Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bram Fischer: Oom sonder grys skoene

Yvonne Malan

is besig met haar doktorsgraad en werk as navorser by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Filosofie.
 

Yvonne Malan

Die reaksie op die Universiteit van Stellenbosch (US) se besluit om 'n eregraad postuum aan adv Bram Fischer toe te ken is veelseggend. Kort nadat die besluit bekend gemaak is, het Leopold Scholtz die eerste salvo afgevuur namens die anti-Fischer-brigade. Hy het, in 'n rubriek in Die Burger, Fischer as 'n "prime evil" geskets. As 'n mens Scholtz se reeks berigte oor Fischer moet glo, was hy 'n aartskommunis wat sy kans afgewag het om 'n totalitêre staat in te stel en Suid-Afrikaners voor die voet af te maai. Dit is die grootste onsin. Niks in Fischer se karakter of optrede dui hoegenaamd hierop nie. Dié wat hom geken het, van Uys Krige tot tronkbewaarders, onthou hom as 'n persoon van integriteit, beginselvas, met 'n versoenende invloed.

Uys Krige beskryf Fischer in sy 1973-brief aan Rapport soos volg: "hy was die ene goedheid ... Van hom kan dit seer seker gesê word dat sy karakter 'n sekere adel het." Diegene wat saam met hom in tronk was, vertel dat hy 'n "utterly transforming" effek op hul lewens gehad het (Clingman). Fischer self verduidelik sy motiewe asook sy afkeer van geweld en onderdrukking in sy "Statement from the dock". Dié wat hom nou so beswadder, moet die moeite doen om dit te gaan lees - ook Stephen Clingman se boek (ordentlik), en nie die belaglike anti-Fischer-propagandaboeke (byvoorbeeld The Amazing Mr Fischer, deur 'n lid van die veiligheidspolisie) wat blykbaar hulle bronne is nie.

Scholtz en sy bende veroordeel Fischer op grond van wat hulle dink hy moontlik sou gedoen het indien hy nie in 1975 oorlede is nie (dis natuurlik baie gerieflik om 'n dooie mens te beswadder). Hulle rep nie 'n woord oor die eregrade aan persone soos Vorster en Verwoerd nie - karakters van wie ons ongelukkig deeglik bewus is wat hulle wel gedoen het (blykaar kan rassisme vergewe word, kommunisme nie). Hulle verdoem eregrade aan politici, terwyl hulle vroeër vanjaar geswyg het toe 'n eregraad aan 'n dienende president, Thabo Mbeki, toegeken is. Maar Fischer word verguis, met 'n skrikwekkende venynigheid, en dit 30 jaar na sy dood. Giliomee en sy vriende wil blykbaar op 11 November 'n mosie by die Konvokasie laat dien wat vra dat die graad teruggetrek word. Jacko Maree gee voor die US het die besluit geneem op grond van "wanvoorstellings". Scholtz spandeer meters koerantspasie aan "Bram bashing". Hulle gee voor asof 'n enkele persoon vir die eregraad verantwoordelik was, terwyl die eregraad deur 'n komitee asook die Senaat en Raad van die US goedgekeur is ('n mens noem dit demokrasie, broers).

Hoekom hierdie reaksie? Ek vermoed omdat Bram Fischer hulle diep ongemaklik laat voel - en nie oor sy kommunisme nie. Fischer, gegee sy familie-agtergrond, intelligensie en eie talente, kon ver gevorder het binne Apartheid Suid-Afrika. Hy kon baie maklik teruggesit het en 'n gerieflike lewe gelei het. Hy kon selfs die verskoning gebruik het dat hy die stelsel "van binne" gaan verander. Maar hy het nie. Hy het gekies om sy gewete te volg en hy het sy lewe met integriteit gelei, en dit sonder om sy Afrikanerskap te ontken. Hy het ongeregtigheid beveg lank voor dit gewild was om dit te doen. Hy het 'n belowende loopbaan en sy vryheid prysgegee. En in 1975, na bykans nege jaar in die tronk, is hy dood. Maar selfs dit was nie genoeg nie. Sy as is gekonfiskeer dae na sy begrafnis. Sy foto en sy woorde is verban. Maar dit was 'n prys wat hy bereid was om te betaal:

All the conduct with which I have been charged has been directed towards maintaining contact and understanding between the races of this country. If one day it may help to establish a bridge across which White leaders and the real leaders of the non-Whites can meet to settle the destinies of all of us by negotiation and not by force of arms, I shall be able to bear with fortitude any sentence which this Court may impose on me. ("Statement from the dock", paragraaf 130.)

En dit is die rede vir die venynigheid. As Fischer alles kon prysgee en 'n bitter hoë prys betaal vir sy moed en integriteit, wat sê dit van dié wat niks gedoen het nie, wat stilgebly het? Daarom is dit verstaanbaar dat hulle hom demoniseer, dat hulle hom teken as 'n massamoordenaar - sodat hulle nie aan hom gemeet kan word nie.

En nou eien die US, voorheen die "kraamsaal van Apartheid" (Brink) vir Fischer en vereer hom. Geen wonder die ou ooms is onrustig nie.

In Bram Fischer: Afrikaner Revolutionary skryf Stephen Clingman:

[F]or Bram, understanding that the future was both known and unknown, he had staked his all on creating it, in fulfilment of the imperative to make humanity meaningful and available to everyone. That was the existential component of his commitment, the moral dimension of his politics, the integrity of his ideology.

Fischer het sy lewe opgeoffer vir 'n ander verstaan van die toekoms, 'n toekoms waarvan ons (en ook Giliomee en sy bende) nou die vrugte pluk. Daar was nie 'n bloedige revolusie nie, maar versoening, en dit as gevolg van mense soos Bram Fischer.

Die oorgawe waarmee Fischer nou beswadder word, bewys dat hy nog steeds, 30 jaar na sy dood, 'n lakmoestoets is. Mense se reaksie op hom is steeds veelseggend: die venyniges klou vas aan 'n eng verstaan van die verlede en 'n droom van 'n eenvormige kudde, al is hulle polities en moreel verkeerd bewys. Maar daar is heelwat mense wat dankbaar is vir die lewe en moed van Bram Fischer, veral die jonger geslag, nie alleen omdat hy die toekoms moontlik gemaak het nie, maar omdat hy 'n tydlose simbool van moed, integriteit en 'n ryk begrip van identiteit sal bly. En dit sal hy bly lank nadat die venyniges vergeet is.



LitNet: 05 November 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.