Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Gevurkte tong skerp soos mes

Anna-Retha Bouwer

Schalk Schoombie se Gesplete Tong is vir die fynproewer van die teater wat op soek is na uitdaging, vernuwing en die verskuiwing van grense. Nie net is naaktheid op die verhoog seker steeds vir die gemiddelde teaterganger in Suid-Afrika onthutsend nie, maar die teks is vlymskerp ontwerp om jou ongemaklik te laat nadink oor die teater en hedendaagse vermaak. Dit dwing jou as vermaaklikheidsverbruiker om hand in eie boesem te steek — waar jy dalk ’n adder mag vind.

Schoombie het Gesplete Tong vir die eerste keer op vanjaar se KKNK planke toe gebring, waar dit ook op die kortlys vir die Nagtegaalprys was.

Dit is ’n stuk wat in meer as een opsig met ’n gesplete tong praat. Aan die een kant van die verhoog is Cleo (Rika Sennet) — middeljarige akrise wat op die vooraand van haar hertoetrede tot die verhoog as Shakespeare se Cleopatra haar lopende gedagtegang met ’n onsigbare joernalis deel. Aan die ander kant is die zef Gek (Gideon van Eeden) wat kitsroem wil verwerf deur kaal ’n tydperk van 30 dae met ’n klomp giftige slange in ’n glashok deur te bring. Ook hy voer ’n monoloog met ’n onsigbare persoon.

Die stuk het ’n vinnige pas en jou oë bly dartel van een karakter na die ander soos hulle met verstommende tydsberekening jou vasgenael hou. Cleo verteenwoordig die klassieke teater: die aktrise van vanmelee wat glo in stemoefening en die regte opleiding. Gek is die platvloerse china wat in een dag wil beroemd word met ’n waansinnige toer op realiteitstelevisie.

Die stuk lewer onmiskenbaar kommentaar op die hedendaagse vermaaklikheidswêreld waar gevestigde tradisie en teateropleiding by die venster uitgegooi word ter wille van die onmiddellike, “vlak” vermaak van realiteitstelevisie. Verskynsels soos Big Brother word deur tuisgehore verslind terwyl die teater leegloop, is van die bedekte kommentaar wat jy daarin kan lees.

Tog maak altwee vorme van vermaak aanspraak op hul bestaansreg deur Gesplete Tong se twee karakters. Cleo beroep haar op jare se ondervinding en klassieke opleiding, en Gek op die brei van sy liggaam met gewigte en min slaap, asook sy selfverklaarde slag met slange. Die karakters ontbloot ook eie onsekerhede en broosheid in die rede vir hul selfopgelegde foltering: sy om haar verhoogvrees te oorwin en te bewys dat sy nog kan toneel speel, hy om sy eenvoudige herkoms en verlede te besweer.

Die slangsimbool staan deurgaans sentraal. Beide karakters pleeg op die verhoog met slange selfmoord — Cleopatra laat haar deur giftige adders byt om haar lewe te beëindig in Shakespeare se stuk, en Gek se kitsloopbaan sterf saam met hom ’n vroeë dood wanneer die slange hom werklik pik.

Die slang roep al die oersimbole van boosheid en die dood op, asook die sondeval. Soos Adam en Eva teenoor mekaar gestel is deur die slang, word die twee geslagte weer hier teenoor mekaar geplaas — met die interessante verskil dat die vrou aantrek, maar die man uittrek voor hul konfrontasie met die adders.

Gesplete Tong is slim dekonstruksieteater wat deur jou gedagtes bly klief soos klein slangtongetjies lank nadat jy dit klaar gekyk het.

Dit is tot 9 Augustus in die Rendezvous Teater van die Staatsteater in Pretoria te sien en is slegs vir volwassenes.

Augustus 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.