Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Volksblad-kunstefees: “’n Winterfees met ’n warm hart”

Hoe klink gesellige na-uurse konkavure om die koue te troef, gasvryheid soos net die Vrystaters kan, en ’n week se skitterende teater- en musiekproduksies?

Die Volksblad-kunstefees (Bloemfontein, 12 tot 17 Julie) vind vanjaar vir die vyfde keer plaas. Erns Grundling het gesels met die feesorganiseerder, Doks Briers, iemand wie se naam al sinoniem met dié fees se hartlike karakter en kwaliteit-aanbiedinge geword het.

Erns: Die Volksblad-kunstefees vier vyf! Hoe voel dit?

Doks: Ja, as mens in terme van die ander kunstefeeste dink, soos die KKNK wat verlede jaar tien jaar oud geword het, is ons seker op pad na middeljarigheid! Die fees het merkwaardig gegroei, nie noodwendig in omvang nie, maar dit is ’n fees wat nie soos die ander hoef te groei nie. Die fees het veral gegroei wat ’n eie karakter en identiteit betref. En dan natuurlik ook in terme van die gehalte van die aanbiedings. Ons is ook baie bevoorreg met ’n uitstekende infrastruktuur. Die fees groei dus in statuur, aanbieding en pret en plesier!

Erns: Vertel meer oor die fees se karakter.

Doks: Die Volksblad-kunstefees is ’n winterfees met ’n warm hart. Dit gaan oor die mense – ’n Vrystater is nou maar ’n Vrystater en Bloemfontein is die hart van die Vrystaat. Die streek is bekend daarvoor om toegeneë te wees tot mekaar en ander mense wat kom kuier. Dus warm, hartlike mense.

Ek dink die koue speel ook ’n rol. By die meeste ander feeste is hitte ’n gegewe. Maar hier verdryf ons die koue met konkavure wat die hele kampus vol brand en ’n atmosfeer van warmte.

Erns: Kry julle heelwat besoekers van buite die Vrystaat?

Doks: Ons het nog nie amptelike statistiek hieroor nie. Vanjaar het ons ’n veldtog wat ’n wetenskaplike meningspeiling sal doen. Maar as mens bloot kyk na kaartjieverkope, lyk dit of nagenoeg tien persent van die feesgangers buite die lesersgebied van die Volksblad (Vrystaat en Noord-Kaap) afkomstig is.

Erns: Vertel meer oor van die hoogtepunte by vanjaar se fees

Doks: Ons het vanjaar 65 produksies by die fees, waarvan 19 debuutproduksies is. Daar is ook ’n internasionale element aan die fees, met ’n groep van 15 jong operasangers uit Moskou wat beloof om ’n lekker gemoedelike opera op die planke te bring. Hulle is Rusland se ekwivalent van Suid-Afrika se Black Ties. Hulle tree op 12 en 13 Julie op in die Odeion-teater. Die produksie staan bekend as Russiese stemme.

Die fees is ook al bekend vir sy interessante musieksamestellings wat behartig word deur Natie Botes, een van die staatmakers. Die Huisgenoot/Castle Callie Rock-lokaal speel op 14 Julie gasheer vir die produksie 5-ling, waar David Kramer, Koos Kombuis, Theuns Jordaan, Valiant Swart en Gert Vlok Nel vir die eerste keer ’n verhoog sal deel!

Maar ons maak nie slegs voorsiening vir ’n vertoning deur die legendes nie. Op 13 Julie vind Die Blomme Rok plaas, waar jong sterre soos ddisselblom, Jan Blohm, Jak de Priester, Hugo en Bea van der Vyver saam gaan optree in die Huisgenoot/Castle Callie Rock-lokaal.

Erns: Daar is ook ’n paar interessante praatjies by die fees ...

Doks: Die praatjies word oudergewoonte gerangskik onder die boekeprogram by die fees.

Op 12 Julie gaan Hennie van Coller met Carina Diedericks-Hugo, Jaco Jacobs en ander jeugboekskrywers gesels oor die aanbod en inhoud van kinder- en jeugliteratuur.

Hennie van Coller gesels op 13 Julie met Deon Meyer oor die essensie van die spanningsverhaal in ’n praatjie getiteld Waar is Suid-Afrika se Dan Brown?. Op 15 Julie lei Elmari Rautenbach (INSIG-redakteur) ’n praatjie oor die poniepers, wat beloof om ’n vuurwarm gesprek te wees!

Van die skrywers wat hul boeke kom bekendstel by die fees, sluit in Charl-Pierre Naudé, Dana Snyman, André P Brink, Marlize Hobbs en Rona Peens. Die akteur Paul Eilers gaan ook ’n gesprek voer met Anton Goosen, wie se liedboek, Die hitte van die Teerpad, by die fees bekendgestel word.

