Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fischer en die US-bestuur se Eskimo-volkswysheid

Jannie Gagiano

is 'n ouddosent in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch.
 

Jannie Gagiano

Of Bram Fischer nou 'n Stalinis was of nie, en daarom in Stellenbosch se universiteitsgemeenskap as 'n held kan dien of nie, lyk nie vir my so belangrik as wat die openbare debat oor sy eredoktorsgraad ons tot dusver sou wou laat glo nie. Die eredoktorsgraad word myns insiens aan hom toegeken om ons regering verder te beïndruk met ons vasberadenheid om 'n nuwe soort rol in ons nasionale lewe te speel.

Ons moet ons in 'n ander universitêre bloedgroep indink - by wyse van spreke. Van universele ontvangers na universele gewers. Van ontvangers van universaliteite na gewers van universaliteite. Van AB (rh negatief) na ANC (rh positief). Van suiers na skenkers. Anders word 'n gedwonge oortapping dalk ons voorland. By wyse van spreke.

Ons regering is per slot van rekening in 'n deurslaggewende posisie om ons toekomslot te bepaal. Gegewe die Jakobynse ywer wat die regeringslui besiel, lyk dit ook nie of hulle sal huiwer om dinge te doen wat dit vir ons taamlik ongemaklik sal maak as ons nie aan hul verwagtinge voldoen nie.

Die vraag is dus nie of Fischer ons hulde verdien of nie (so 'n aanspraak staan buite die kring van "struggle"-gesindes maar op losse skroewe). Die vraag is of ons die regering van ons goeie strewes kan oortuig met so 'n huldeblyk en daarmee 'n toeskietlikheid in hul gesindheid teenoor ons kan bevorder.

Die US-bestuur steun klaarblyklik op 'n soort Eskimo-volkswysheid wat bepaal dat as jy met 'n poolbeer te doen kry, dit slim is om vir die ou grote so af en toe 'n vis te voer om sy aandag af te trek sodat hy nie later dalk die gedagte kry om jóú op te vreet nie. Of die vis nou lewend of postuum is, maak nie eintlik 'n verskil nie. Vir ons ou Stellenbosch Eskimo's is beervoer nie 'n opsie nie. Dit is 'n oorlewingstrategie. Mandela. Mbeki, Tutu, Krog, Fischer ...? En dan sê julle nog, in Uys Krige se woorde, "die vis is duur"!

Dit sit natuurlik ook 'n ou tradisie in die toekenning van eregrade aan hierdie universiteit voort. So baie van ons eredoktore is egter nou deur die geskiedenis en, tot ons verleentheid, tot sulke skurke omgebou dat die Raad dit moet oorweeg om, naas die troonverheffing van ons nuwe volkshelde, ook die onttroning van ons ou volkshelde van stapel te laat loop.

Jaag vir PW terug na die Wildernis, en na die Geskeurde Kleed, die As op die Hoof, die Sprinkane en die Wilde Heuning. Ontketen ons tuisgebakte ikonoklaste. Dryf die skurkesiele (PhD honoris causa) in die boesems van 'n swyntrop in en maak die hele boel oor die afgrond stort. Heraus mit uns! was 'n Duits-Joodse manier van pypkan toe unser Adolf hulle met Juden raus! in die engte gedryf het.

Of herdink die hele eregraadstrategie soos hy nou toegepas word en bly nader aan die gees en die bepalinge van die bestaande protokolle. Dit mag eregrade dalk mettertyd in ere herstel.



LitNet: 5 November 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.