Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Binnemuurse “sport” verdien groter juigkommando’s

Ziegfried Ekron

Dinsdae en Donderdae om 20h30
On the Side by Kunstekaap
Kaartjieprys: R30
Webwerf: www.theatresports.co.za
Besprekings: Megan 4656691 of 083 4403961.

Al ooit gewonder wat het ’n wasmasjien, Marilyn Monroe, ’n gim-instrukteur en ’n sjokolade-tandeborsel gemeen? Jy’s reg: absoluut niks. Tensy jy natuurlik die spulletjie vir die Kaapse Theatresports-span gee om jou mee te vermaak.

Dié groep van vyf akteurs en ’n seremoniemeester laat gehore twee maal ’n week skater van die lag wanneer hulle impromptu-teater soos ’n geoliede masjien laat lyk. ’n Kaal verhoog, ’n klavier en ’n paar absurde voorstelle is al wat hulle nodig het om vir meer as ’n uur lank te vermaak. Hulle kan enige onmoontlike situasie binne ’n japtrap in ’n histeriese minikomedie omskep.

Die gehoor word vir voorstelle genader oor ’n fisiese omgewing, teaterstyl of iets dergeliks wat die akteurs dan in hul vertoning moet inkorporeer. Buiten vir dié voorstelle en aanmoediging hier en daar hoef teaterliefhebbers wat verkies om in die anonieme donkerte hul ongeloof ter syde te stel nie bekommerd te wees dat hulle te veel betrek word nie.

Hoewel Theatresports reeds ’n dekade lank in Suid-Afrika aan die gang is, is dit waarskynlik eers onlangs met die TV-weergawe Whose Line is it Anyway? dat die meeste mense daaraan blootgestel is.

Ironies genoeg skuif duisende Suid-Afrikaners Saterdagaande voor hul TV’s in om dié program te kyk, maar sukkel die Kaapse span soms om genoeg mense in die gehoor te kry om ’n vertoning die moeite werd te maak.

Die aand se vermaak bestaan uit ’n reeks speletjies wat uit ’n hoed getrek word. Tesame met die gehoor se voorstelle beteken dit die akteurs is dus heeltemal onvoorbereid op wat van hulle verwag gaan word.

Met die meeste speletjies word die groep in twee spanne verdeel en aan die einde van elke speletjie word punte deur beoordelaars (die gehoorlede) toegeken. Die vertonings van die akteurs wissel namate hul ervaring en vermoë om blitsig te dink op die proef gestel word. Nie almal is ewe knap nie, maar die ensemblespel werk goed. Daar kan selfs ’n paar verstommende sangstemme gehoor word.

In speletjies waar verskillende teater- of musiekstyle by die vertoning geïnkorporeer word, is dit duidelik dat daar beslis op meer as net lawwe kreatiwiteit gesteun word. Dis eers as die gehoor die kenmerke van die style gewaar dat hulle besef hoe fyn die span hul eie beroep dophou ten einde daarmee die draak te kan steek.

Theatresports is egter iets wat ’n mens liefs nie alleen moet aanpak nie, maar eerder saam met ’n groep goeie vriende of kollegas wat ewe geesdriftig met lawwe voorstelle vorendag kan kom.

Die vertonings vind elke Dinsdag- en Donderdagaand plaas by On the Side in die Kunstekaap-foyer, mits daar nie gala- of ander vertonings in die operahuis plaasvind nie. Die Intermezzo-restaurant en -kroeg is ook voor die tyd oop, sodat drankies gekoop kan word. Die normale reëls oor eet- en drinkgoed in die teater word in hierdie geval nie streng toegepas nie.

In die geheel bied Theatresports ’n aangename aandjie uit. Dis jammer dat dié ondernemingsgees nie beter ondersteun word nie.

Julie 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.