Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vernichtungsbefehl

Andries Bezuidenhout

“Innerhalb der deutschen Grenzen wird jeder Herero, mit oder ohne Gewehr, mit oder ohne Vieh erschossen…” — Generaal Lothar von Trotha, 1904

Ferdinand, hierdie land
laat net besoekers toe -
hulle laat soms koeëls en bottelskerwe agter
wat heel toevallig onder duine bewaar word
en dan, dalk ná ‘n eeu, onverwags in die son blink
om miskien opgetel te word, deur vingers bevoel,
in ‘n handpalm gerol, geweeg te word
die wind hou reëlmatig aan met vee
die duine skuifel ritmies oor die harde aardkors
oor spore van Schutztruppe se stewels,
perdepote, ‘n slee se sleep deur modder
wat verstar het, soos die blou oë, blonde hare
wat onskuldig oor die visier gestaar het
en getrou, miskien selfs gedwee
die Vernichtungsbefehl gehoorsaam het

Ferdinand, die klippe, die sand -
ons ken nie die oorsprong van gneis nie,
slegs die strepe laat ons raai
die skis glimmer met spore mika
maar ons kan net wonder oor hul ontstaan
by Roter Kamm getuig ‘n gat
hoe die hemel die land bestook het
met meteoriete van nikkel en yster
wat aan flarde breek
voor hulle brandend uit die lug
hulself op die aardkors wreek
en dan, as besoekers uit die buitenste ruim,
die landskap vervorm en hulself deel daarvan maak
om eers later in Windhoek, in ‘n winkelsentrum
vermonument en geklassifiseer te word -
een middeldeur gesny en gepoets:
blink in die blik van toeriste en die son

Ferdinand, die berg wat brand -
Königstein gloei as baken
vir seevaarders op reis, ‘n wit vrou
word verewig op ‘n rots se wand
‘n offerhande van die tyd -
lank voor die eerste piramides
het inwoners van hiérdie woestyn
figure op klip geverf, gekerf
wat stories aan nageslagte moes vertel,
maar nou stom in gesteentes verstik

Ferdinand, flamink en kormorant -
óók besoekers aan hierdie land
soos soveel ander wat by oases en mere kom rus
maar altyd verder trek,
gemsbok en damara dik-dik langs die skedelkus
in die sand lê ligene swart, die vensteralge
bloei in kleure as hulle die mis oplek
welwitschia mirabilis se twee blare verflard,
wye romp van haarwortels soekend na vog,
maar dis dor, en die lewe is tydelik,
kortstondig vir tweeduisend jaar
die voortbestaan van ‘n spesie onseker,
dit word slegs geduld
kameeldoring, kokerboom en tamarisk
boor diep die aarde in
narra en tsamma reg vir pluk,
‘n halfmens spook nog
teen die Spitzkoppe-hange

Ferdinand, altyd van die voete se kant -
waai die wind ‘n duinegraf oop
en word die bene gerangskik, afdraand
soos die sand die skelet ontbloot

Ferdinand, selfs ‘n diamant
rus hier nie vir lank nie
en word uitgesnuffel, gesif of gesuig,
of solank bewaak in ‘n Sperrgebiet
maar doringdraad kan die mis nie keer nie
net die son kan, en moet ook onskuld verdamp:
ons luister nie meer na bevele nie
ons blou oë kyk nie meer
deur blonde kuiwe of visiere nie
ons sagte velle te laat deur die son verleer

Ferdinand, dis nou ‘n ander land
tóg keer ek soms terug as besoeker -
die son gloei nog helder teen die Khomasberge
by Karibib strek die savannas nog wyd
die Namib se duine kruip nog statig, stadig soos altyd
in Ovamboland vloei die Kunene konstant
na April sif die Oosweer nog warm op Swakop neer
skurwe berge herberg steeds bome in droë Damaraland
maar weet jy,
al waai Gathemann’s se vlae steeds op die balkon,
bedien hulle al lank nie meer ontbyt nie
al is Swakopmund nog gehul in die mis,
is die jetty jare terug met doringdraad gesluit
in Windhoek het Keiserstrasse nou ‘n ander naam,
en A la Pergola het afgebrand
op Lover’s Hill, in Walvisbaai,
waar jy met die tuinslang, laat daardie aand
raadop, maar vasberade jou kar parkeer het,
is nou ‘n baksteenmonument

Ferdinand, die geheue verdamp
verdor, droog op -
net die duine hou konstant
aan met skuif en vervorm deur die jare,
besluit self wat word gehul of onthul
verander so reëlmatig van gestalte,
al is dit ‘n refrein wat herhaal, herhaal
en ek weet nie meer waar jy nou woon nie,
of dalk is jy lankal dood
ons stories, ons besoek nou onbenullig
wat saam met ons en die tyd verslaan
soos die bitter in die water van Omaheke,
soos geboue wat verweer, velde wat verbrand
miskien het een spoor tóg versteen,
gestol in die modder, deur ‘n duin bewaar
miskien oor ‘n eeu, oor ‘n honderd jaar
sien Schutztruppe ons bottelskerwe,
ons stewelspore
en kan ook húlle onskuldig wonder
oor die stories wat die sand vergaar

Maar vir eers
bly onbegryplik
die woorde,
die name:

luitenant
ferdinand
verdamp
brand
skand
sand
land

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.