Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Talentvolle trio skitter

Marina Griebenow

Offbeat Broadway 3

Met Anton Luitingh, Lindy Abromowitz en Paul du Toit

Onder spelleiding van Blaise Koch

By die Theatre on the Bay, Kampsbaai. Tot 24 Mei.

Dis moeilik om die bekoring van Broadway presies vas te pen. Dalk is dit die gevoel wat jou beetpak as die rooi fluweelgordyn opgaan, die koperblasers opklink en die ligte op die verhoog aangaan. Of dalk is dit die wete dat die skynwêreld van eind goed, alles goed — aanloklik getooi in singbare wysies, verleidelike kostuums en blink liggies — jou sowat twee ure lank van jou eie saai bestaan gaan laat vergeet.

Feit bly, ’n mens kan Broadway op bykans enige manier opdis en jy is verseker van ’n treffer. Vra maar die lede van die Internasionale Ierse Dansgeselskap wat onlangs hier in die Moederstad die sale volgepak het met Spirit of Broadway, al was hul produksie op een of twee uitsonderings na nou nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Tradisionele aanbiedings van Broadway-treffers is goed en wel, maar dis darem lekker om ’n slag te sien hoe dié treffers in ’n ander konteks aangewend kan word om ’n vars perspektief te bied, veral as dit knap uitgevoer word. Offbeat Broadway 3 voldoen aan al dié vereistes!

Die uiters talentvolle drie stuks Anton Luitingh, Paul du Toit en Lindy Abromowitz kyk reeds sedert die jaar 2000 met hul jaarlikse produksies van Offbeat Broadwayop ’n vermaaklike en satiriese manier na die teater vanuit die oogpunt van die akteur, veral die jong, sukkelende akteur. Dít doen hulle met sodanige sukses dat Offbeat Broadway 2 vir vier Vita-pryse benoem is en hulle al tot in Londen vir vol sale gespeel het.

Die rede vir hul sukses is veelvoudig. Eerstens is daar die uitstekende rolverdeling. Luitingh, Abromowitz en Du Toit is al drie bedrewe sangers én akteurs. Luitingh, wat tans onder meer die rol vertolk van Munkustrap in die rondreisende produksie van Cats, se musikaliteit en veelsydigheid wat stemplasing en vertolking betref, getuig van oorbluffende talent. Boonop het hy die musiekverwerkings gedoen en behartig hy die klavierbegeleiding. Abromowitz het die perfekte stem vir musiekblyspele. Sy spog met ’n wye register en wissel gemaklik van een styl na ’n ander. Du Toit se grootste talent lê daarin dat hy alles moeiteloos laat voorkom. Hy is ’n puik akteur met ’n sterk, veelsydige sangstem. Sy aantreklike voorkoms maak hom ook ’n uiters geskikte romantiese held.

’n Mens kan nie nalaat om Blaise Koch se innoverende regie te noem nie. Veral die tweede helfte getuig van sy ervare hand. Die pas van die produksie is heerlik vinnig, rekwisiete word verbeeldingryk aangewend (die stoel wat so omtrent ’n lewe van sy eie kry), en hier en daar word min-gebruikte teatertegnieke ingespan om ’n punt tuis te bring, soos die gebruik van skaduspel vir die vertolking van “Two ladies” uit Cabaret. Ook Vigs-bewustheid bly nie agterweë nie en word op verrassende wyse uitgebeeld in “If they could see her through my eyes” uit dieselfde musiekblyspel.

’n Hoogtepunt is gewis “Disaster again”, ’n keurspel van oënskynlik onskuldige nommers wat só slim aangebied word dat dit ’n duidelik pasifistiese boodskap dra sonder dat ’n mens voel dié standpunt word aan jou opgedwing. Die woordspelings is in dié geval genoeg om ’n mens kliphard aan die dink te sit.

Die produksie is egter allermins swaar, want daar is geen heilige koeie nie. Niks en niemand word ontsien nie, nie eens die spelers of hul vervaardiger, Pieter Toerien, nie. Met behulp van Luitingh se briljante verwerkings van uittreksels uit bekende en minder bekende blyspele, aaneen geheg deur Du Toit se aweregse teks, dryf hulle fyn die spot en lewer hulle skerpsinnig sosiale kommentaar.

Hierin lê die bekoring van Broadway-musiekblyspele dalk juis, naamlik dat hulle só plooibaar is dat hulle in die hande van die regte groep kunstenaars jou oë kan oopmaak vir heeltemal ander lewensdimensies. Hierin slaag die talentvolle trio van Luitingh, Abromowitz en Du Toit by uitstek. ’n Mens hoop dus hulle word nie binnekort deur Broadway of die West End opgeraap nie. Want dan kry ons nie vir Offbeat Broadway 4 te sien nie!

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.