Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Klik hier en wen!
Klik hier en wen 12 maande af op jou huislening!

Toorberg maak 'n aanspraak op amper al jou sintuie

Deborah Steinmair

Klik hier vir meer detail

Enigiemand vir teater in die oggend? Vir die meeste van die gehoorlede is dit 'n wegglipkans van die skool of werk af. Ongelukkig sit ek met 'n kop vol "to do"-lysies, reminders en deadlines, spreadsheets en profit margins. (Danksy Bill Gates bestaan hierdie terme net in Amerikaanse Engels.)

Ek sit ook en wonder wat enigiemand besiel het om 'n diggeweefde, digbevolkte Gabriel Garcia Marques-agtige roman soos Toorberg op die verhoog te sit. Ek het my bedenkings gehad.

Voordat die gordyne oopgaan, sit ons en kyk na 'n projeksie van die ingewikkelde Moolman-stamboom: die familie en skaamfamilie met al sy vertakkings. Oor dit alles dartel 'n tartende naaldekoker. Ek het die boek jare gelede gelees en kan nie so mooi ontou hoe dit alles inmekaarsteek nie.

Die stel is eenvoudig, amper apokalipties gestroop, met die boormasjien wat 'n skadu oor alles gooi. Aanvanklik is dit moeilik om kop te hou, die kloutjie by die oor te bring: watter Moolman is aan die woord, uit watter geslag en era - het die kind al in die boorgat gesterf of is sy ma nog nie gebore nie? Stadigaan dring dit tot my deur dat juis hierdie verwarring meehelp om een van die sentrale temas van die boek te vergestalt: dat die verlede en die hede saamwoon, onheilig verstrengel is; in die woorde van OuAbel Moolman "… loop die waarheid en verdigsel, geskiedenis en toekoms en lewe en dood deurmekaar".

Kort voor lank word die kyker amper ongemaklik intiem betrek by die bloedskandelike tragedie wat begin het lank voordat Druppeltjie du Pisanie in die put geval het - wat die tragedie en skande van 'n hele land en heelwat generasies omhels. Sit 'n mens op die puntjie van jou stoel om meer uit te vind, soos Magistraat Van der Ligt agter die kap van die byltjie te kom, eeue se gekoesterde geheime soos 'n ui te skil. Selfs die skoolkinders voor ons raak stiller, totdat die spanning hier en daar verlig word deur aardse humor en warm vrytonele. Toe Koevert vir KleinKitty in die kar gryp, kom 'n seun half regop in sy stoel en gil: "Condom!"

Ja, mettertyd vervaag die deadlines en spreadsheets wat op kantoor wag. Besef 'n mens weer dat, terwyl die geestesoog die ideale verhoog bly, dit tog verrykend en baie aangrypend is om iemand anders se interpretasie van 'n roman visueel te ervaar - dit is onmiddellik, dramaties, akuut: dit maak 'n aanspraak op amper al jou sintuie. Dit prikkel en maak jou lus om weer die boek te gaan lees.

Op die ou end spring daar meer vrae as antwoorde op, word 'n mens gelaat met 'n bewustheid van die onvolledigheid van "die mens se pogings om die verlede te probeer agterhaal", in die woorde van Etienne van Heerden.

Ek haal my hoed af vir teksskrywer, regisseur, produksie-ontwerper, akteurs en almal wat by hierdie produksie betrokke was. Ek beveel hierdie dramatiese, goed-gechoreografeerde nagmerrie aan vir enigiemand wat op 'n weeksoggend betower en getransponeer wil word na 'n magtige, bitter verlede en 'n koppige lap aarde. Enigiemand wat oorrompel wil word deur die oorlamse, aardse, verstommende uitdrukkingskrag van Afrikaans.

Klik hier en wen!
Klik hier en wen 12 maande af op jou huislening!




LitNet: 19 Mei 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.