Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fischer: Jy kan nie die mens en sy ideologie skei nie

Leopold Scholtz

is adjunkredakteur van Die Burger en buitengewone professor in geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch.
 

Leopold Scholtz

Die openbare meningsverskil oor die Universiteit van Stellenbosch se besluit om 'n eredoktorsgraad aan Bram Fischer toe te ken gaan ten diepste oor veel meer as dit. Dit gaan oor hoe die Afrikaners hul problematiese verlede moet hanteer en hoe hulle hulself in die nuwe Suid-Afrika moet opstel.

Baie van die helde wat die Afrikaners in die dekades voor 1994 gehad het, is nie meer kosjer nie. Al die agtereenvolgende premiers en presidente, van dr DF Malan tot mnr PW Botha, is úít. Selfs helde van voor die apartheidstyd, soos pres Paul Kruger en genl JBM Hertzog, is onder verdenking.

Ironies genoeg lyk dit of genl Jan Smuts, die man wat tydens sy lewe so deur ortodokse Afrikanernasionaliste verguis is, darem nog so aan die buitenste rand van aanvaarbaarheid staan.

Teen dié agtergrond voel sommiges dat nuwe Afrikanerhelde nodig is. Die twee name wat die laaste tyd sterk na vore gekom het, is dié van dr Beyers Naudé en adv Bram Fischer.

Aan die een kant is dit positief dat mense soek na helde wat nie deur die apartheidstyd besmet is nie. Malan, Verwoerd en andere was immers nie helde nie; hulle het die Afrikaners onmondig gemaak en hulle op 'n dwaalweg gelei.

Die vraag is egter aan watter ander vereistes die nuwe helde moet voldoen. Eis jy dat so iemand inklusief moes gedink het? Dan val Kruger en Hertzog uit - dalk onregverdig, want jy moet iemand immers in sy tyd en konteks beoordeel, en in daardie tyd was eksklusiewe nasionalisme die in ding.

Eis jy dat so iemand die NP-regering en sy uitgangspunte fundamenteel moes verwerp het? Dan val voorloper-joernaliste soos Schalk Pienaar, Piet Cillié en Ton Vosloo uit - dalk ook onregverdig, want ook hulle moet in hul tyd en konteks beoordeel word, en in hul tyd het hulle aansienlike moed aan die dag gelê om outoritêre leiers soos Verwoerd en Botha aan te pak.

Een van die punte wat voorstanders van die Fischer-verering (onder wie sy biograaf, Stephen Clingman) opper, is dat die mens los van sy ideologie gesien moet word, dat die méns vereer word, nie die ideologie wat hy aangehang het nie. As die twee inderdaad só geskei kan word, moet Pienaar, Cillié en Vosloo ook as helde gesien word - en dit wil die Fischer-voorstanders om die dood nie hê nie.

Dis dalk sinvol om Fischer eers in sy historiese perspektief te plaas.

Die Afrikanernasionalisme van die laat 19de eeu was taamlik amorf en ongevorm. Dit kon in beginsel in verskeie rigtings ontwikkel het, want 'n paar dekades lank was daar selfs 'n soort protoliberalisme aanwesig wat - as die regte voorwaades aanwesig was - 'n heel ander historiese ontwikkeling tot gevolg sou gehad het.

Die druk van die Britse imperialisme (met die Anglo-Boereoorlog as simboliese hoogtepunt) het sake egter anders laat verloop. Dit het drie rigtings uit die vroeë Afrikanernasionalisme laat ontwikkel, te wete die nasionaal-sosialisme, die kommunisme, en die ortodokse nasionalisme wat sy gestalte in die NP van ná 1948 gevind het.

Al drie dié rigtings was reeds voor 1899 in Afrikanernasionalisme aanwesig. Inderwaarheid is die kapitalisme reeds teen die einde van die 19de eeu deur invloedryke Afrikaners, soos die Transvaalse staatsprokureur, Jan Smuts, en die redakteur van die Bloemfonteinse dagblad De Express, Carl Borckenhagen, as instrument van die Britse imperialisme geïdentifiseer. Selfs in 1919 nog het Hertzog die Bolsjewisme met 'n skerp aanval op die kapitalisme verdedig deur te sê dat die idee op sigself "uitstekend" is maar verkeerd toegepas word.

