Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fugard stroop Huguenet

Charles J Fourie

Sean Taylor en Jason Ralph

Exits & Entrances met Sean Taylor en Jason Ralph.
Deur Athol Fugard.
Regisseur: Janice Honeyman
Sanlam-ateljee, Baxter-teaterkompleks

Die voltrekking van 'n genoeglike kreatiewe loopbaan in die toneelwêreld was nog altyd min kunstenaars beskore. Onder die kleurryke dekmantel van byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse toneelgeskiedenis was daar talle tragiese eindbestemmings gewees. In die meeste gevalle 'n loopbaan wat in die vergetelheid wegkwyn, amper soos dié van sommige politici.

Ander sou weer te vroeg 'n finale buiging neem, soos in die geval van die toneelpionier André Huguenet. Ironies genoeg is dit ons grootste lewende Suid-Afrikaanse dramaturg, en seker ons mees suksesvolle, Athol Fugard, wat op sy rype oudag besluit het om Huguenet se tragiese einde en sy eie jeugdige ontwaking as skrywer teenoor mekaar te stel.

André Huguenet se bydrae tot die Afrikaanse toneelgeskiedenis was al die onderwerp van twee ander geslaagde toneelproduksies op plaaslike bodem.

Regisseur Mavis Taylor het enkele jare gelede 'n produksie aangebied met Ralph Lawson, waar die verhouding tussen Huguenet en 'n jonger akteur in die gedaante van Johan Nel, treffend vertolk deur Johann Nel, 'n blywende indruk gelaat het.

Pieter Fourie se stuk Elke Duim 'n Koning, wat by die KKNK opgevoer is, met Gavin van den Berg wat kragtig gestalte gegee het aan Huguenet, gaan krap nog dieper in die hart en siel van die akteur as verkleurmannetjie, en ontbloot Huguenet as 'n tragiese karakter wat iewers langs die pad sy werklike self onder die kalklig verloor het … Of het hy? Is dit nie helaas die spel binne die spel van die akteur se psige wat van hom die klei van sy eie skeppende drang maak nie?

Athol Fugard kom staan met sy stuk Exits & Entrances nog nader aan Huguenet. Dit in die bevoorregte posisie van persoonlike kennis, maar ook as toeskouer van Huguenet se laaste dae op die verhoog. Die jong Fugard neem immers sy eerste tree as akteur op die verhoog naas Huguenet se vertolking van koning Oedipus.

Fugard se jong akteur droom daarvan om 'n dramaturg te word. Huguenet is op die kruin van sy loopbaan ten spyte van knaende armoede. Sy sensitiewe innerlike self, wat eens as Gerhardus Petrus Borstlap bekend gestaan het, dra nou moeisaam die masker van die Gróót Afrikaanse akteur.

Uit die staanspoor kontrasteer Fugard met deernis nie alleen die vader-figuur-mentor-verhouding tussen homself en Huguenet nie, maar ook die politieke ontwaking van die versetbeweging. Daar sal 'n tyd kom dat die heersende regime van die tyd op sy knieë gedwing sal word. Die gelyke vernuwing in die teater wat in dié tydperk ook sy aanvang neem, word slim betrek in die gesprek tussen hulle.

Wanneer die jong dramaturg egter jare later, afwagtend op die geboorte van sy dogter en op die rand van 'n deurbraak met sy loopbaan as dramaturg (The Blood Knot), na 'n produksie van Huguenet gaan kyk, vind hy 'n akteur en mens wat gestroop van alle illusie voor hom staan. Die toneel waar Huguenet as die kardinaal in The Prisoner die vloer van 'n tronk skrop, roep beelde op van Fugard se ander meesterstuk, The Island, en bevestig die postmoderne aanslag en outobiografiese verweefdheid van die teks.

Sean Taylor lewer die vertolking van sy loopbaan as Huguenet en verdien die staande ovasie tydens openingsgaand. Nie alleen bring hy nuanse aan 'n moeilike en uitmergelende rol nie, maar hy onderskraag vernuftig die talle maskers wat hy moet dra as homself, Huguenet, en die karakters wat Huguenet sou vertolk. Jason Ralph as die jong Fugard verras met sy spel en vat Fugard se eie mannerismes en aksent met 'n tong in die kies raak.

Soos die titel van die produksie aandui, word nie alleen die in- en uittrede van loopbane, politieke regimes en eras in die teater uitgebeeld nie, maar ook die veranderlikheid van die lewe self waaraan die mens onderworpe is; en soos Fugard dit stel: "Looking back, I realise that André's vision of theatre was ultimately too limited. It did not encompass all South Africans. The only way forward, then as now, is by inclusion; by having a vision that truly embraces our multicultural identity. A theatre for the Afrikaner was really not enough. It was not what South Africa needed then and not what it needs now."





LitNet: 29 November 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.