Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die T-opsie vir die renaissance-Afrikaanssprekende is meer as genoeg

Lida-Marié Louw*

Dit voel so onnodig om as lekestudent nog ’n klip in ’n reeds tot boordens toe vol Taalbos te gooi. Die taalstryd word nog altyd namens ons (die studente) gestry. Ek het ’n luilekker lewe, lees elke oggend Die Burger en verlustig my in die “ou omies met die grys skoene” se moddergooiery in die briewerubriek. Hulle weet presies wat hier in ons fools’ paradise aangaan en weet wat die beste vir al die studente sou wees. Dus hou ons maar ons bekke.

Die hartseer feit van alles is dat ek myself nog altyd as bogemiddeld besorg oor my moedertaal geklassifiseer het. Ek veralgemeen nie as ek sê dat die deursnee wit en bruin Afrikaanssprekende Matie vere voel vir wat met Afrikaans gebeur nie. Miskien doen ek nog eendag my doktorale tesis oor die identiteitskrisis van die bruin Afrikaanssprekende. Met verreweg die meeste bruin studente met wie ek in aanraking kom, vind ek dat hulle volstrek weier om Afrikaans (dis regtig onmoontlik om nié daardie kenmerkende aksent te bespeur nie) te praat. Al kom die Engels met stampe en stote uit, praat sal hulle hom praat. Hoekom? Aangesien alles wat ooit in Suid-Afrika skeefgeloop het, skeefloop, en nog sal skeefloop, op apartheid geblameer is, word, en sal wees, gee ons dit sommer ook die skuld vir dié bruin mense se verengelsing.

Ek wonder darem wie die taaiste job in Suid-Afrika het: die Springbokafrigter of die US-rektor, prof Chris Brink. Aaag, let’s give die arme man a break. (Blameer dié taalkontaminasie derhalwe op die T-opsie.) Brink is ’n baie klein pion op ’n baie groot ANC-skaakbord waarop die Afrikaanse taal vinnig in skaakmat gesit gaan word. Hy doen al ’n geruime tyd sy deel daarvoor.

Ons as Afrikaanssprekendes is al so gewoond aan die redusering tot tweederangse burgers van Suid-Afrika wat bakhand moet staan vir enige leftovers wat die heersers in ons skoot wil laat val. Iets is immers beter as niks. Dus is die T-opsie vir die renaissance-Afrikaanssprekende meer as genoeg. Die sepie Egoli het immers dié opsie met groot sukses toegepas (Koos Kombuis se insig). Natuurlik sal dit dus by die US ook werk. (Yeah, right.)

Die enigste wysheid wat prof Brink, volgens my, al ooit kwytgeraak het, is dat Afrikaanses moet ophou om hul pleidooi vir die taal slegs in Afrikaans te lewer. Sodoende beland al die vrot tamaties in elk geval op die verkeerde verhoog. Miskien sal daar eendag ’n feniks uit hierdie vrot spul taaltjol verrys wat daadwerklik iets vir die taal begin doen. Gaan ’n petisie met ’n paar name die verengelsing op ons Akkerkampus stuit? Is dit regtig te veel gevra om een Suid-Afrikaanse universiteit oorwegend Afrikaans te hou? Miskien is dit. Miskien het ons nog nie lank en genoeg vir die sondes van ons vaders boete gedoen nie. Ek kan net hoop dat ons minstens al 50 persent daar is …


Lida-Marié Louw* is ’n finalejaar-dramastudent en DJ by die Stellenbosse radiostasie MFM 92.6.



LitNet: 07 November 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.