Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wat's groter as Pieter-Dirk Uys?

Krisjan Fourie

Ek sal nooit my eerste betoging vergeet nie. In 1995, voor die SAUK, toe hulle Afrikaans van TV1 wou afhaal.

Dertig RAUkies voor die blou gebou in Artillerie-weg. Polisie, joernaliste en 'n opgewerkte oom van die kanaal.

Asook Tannie Evita.

Want watter ander T-hemp sal 'n student wil aantrek op so 'n groot dag? "Amandla Vrystaat!" Lekker in your face op daardie tyd. Vuis in die lug. Volksbesit.

'n Saadjie is daai dag in my brein geplant. Die saadjie van anders dink.

Terwyl ek na die Metropole Hotel stap, voel dit asof ek vir 'n ou vriend gaan kuier. Dis mos hoe mens voel as jy iemand goed ken. Al het ons nog mekaar nooit ontmoet nie.

Vir elke joernalis is daar 'n eerste keer. Ek gaan nie gou weer die kans kry om met 'n gees so groot te gesels nie. Sal moet mooi speel.

Ons het nie regtig gesels oor sy nuwe show, The End is Naai, wat tot middel Desember in die Baxter speel nie. Al die ander ouens gaan daaroor babbel, en ek's nie so seker of nog 'n resensie sy kaartjieverkope sal kan verbeter nie. Die saal sal in elk geval vol wees.

Sy boodskap aan die wêreld is groter as dit. Selfs groter as hyself. VIGS is die ding waaroor ek met hom wil praat.

"In die ou dae was die virus Apartheid. Vandag is dit Demokrasie," sê hy met die eerste sluk koffie.

"Ek het die afgelope vier jaar 'n miljoen jongmense by skole besoek. Ek noem die ding by die naam. It's about fucking. As die ouers en skoolhoof nie bereid is om dit reguit aan te spreek nie, moet ek dit doen. Twee derdes van mense met HIV is in Suider-Afrika. Die probleem is groot."

Toe hy 1 April 1981 (7 000 shows gelede) met Adapt or Dye vir die eerste keer op die verhoog geklim het, was die siekte nog nie daar nie. Hy het beslis nie toe besef dat dit sy grootste dryfkrag op die hoogtepunt van sy loopbaan sou word nie.

Gewoonlik as 'n kunstenaar cruising altitude bereik het, is dit net die lekker lewe. Nie vir hierdie kampvegter nie.

"Toe 'n joernalis my jare gelede op die spot sit deur te vra of ek gay is, het ek besef hierdie land het nog ver om te gaan. Ek sou 'n baie sterk teenfoeter moes kry om persepsies te verander. As jou slaapkamersake jou in die tronk kon laat beland, watter ander belangrike dinge sou nie geïgnoreer word nie?"

Gelukkig is talent groter as enige blinddoek, en oor die jare het hy (ongeag of hy om die beurt plase vol politici afgepis het) deel van ons land se geskiedenis, hede en toekoms geword.

"There is power in dark humour."

Ek is, soos baie, verslaaf aan sy skerp sin vir laterale denke. Wie kan vergeet hoe hy altyd na die verbode ANC verwys het deur van 'n CNA-pakkie in 'n spieël te praat?

En in sy jongste show trek hy die vergelyking tussen THABO en BOTHA deur net die letters om te skommel.

"Vandag is die siek grap van HIV en VIGS nie so snaaks nie. Humor is die wapen. Care is the cure."

Ongelukkig stel die Afrikaanse skole nie juis belang om vir Pieter-Dirk Uys kans op die kateder te gee nie. Hulle sê óf dadelik nee, óf kanselleer kort voor die tyd. Blykbaar is die aanslag te gewaagd. Blykbaar kry Afrikaanse kinders nie VIGS nie.

Hy doen ook al die werk gratis. Geen borge nie. Geen beheer deur enigiemand in 'n grys pak nie. Slegs 'n suiwer boodskap van survival.

"Jy is belangrik in Suid-Afrika. Dis tyd dat almal dit besef. Mense moet besef hierdie land is demokraties al tien jaar oud. Die fokus is nie meer op die kerk, of die Uniegebou nie. Eerder op sy mense. It's just a small prick that can mess it all up. Die epidemie gaan lei tot 'n ander tipe genocide, groter as wat die mensdom nog ooit gesien het."

Juis daarom het sy vertoning en karakters deur die jare moes groei en aanpas. Tannie Evita het verskuif van die ambassade na die kombuis. Sy doen nou die kookwerk buite die Boereworsgordyn. Bobotie gaan die barometer wees.

Hy vat volgende jaar sy show oorsee: Boston in Januarie, Australië in Maart, en Holland in Oktober. Intussen sal hy getrou deurvlieg om vir die kinders die waarheid te vertel.

Die teater in Darling, Evita se Perron, staan stewig op sy eie voete, en gaan aan met 'n paar exciting verrassings. Die onlangse Voorkamerfees was enig in sy soort. Agtien huise met lekker shows het die dorp aan die brand gehad.

'n Duidelike teken dat die teater se sukses na buite toe vloei.

Sy pad het hom al voor baie belangrike mense gehad.

"Toe ek 'n ruk terug voor Bill Clinton en Oprah Winfrey opgetree het, het Tannie Evita na haar swart kleinkinders verwys. Asook die feit dat sy hulle nie in die donker kan raaksien nie. Die twee was erg geskok. Dit was eers toe Madiba gelê het soos hy lag dat hulle besef het Suid-Afrikaners is anders."

Hy is ook groot vriende met Emma Thompson en Sophia Loren. Laasgenoemde het hy leer ken nadat hy 'n brief vir haar aan 'n lamppaal onder haar woonstel se venster gelos het. Deur die jare het dit in 'n diep verstandhouding verander.

"Ek sal aanhou doen wat ek doen, totdat selfs ons president hoor wat ek sê. Daar is eenvoudig net nie 'n ander manier nie."

Nog nooit was 'n onderhoud so gemaklik nie. Dis omdat Pieter-Dirk Uys so gemaklik is met homself.

Die diep deurdenkte kyk in sy vriendelike oë bly my by. Een wat wys dat hy al baie gesien het. Mooi én lelik.

Asook 'n ondeunde, stoute lag van 'n man wat presies weet waarom mense moet lag.





LitNet: 09 Desember 2004

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.