Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Tagtigers-toergids verg fyn beplanning by Woordfees

Erns Grundling

Klik hier vir meer!

Almal weet teen dié tyd dat die Woordfees vanjaar fokus op die Tagtigers, en hierdie beweging vorm die spilpunt van hierdie jaar se feesprogram.

Om dit vir jou as feesganger makliker te maak, vestig hierdie artikel spesifiek die aandag op die ryke verskeidenheid produksies by vanjaar se fees wat uitdruklik oor die Tagtigers handel.

Daar is helaas 'n paar onvermydelike botsings, so trek lootjies, gooi die dolosse en kies jou vertonings met sorg. En moenie versuim nie: 'n onlangse besoek aan die Woordfees se kaartjiekantoor het my vermoedens bevestig dat laatslapers baie teleurgesteld by uitverkoopte sale sal moet wegdraai.

Hiermee dan 'n informele Tagtigers-toergids vir diegene wat graag spesifiek rondom die hooftema wil fees hou:

Reeds op Woensdag 9 Maart kan jy om 20:00 in die Konservatorium se Endlersaal jou Tagtigers-ervaring afskop met die vertoning Na die Rubicon. Dit sal die eerste keer wees dat Liedjieboer Anton Goosen en Jennifer Ferguson die verhoog deel en hul kragte saamspan - met Bheki Khosa op kitaar. Hierdie vertoning moet beslis nie misgeloop word nie! Kaartjies kos R65 per persoon en die vertoning duur 70 minute.

'n Dag later kan jy agter die kap van die Tagtiger-byl kom deur Elize Botha se lesing Was daar 'n Tagtiger-beweging? op Donderdag 10 Maart om 19:00 in die Konservatorium: Jannaschsaal by te woon. Botha is 'n bekende literator en was mederedakteur van Tydskrif vir Letterkunde in die Tagtigs. Kaartjies kos R20 per persoon en die lesing duur 60 minute.

Waarom dan nie sommer die volgende dag afskop met 'n propperse Tagtigers-ontbyt nie? Om 09:30 op Vrydag 11 Maart vind Brekfis met vier (ondersteun deur INSIG) plaas by die luukse wynplaas Delvera. Vir slegs R80 kry jy 'n heerlike ontbyt en kan jy kuier saam met André Letoit (Koos Kombuis), Etienne van Heerden, Daniel Hugo en Peter Snyders. Hierdie vier skrywers het in 1981 gedebuteer met die digbundel Brekfis met vier (Uitgewery Skoppensboer). Hulle sal tydens dié gesellige ontbytprogram staaltjies vertel oor hulle skrywersloopbane sedert hierdie geskiedkundige publikasie, wat vanjaar heruitgegee word deur Human & Rousseau. Die ontbyt vind ook op Sondag 13 Maart om 09:30 in dieselfde lokaal plaas. Kaartjies kos R80 per persoon en die program duur 150 minute.

Volg dan gerus die brekfis op met 'n ligte middagete rondom Dalene Matthee se oeuvre om 13:00 vind daar 'n fassinerende program plaas in die Neelsie Vroueverenigingsaal, waartydens verskeie sprekers sal fokus op die verskillende fasette van haar skryfwerk, haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde en haar bosfilosofie, wat die eerste keer in die tagtigerjare gepubliseer is. Die program word saamgestel deur Amanda Botha. Kaartjies kos R50 per persoon en die program duur 120 minute.

Die HB Thom Teater speel dieselfde aand om 19:00 gasheer vir Tagtigers (ondersteun deur Human & Rousseau en Tafelberg). Hierdie multimedia-produksie is 'n terugblik op die tyd van die grensoorlog, noodtoestand, Voëlvrybeweging en onluste. Hoe het Afrikaanse skrywers destyds op hierdie gegewens gereageer? Die Tagtigerskrywers André Letoit (Koos Kombuis), Etienne van Heerden, Jeanette Ferreira, Peter Snyders en Joan Hambidge sal aan die program deelneem. Johann Nel, Francois Toerien, Nicole Holm en die US-dramastudente sal die Tagtigers met kort dramatiserings en musiek verbeeld. Juanita Swanepoel is die regisseur. Kaartjies kos R40 per persoon en die program duur 90 minute.

Op Saterdag 12 Maart skop die Tagtigers-verrigtinge reeds om 10:00 af in die Ou Hoofgebou se JC de Wetsaal met die praatjie Little Magazines. Hierdie beweging gaan hand aan hand met die letterkunde van die tagtigerjare. Die kenners wat hieraan deelneem, is Louis Esterhuizen, Peter Snyders, Johann Lodewyk Marais, Ampie Coetzee en Dan Roodt. Kaartjies kos R20 per persoon en die praatjie duur 60 minute.

