Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

So waai die wind ...

Jean Meiring

Dié naweek is die Kaap baie dinge. Of dit weer Hollands is, dít sou ’n mens nou nie wou sê nie. Wat wel seker is, is dat daar met en tussen die kunste feesgevier gaan word. En hoe! Soos hulle op poskaarte van eksotiese plekke skryf: Wens ek was daar ...

Die Burger-Suidoosterfees vind op Vrydag 3 en Saterdag 4 Oktober by die Skiereilandse Technikon (Pentech) in Bellville plaas.

Dié fees is nuut. Nie alleen is dit jonger as die ander groot feeste op die kringloop nie; dis ook anders omdat dit op ’n deel van Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap wat vir lank deur die hoofstroom afgeskeep is, fokus. En hoe verblydend om te sien dat die ongelykhede van die verlede vir ’n slag opbouend aangespreek word. Én met kenmerkend Kaapse humor.

En die fees is kompak: dit loop vir twee besige dae.

Die feesbestuur sê toegang by die ingang van die Pentech-kampus is gratis en parkering is volop. Produksies, sê hulle verder, is bekostigbaar en van topgehalte.

Laasgenoemde stukkie promosiekopie skyn waar te wees! Drama, komedie, sang, woordkuns en intellektuele pitkos (vernaam die Jakes Gerwel-Gesprekkereeks) is als op die spyskaart.


  • Toneel

    Van die produksies wat hoog op my prioriteitlys sou wees, is die briljante jong dramaturg Malan Steyn se stuk oor die skrywer Jan Rabie en sy kleurryke skilderwederhelf Marjorie Wallace, Jan en Jorie. Elders op OpStage skryf resensent Marina Griebenow dat die teks én regisseur Juanita Swanepoel se produksie werklik onvergeetlik is. Voorwaar sterk woorde van een van die Kaap se topresensente.

    Vir dié wat Adam Small se tydlose drama Kanna hy kô hystoe by vanjaar se KKNK misgeloop het, is hier wéér ’n kans om dit te sien. Vervaardiger Albert Maritz skryf dat dié stuk nooit sedert die eerste produksie in 1972 so eg aanklank vind soos met dié aanbieding nie. “Charlyn Wessels was toe ’n jong Makiet in Adam Small se produksie. Sedertdien het sy vir jare uitgewyk, oorsee studeer en op die West End gespeel. Nou, omring van een van die beste geselskappe nog, speel die oudaktivis, nou professor aan die UWK, weer Makiet — ’n eg klassieke aanslag wat die resensiegriffels sal laat papier opslurp van vreugde.”

    Sela, sê ek.

    Ook is daar die 2003 KKNK Kanna-wenkomedie Joe Barber, wat beloof om die byna oudwêreldse barbierwinkel behoorlik te laat lewe. Ek self ken net die Stellenbosse Gebroeders Ohlson van weleer; hulle was op hul stil, onteatrale manier onvergeetlik. Hoeveel te meer sal Barber en kie nie wees nie!

    Dan is daar die klugtige Maljan onder die Hoenders, waaroor Albert Maritz eweneens ’n stuiwer te deel het. Hy sê: “In 1972 is die spelers swartgesmeer. Onder die spelers was Yvonne Britz, die ma van die aktrise Susanne Beyers, en Dawie Maritz.” Die sukses van die stuk, sê hy, is so afgeëts in sy geheue (Dawie Maritz is sy pa) dat hy die stuk nou met professionele spelers op die planke bring.

    Die geselskap sluit die bekroonde Neels Coetzee in; hy’s omring deur van die Kaap se topspelers soos André Samuels en Euodia Samson.

    Dis ’n belewenis, sê hy, om André Samuels en spelers soos Irvine van der Merwe, wat ernstige rolle in Kanna vertolk, hiér in sulke klugtige werk te sien. Samuels is hier baie tuis as die regsverteenwoordiger van ’n Kaapse laventelhaan, Sampie Maljan. Van der Merwe is ’n beskonke getuie vir die klaagster, Saartjie Maljan (Euodia Samson).

    Dan is daar die satiriese eenvroustuk Miss Kwa Kwa, met Makgano Mamabolo, wat ook al op die KKNK ’n suksesvolle Kaapse draai gemaak het. Sy gee stellig nog vir “Miss [of is dit Ms?] Bapetikosweti” opdraande.

    Dans is dikwels ’n stiefkind by sulke paarties: Whirlwinds on the Flats met die puik en alombekende Free Flight Dance Company beloof om dié wanbalans reg te stel.

    En dan is daar die ou bekende in Kaapse toneelkringe, Peter Voges. Hy’s veral as pedagoog bemind; hiér’s hy self op die verhoog, met My Favourite Anties and Other Animals.

    Nog ’n baie spesiale produksie is Perlemoen, my Ghoen — ’n Perlemoenstorie, met Anthony Wilson as regisseur. Dit sal teatergangers met empatie en met ’n eerlike, dringende stem na die hartjie van die Hawston-gemeenskap neem. Daar is elders op OpStage heelwat te lees oor dié stuk. Ek sou my ortodontis-gedokterde oogtande gee om dit te kan sien.


  • Musiekteater en woordkuns

    Puik musiekproduksies is ook by die fees te sien en te hoor: Ooswes Tuisbes, Applauz, die musiekkomedie Baas en Klaas, en die KKNK-produksie 45°, wat stories so reg uit die hart van Oudtshoorn vertel.

    Ooswes Tuisbes is by Aardklop staande toegejuig. Dis ’n program van Adam Small se poësie, en is hoofsaaklik op gedigte uit sy digbundel Oos Wes Tuis Bes: Distrik Ses (1973), gebaseer, met toonsetting en sang deur Randall Wicomb, bygestaan deur Zenobia Kloppers, Jerick September en die 11-jarige kannetjie Sean Jacobs. Musiekverwerking is deur Bram Potgieter.

    Woordkuns is soms by kunstefeeste die agteros wat — sjym — nooit die kraal haal nie — of wel, maar eers as al die wetenskaplik aangedikte voer reeds vort is. Hiér lyk die spyse gesond. ’n ASV-potpourri van Kaapse Skrywers; Moer by: ’n Poësieprogram oor kos en Kadansas vanuit die Breede Vallei word al drie in die Skrywersaal aangebied, elk met bekendes uit die literêre wêreld agter die mikrofoon.


  • Musiek

    En vir dié wat effe wil toontjie stoot, is daar musiek sonder ophou. (Wel amper.) Kaapse tierelierders sal feesgangers vry en gratis in die RSG-tent vermaak. Daar’s Alban Petersen, Kaz Davids, Leanne Steenkamp, Met ’n Vleis, Pieter van der Westhuizen, Disturbance, Too Much, Volume 4, Eugenie Grobler, Emile Minnie, Aubry Viegeland, en die Sunshine Entertainers. ’n Plekkie dus vir baie in die Kaapse lenteson.

    Ook vir jou!

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.