want dit is wanneer ons in zazen (sittende meditasie) sit, dat ons die gees wat by niks vertoef nie, op die intiemste en mees direkte wyse uitleef.

Een van die algemeenste verkeerde opvattings oor zazen is dat ons veronderstel is om aan niks te dink nie. Daar kan min dinge so onnatuurlik wees as om aan “niks” te dink nie, om die eenvoudige rede dat ons van nature meer as 50 000 gedagtes per dag dink, wat voortspruit uit onder meer die interaksie tussen ons en ons omgewing, oftewel die natuurlike band tussen my en die hier en nou waarvan ek deel is.

Wat egter belangrik is, is om te weet dat ons gedagtes altyd maar net ’n vertolking van die werklikheid is. En as ons verhouding met die werklikheid nie een van harmonie en helderheid is nie - oftewel van dit wat zazen vir ons moontlik maak - gaan ons noodwendig verval in ons voorstellings van die werklikheid, eerder as om ons met die werklikheid self besig te hou. Dit is ook ’n illusie om te dink dat zazen ons in staat stel om álle voorstellings oor die werklikheid agter te laat: soos ’n ou meester eenmaal opgemerk het, die groot waarde van zazen is nie dat dit ons van ons illusies bevry nie, maar dat dit ons van ons illusies bewus maak!

Wanneer ons dus in zazen sit, dit wil sê in die korrekte postuur op ons natuurlike asemhaling, teug vir teug, konsentreer, kan ons ons gedagtes waarneem en laat gaan sonder om dit af te stoot (myself te veroordeel vir wat ek dink) of aan te gryp (aktief met my gedagtes besig te raak eerder as met die fisiese daad van om net hier en nou te sit). Dit is dán wat ons begin om die gees wat by niks vertoef nie, te beoefen.

As ons zazen gereeld en toegewyd beoefen, kan ons algaande sien hoe die gees wat by niks vertoef nie, deel word van ons alledaagse werklikheid. Wanneer ons in ’n konfliksituasie beland, verloor ons ons voormalige neiging om eers weer al ons gespreksgenoot se “foute” van die verlede op te haal; of kan ons hierdie neiging identifiseer die oomblik wat dit voorkom en dit verby laat gaan, presies soos ons die gedagtes in zazen verby laat gaan.

Zazen leer aan ons op spontane, natuurlike en onbewuste wyse die gees wat by niks vertoef nie. Omdat die gees by niks vertoef nie, sterf dit nie net voortdurend die vorige hier en nou af nie, maar word dit ook voortdurend vir die hier en die nou hergebore. So kan ons die intieme band tussen dood en geboorte van die verganklikheid beleef, en uiteindelik ook selfs dood en geboorte na waarde skat, sonder om ons daardeur te laat bind of bang maak.

Wanneer die gees by niks vertoef nie, kom ons veral van die verlede vry en kan ons nooit deur wraakgedagtes teen ander gevul word nie. Wraakgedagtes is daar waar die gees nog by die verlede vertoef. Maar as ons die verlede aan die verlede toevertrou deur onsself ongekwalifiseerd en vreesloos aan zazen toe te vertrou, kan ons hierdie oomblik en hierdie plek op sy eie terme en vry van ons vrese beleef.

10 Desember 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.