Hier raak keuses belangrik, want jy sal moet kies tussen Little Magazines en die toneelstuk Prinsloo versus, wat ook om 10:00 opgevoer word in die HB Thom Teater. Hierdie toneelstuk is geskryf deur Adriaan Meyer en is bekroon met die KKNK-Slurpieprys vir die beste werk deur 'n nuweling. Dit word in die feesprogram beskryf as 'n provokerende, teatrale ondersoek na die lewe, werk en wraak van die kontroversiële skrywer Koos Prinsloo. Kaartjies kos R50 per persoon en die vertoning duur 90 minute.

Vir diegene wat belangstel in die alternatiewe media in die tagtigerjare is die praatjie Hoofopskrifte om 12:00 in die Ou Hoofgebou: JC de Wetsaal beslis verpligtend. Die manier waarop feite voorgestel en gemanipuleer is tydens die Apartheidsjare val hier onder die soeklig. George Claassen, Hans Pienaar en Zubeida Jaffer is die sprekers, met Lizette Rabe as die gespreksleier. Kaartjies kos R20 per persoon en die program duur 60 minute.

Dan Roodt se optrede by vanjaar se Woorfdfees het reeds groot kontroversie ontlok. Hy gesels om 13:00 in die Protea Boekhuis met Johann Rossouw in die praatjie getiteld Van Chevrolet tot Moltrein. Roodt is reeds sedert die vroeë jare tagtig op die literêre toneel en sy debuut in 1980 met Sonneskyn en Chevrolet was opspraakwekkend. Sedertdien het hy 'n aktivis vir Afrikaner-regte geword en sy opinies word deur baie as uiters omstrede beskou. Toegang tot hierdie praatjie is gratis en dit duur 30 minute.

Teen 14:00 is dit weer tyd vir wik en weeg vir Tagtiger-fundi's, aangesien drie items op die program tegelykertyd plaasvind:

Tydens die praatjie Grensoorlog in die Ou Hoofgebou: JC de Wetsaal kom die impak van die destydse grensoorlog op die psige van ons jong mense en skrywers na vore. Die praatjie neem die vorm aan van voorlesings en 'n oop gesprek deur Alexander Strachan, Piet Haasbroek en Jeanette Ferreira. Ronel Foster tree op as gespreksleier. Kaartjies kos R20 per persoon en dit duur 60 minute.

Ook om 14:00 kom die toneelstuk Elke Boemelaar se Droom aan die beurt in die HB Thom Teater. Die toneelstuk is saamgestel uit Koos Kombuis (André Letoit) se songs, poësie, bevliegings en ander literêre jazz tot en met die laat 90's. Met Francois Toerien en Nicole Holm, en Juanita Swanepoel as regisseur. Kaartjies kos R50 per persoon en dit duur 75 minute.

'n Fassinerende praatjie - Drama in stryd - vind óók om 14:00 plaas in die Ou Hoofgebou: Kleinsaal. Die Swart Afrikaanse Gemeenskapstoneel in die tagtigerjare word hier onder die loep geneem, sowel as die bydrae daarvan tot die stryd teen Apartheid en die ontwikkeling van hierdie genre ná demokratisering. Julian Smith en Wium van Zyl lei die gesprek. Kaartjies kos R20 per persoon en dit duur 60 minute.

Jou Tagtigers-toer kan om 15:30 afgesluit word met Lovers and warriors by die Ou Hoofgebou: Kleinsaal. Vier digters gaan hier voorlees uit hul werk, gevolg deur 'n gesprek oor die rol van skrywers tydens die onstuimige tagtigs en hoe dit vandag daar uitsien. Hierdie geleentheid word gefasiliteer deur die Centre for the Book en volg op 'n soortgelyke geleentheid in die Baxter-teater in Kaapstad. Kaartjies kos R20 per persoon en dit duur 70 minute.

Moet ook nie vergeet van Landskap in transito nie, 'n kunsuitstalling in die US Kunsgalery wat skilders se reaksie op die sosiopolitieke gebeure van die Tagtigerjare uitbeeld. Die kurator van hierdie uitstalling is Amanda Botha en die uitstalling duur van 7 Maart tot 9 April.

Daar bly slegs drie woorde oor om te sê na aanleiding van die Woordfees se ryk verskeidenheid produksies rondom die tagtigerjare: Gee jou oor!



LitNet: 2 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie bydrae? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.