Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor helde en menswees


(gedagtes oor Hansie Cronjé)

Jaco Botha

Vrydagaand sit ek en ’n klompie maats in ’n kroeg. ’n Paar van ons oumanne het reeds die middag bymekaar gekom om na die rugbywedstryd tussen geswore ou vyande Wilgenhof en Dagbreek, manskoshuise op Stellenbosch, te kyk. Wilgenhof het goed gewen, maar oorwinnings is ook nie meer wat dit was nie. In die ou dae het ons drie, vier honderd sterk die Wittrein se sege gevier en drank en los vroue was aan die orde van die dag. Deesdae is als so sober.

Een van die dinge waaroor ons praat, is Suid-Afrikaanse krieket. Almal is dit eens dat Pollock ’n goeie speler is, maar nie die sterk kaptein is wat Hansie was nie. “Kan ons nie maar vir Hansie vergewe en terug roep nie?” vra een. “Ja,” stem almal saam, “as dit maar net moontlik kon wees.”

Die volgende dag bel ’n ander ou maat van my en vra of ek van Hansie gehoor het. “Hulle het op CNN gesê hy’s in ’n vliegtuigongeluk dood.” Na die oproep drink ek ’n doppie op die Kaptein en dink terug aan my droom van twee jaar gelede.

Net voor die skandaal oor die knoei-dollars in April 2000 gebreek het, droom ek een aand ek is op ’n klein krieketveldjie in Bloemfontein. Dis ’n stoere affêre — die begrafnis van Hansie Cronjé. Die vreemdste van die saak is dat Hansie langs die pitch begrawe word — “Krieket was sy lewe,” sê iemand wat ’n huldeblyk lewer.

Ek dink in my droom is Hansie waarskynlik langs die pitch begrawe omdat almal wat ooit krieket gespeel het, weet: die pitch is heilige grond. Niemand, maak nie saak wie jy was nie, sal ooit onder ’n pitch begrawe word nie.

In die vroeë negentigs, toe Hansie as sterk krieketspeler en later as kaptein op die toneel verskyn het, was die Afrikaner (ek gebruik die versamelnaam by gebrek aan ’n beter woord) in die beginfase van ’n emosionele krisis. Politieke mag is pas afgestaan en alles wat ons op skole soos Affies en Grey geleer het, dat die Afrikaner goed en reg is, se boom het pas uitgeval. In hierdie tyd het Suid-Afrikaanse sport, veral krieket en rugby, tot ’n groot mate as ’n emosionele reddingsboei kon dien — ’n belangrike aspek in die Afrikaner se “way of life” is immers sport. Mense soos Francois Pienaar en Hansie Cronjé het in hierdie oorgangsperiode ’n belangrike rol gespeel.

Veral Hansie, die argetipiese Afrikaanse held, met sy skoon oop gesig, sy stil-sterk persona en sy hardnekkigheid om nie te verloor nie, het in daardie dae aan die Afrikaner hoop en selfvertroue gegee. Selfs sy naam, Hansie Cronjé, het die skoen gepas en kon ook die skoene vol staan van moontlike mites soos Dirkie Uys en Racheltjie de Beer. Alles het op ’n manier nog pluis gevoel.

Dit is waarskynlik hoekom die verloor in die ‘99-Wêreldbeker en die latere skandes wat in die King-kommissie na vore gekom het, so ’n slag was. Die bubble van ’n goeie, eerlike en seëvierende nasie het finaal gebars.

Met so baie Afrikaanse ikone wat sterf, het Max du Preez op ’n stadium gevra: “Het God die Afrikaner verlaat?” Vir my is ’n belangriker vraag — dit is as ons nou nie agnosties wil raak nie — of die Afrikaner nie op ’n kol (dalk so net na ‘48) vir God verlaat het nie. Daar is die ou storie van ’n ryk man en ’n kameel wat nie maklik deur ’n naald se oog pas nie. Dalk het die Afrikaner gewoon deur die jare te veel arrogante boggels gegroei en moet ons eers vir ’n ruk droog loop tot ons lekker gemaklik deur enige naald se oog kan pas.

Om terug te kom by Hansie, was die val van ’n held dan juis miskien vir hom, en vir ons ook, nodig. Mens moet immers eers mens word voordat jy kan doodgaan.

Genoeg dan nou van dit wat moontlik as soetsappig gesien kan word. Hansie was ’n talentvolle sportman wat gehaat het om te verloor. Hy het vir homself en sy span geleenthede geskep om meer dikwels as nie, die “sweet spots” te vind — daardie oomblikke waarvoor mens leef wanneer alle dinge in harmonie met mekaar is — die langafstand-drie; die storie wat bymekaar kom; die laaste bal van die wedstryd wat vir ’n ses geslaan word om die oorwinning te bewerkstellig.

Die groot Don Bradman moes in sy laaste toetsbeurt slegs ’n nie-uit-nie registreer om ’n volmaakte gemiddeld van 100 te kon vestig. Hy is vir ’n duck geboul en sy gemiddeld is 99,9.

Soos met krieket is die lewe nie vir sissies nie en niks hier is volmaak nie. Al wat mens kan hoop, is om eendag so na as moontlik aan die pitch begrawe te word.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.