Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

k: ’n Emosionele reis sonder fieterjasies

Johan Pienaar

k. ’n toneelstuk met Trix Pienaar en Margit Meyer-Rödenbeck, teks deur Hennie van Greunen. Word ondersteun deur Rooibos Iced. Opgevoer by Klein Libertas-teater, Stellenbosch, op 26 Mei 2004.

'n Toneel uit kK staan in dié toneelstuk vir kanker, wat — soos die kankerlyer in die toneelstuk dit beskryf — nes Peter Marais is: “Elke keer as jy dink hy is weg dan pop hy weer op en elke keer is hy dikker.”

Hennie van Greunen se teks bewys weer eens dat hy ’n meesterlike eksponent van goeie middelmootteater is. Van Greunen gee ook nooit voor dat hy hom besig hou met enigiets anders nie. Hy skryf teater waarna gekyk kan word sonder om mense in teaters in te lok met goedkoop truuks soos kaaldansers. Veel eerder lok hy mense die teater in met goeie, emotiewe skryfwerk waarmee sy gehoor kan identifiseer. Hy dans op die koord tussen populistiese vermaak en ernstige temas, en nie net bly hy bo nie, maar hy slaag daarin om ’n beweging of twee uit te voer wat jou na jou asem laat snak.

k is so ’n beweging.

In wese handel die storie oor Karen (Margit Meyer-Rödenbeck) wat tyd afknyp om haar Ma (Trix Pienaar) te besoek wat sterwend aan kanker is.

Reeds vanaf die openingstoneel word die spanning tussen die twee karakters duidelik toegelig: Karen die pragmatis in konflik met haar eksentrieke ma. Karen koop boeke oor kanker en wil gou in haar drie weke verlof die kankerprobleem uitsorteer; haar ma, daarenteen, wil haar dood met humor benader.

Hierdie is nie twee mense wat met mekaar oor die weg kom nie. Om die waarheid te sê, die eerste kanker waarvan mens bewus word, is die kanker van die gesin. Die toneelstuk gebruik die maagkanker van die ma om die reis te illustreer waarin die partye met verskeie kankers in hulle lewe omgaan.

Die gevaar van die tema is dat dit so maklik in klatersentiment kan verval. k vermy dié slagyster. Goedgestileerde afwisselings tussen komiese, en by tye skreeusnaakse, oomblikke en die meer dramatiese verseker dat die toneelstuk nooit in stroperige sentimaliteit, ’n wroeging of ’n sitkom-mentaliteit verval nie.

Die galgehumor is smaakvol en mens lag in die stuk nie vir die kankerlyer nie, maar eerder vir ons eie broosheid as mense. Selfs die gebruik van Lesley-Rae Dowling se musiek is effektief en ondersteun die toneelstuk eerder as om dit te bederf.

In haar rol as die ma skitter Trix Pienaar. Sy oortuig ten volle as die effe eksentrieke karakter en slaag daarin om die gehoor mee te voer. Vir vele sal die verrassing Margit Meyer-Rödenbeck se vertoning wees. Meer bekend as Dowwe Dolla lewer sy in k die tipe vertoning wat bewys dat sy ’n formidabele multidimensionele aktrise is. Haar vertoning is geloofwaardig en vir my veral eg menslik.

k is beslis die moeite werd om te sien. Verwag ’n emosionele reis wat sonder fieterjasies net probeer om ’n storie te vertel wat ons almal ken. Die toneelstuk is weer te sien in die Centurion Teater op Saterdag 26 Junie vir ’n middag- en aandvertoning. Dit sal ook by die Volksblad-Kunstefees, die Kalfiefees, Klip-innie-bosfees en waarskynlik Aardklop opgevoer word.



LitNet: 28 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.