Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fischer: Waarom dan die eerbetoon?

Lawrence Schlemmer

is skrywer, akademikus en direkteur van die Helen Suzman-stigting/MarkData (Edms) Bpk.
 

Lawrence Schlemmer

Ons moet ons seker daarby berus dat universiteite eregrade toeken aan ryk skenkers wat 'n bietjie sosiale eer tot hulle geldelike prestasies wil toevoeg. Die mate waarin 'n universiteit sy eie prestasiestandaarde hiervoor moet kwalifiseer, word seker deur 'n gesonder balansstaat vergoed, wat op sy beurt akademiese hulpbronne kan versterk.

Dit is moeiliker om die rasionaal vir dieselfde eerbetoon aan politici te verdedig. Waar 'n politikus groot aansien as 'n groot staatsman verdien het, kan daar egter geredeneer word dat hy of sy bokant sy partypolitieke of magsagenda uitgestyg het, en daarom die inhoud van die openbare omgang verdiep het. David Lloyd George, voormalige Britse premier, het ons egter herinner dat "A politician is a person with whose politics you don't agree. If you agree with him he is a statesman." Universiteite loop dus altyd die gevaar dat hulle keuses van "staatsmanne" hul eie politieke sydighede sal ontbloot. Daar is egter sekere moontlike voordele waar 'n lewende politikus sy invloed sal gebruik om die aansoeke van universiteite om staatshulpbronne te versterk.

Die rasionaal om 'n afgestorwe politikus te vereer wat sy roem slegs as aktivis op partypolitieke en ideologiese vlak verwerf het, is veel moeiliker om te verklaar. Die eerbetoon aan adv Bram Fischer is so 'n geval. Fischer het ongetwyfeld 'n baie sterk karakter openbaar. Hy was seker 'n goeie advokaat, maar húlle is taamlik dik gesaai. Hy het ook vir sy oortuigings sy vryheid prysgegee, maar dit sê meer oor die aard van die vorige bewind as oor die man self. Sy intense toewyding aan sy politieke doelwitte was klaarblyklik onwrikbaar. Wat nog? Hy het min geskryf en het ook nie in enige beduidende mate die inhoud van sy politieke ideologie verbreed of verdiep nie.

Met ander woorde, hy was 'n baie bekende, baie vasberade en baie aktiewe politieke rolspeler in ons geskeidenis, wat toevallig ook as 'n Afrikaner grootgeword het. Waarom word hy dan vereer? Die redes blyk dieselfde te wees as die rasionaal vir die verering in die verlede van dosyne bekende verkrampte apartheidsleiers wat hul partypolitieke saak tot die uiterste toe gedryf het. Maar hy het iets anders met hierdie twyfelagtige eredoktore gemeen gehad. Die ideologieë, in die strakke vorm waarin hy en hulle dit bedryf het, is sedertdien as ongeldig en destruktief ontbloot. Teen die tyd dat hy en hierdie ander vereerdes aktief was, was daar al baie Afrikaners en ook Kommuniste wat die twee ideologieë begin bevraagteken het. Maar hy en die vereerde apartheidsleiers was ideologies verkeerd sonder om dit ooit in te sien. Dit is presies wat enige universiteit nie moet beloon nie.

Waarom dan die eerbetoon? Dit kom uiteindelik neer op politieke posisionering - onkritiese en fatsoenlike gebare om op verwagtinge te reageer. In die mate dat 'n universiteit om hierdie redes eregrade uitdeel, ondermyn dit die diepste beginsels waarop sy reg om grade toe te ken gegrond behoort te wees.

Die geskiedenis leef voort.



LitNet: 05 November 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.