Die kommunisme van mense soos Bram Fischer stam regstreeks hiervan af, al is dit waar dat hulle 'n element - rasse-inklusiwiteit en wat hulle gesien het as geregtigheid vir álmal - daaraan toegevoeg het. Maar die nasionaal-sosialisme van politici soos drr Hans van Rensburg en Albert Hertzog was, histories gesien, bloedfamilie van Fischer se kommunisme deurdat dit dieselfde voorvader had. Die nasionaal-sosialisme van Van Rensburg, leier van die Ossewa-Brandwag, was geensins identies met dié in Nazi-Duitsland nie - die beweging se antisemitisme en "wetenskaplike" rassisme was maar swak ontwikkel vergeleke met dié in Duitsland, en veel meer klem as dáár is op die sosialistiese element (dis genoem "volkseie-sosialisme") gelê.

'n Mens wil nie die verskille ontken nie - Fischer het etnies inklusief gedink en Van Rensburg/Hertzog se horison het nie verder as die grense van die Afrikanervolk gestrek nie. Maar al drie het 'n totalitêre ideologie aangehang; albei was só van die "waarheid" vervul dat hulle gewillig was om alle ander weë daarheen met geweld te onderdruk. As 'n mens die boek van die Britse historikus Richard Overy, The Dictators (oor die wesenlike ooreenkomste tussen die kommunisme en die nasionaal-sosialisme), lees, kan jy nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat Fischer en Van Rensburg/Hertzog eintlik taamlik na aan mekaar was nie.

'n Mens moet nie die politieke spektrum as 'n reguit lyn van uiters links na uiters regs sien nie. Dis veel eerder 'n sirkel waar die uiterstes mekaar ontmoet.

Met ander woorde, as 'n mens helde soek om te vereer, waarom mag Fischer vereer word, maar Van Rensburg/Hertzog nie? Of Pienaar/Cillié/Vosloo?

Die antwoord is natuurlik dat geeneen van eersgenoemde drie verering verdien nie. (Oor laasgenoemde drie wil ek my nie uitlaat nie; Vosloo betaal immers my salaris!) Al drie was in hul persoonlike lewenswandel opregte mense, veel opregter as byvoorbeeld Kortbroek, wie se politieke loopbaan vir hom klaarblyklik belangriker as sy beginsels is. Al drie se bedoelings was goed. Maar wat sê die Engelse spreekwoord ook al weer oor goeie bedoelings en die pad na die hel?

Nee, jy kan nie die mens en sy ideologie skei nie. Fischer was, hoe mislei hy ook al was, ondersteuner van 'n party wat een van die mees Kremlin-getroue kommunistiese partye ter wêreld was. Dit was 'n party wat - dit kan jy in al sy publikasies lees - die ANC wou gebruik om die wit regime te verjaag, die mag vervolgens self te gryp en 'n totalitêre Leninistiese diktatuur in Suid-Afrika te vestig.

In sy boek A Ravaged Century skryf die Amerikaanse historikus Robert Conquest dat die kommuniste se etiese redenasie min of meer só was:

(a) Daar is baie onreg onder die kapitalisme.
(b) Die sosialisme sal dié onreg beëindig.
(c) Daarom moet enigiets wat die sosialisme sal bevorder, gesteun word, met inbegrip van enige hoeveelheid onreg.

En daarom, hoe eerlik en opreg Fischer ook al was, kan hy nie in aanmerking kom vir 'n eredoktorsgraad aan welke universiteit ook al nie. Nie hy nie en niemand anders wat om politieke redes vereer word nie.

Dis nou te sê, as 'n mens dié skrywer se fundamentele vertrekpunt - die liberale veelpartydemokrasie en die vrye mark - deel. Indien nie, wel, ja, dan is 'n ander gevolgtrekking natuurlik moontlik. Maar sê dit dan openlik!



LitNet: 5 November 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.