Die Sarie Boekekraal met teekamer sal vir feesgangers die geleentheid bied om behoorlik te ontspan. INSIG bied ook die Legends-lokaal langs die Callie Human, wat beloof om ’n uithaler-kuierplek te wees.

Erns: En wat die teater betref?

Doks: Daar is baie sterk werk wat teater betref. Pieter Fourie se gewilde toneelstuk Faan se trein, onder regie van Albert Maritz, kom maak ook vanjaar ’n draai by die fees. Zollie, die bekroonde Sanlam-wennerdrama deur die Kovsies se Dramadepartement, is ook een van die hoogtepunte. Bull-shit, Mia-Lee is ’n tragikomedie met een van die fees se sterre, Lulu Botha. Botha was ’n paar jaar gelede te sien in die gewilde Carwatch.

Wat musiekteater betref is dit vanjaar die eerste keer dat Lucas Maree by die fees optree. Coenie de Villiers, Cut Glass en Amanda Strydom is maar ’n paar van die groot sterre wat met hul mees onlangse produksies gaan optree. Herman van den Berg en sy orkes gaan ook Jacques Brel se musiek vertolk, in klinkende Afrikaans!

Die Grafsteensangers en Thys die Bosveldklong (in ’n aandpak!) beloof om van die humor-hoogtepunte te wees.

Die Suid-Afrikaanse Balletteater gaan op 15 Julie La Traviata opvoer in die Stadskouburg. Die SA Nasionale Jeugorkes sal ook vir die eerste keer in jare weer ’n draai maak op Bloemfontein, wanneer hulle op 16 Julie optree in die Sand du Plessis-teater.

Erns: Hoe was die fees se bywoning oor die afgelope paar jaar?

Doks: Met die eerste fees is 6 005 kaartjies verkoop; verlede jaar meer as 27 000. Dit spreek vanself dat die fees geweldig groei.

Erns: Hoe suksesvol is integrasie van die hele Afrikaanse gemeenskap by die fees?

Doks: Die fees wil graag die totale Afrikaanssprekende bevolking betrek. Dit word beslis op die verhoog weerspieël, maar dit sukkel nog om verteenwoordigende gehore te kry. Die Macufe-fees wat later in die jaar plaasvind, speel dalk hier ’n rol. Die Macufe-fees word ondersteun deur die Vrystaatse provinsiale regering en is ’n veeltalige fees wat veral op jazz fokus.

Die Volksblad-kunstefees is nie eksklusief in terme van taal nie, maar die spreektaal is Afrikaans. Ons werk hard daaraan om die fees so aan te bied dat dit mense van verskillende kultuurgroepe akkommodeer.

Ons kyk veral nou na projekte om meer kinders uit die verskillende gemeenskappe na die fees te bring. Die Spontaan-kompetisie is ’n talentkompetisie (soortgelyk aan die Idols-formule) wat in samewerking met die Volksblad se gemeenskapskoerante aangebied word. Deel hiervan sluit opleiding in, en diegene wat deurdring, kry die geleentheid om hul talente op die Spontaan-verhoog tydens die fees te kom wys.

Erns: Hoe behou die fees sy onafhanklikheid as dit ’n koerant se naam dra?

Doks: Die fees is ’n totaal onafhanklike entiteit en dra net die naam van die koerant. Nodeloos om te sê is Media24 die stigtersborg en lewer hulle steeds ’n groot bydrae. Kritiek teen die fees word egter onomwonde in die koerant geplaas, so niemand word enigsins gepamperlang nie.

Erns: Wat is die fees se grootste uitdagings?

Doks: Die fees is so ’n event, dis ’n golfbeweging en dis belangrik dat die fees se gesig na buite interessant bly. Ons het die afgelope twee jaar opnuut besef dat die finansiële implikasies ’n groot faktor raak. Maar ons het die meeste slaggate deurdink en deurtrap. Almal is nou al ervare en hoewel daar altyd goed is wat verkeerd gaan, kan ons die meeste reeds antisipeer en aanspreek.

Erns: Jy pendel steeds tussen Kroonstad en Bloemfontein?

Doks: Ja, dis die Kroonstad/Bloemfontein Express forever more! Die lewe tussen die kantoor en die huis is gelukkig ’n lewenstyl waaraan mens mettertyd gewoond raak.

Erns: Hoe lyk dit met verblyfreëlings?

Doks: Daar is baie gastehuise beskikbaar en die universiteit gooi ook van die koshuise se deure oop vir verblyf. Dit gaan ’n besige tyd in Bloem wees, aangesien die Cravenweek-rugbytoernooi ook dan plaasvind. Daar is ook ’n feestrein wat vanaf Gauteng na Bloemfontein gaan reis ...

Erns: Watter raad sal jy vir iemand gee wat wonder of hy tussen 12 en 17 Julie ’n draai by die Volksblad-fees moet maak?

Doks: Hoekom wonder jy nog? Hoekom is jy nie al reeds hier nie?!



LitNet: 21 Junie 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.