Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Moeilike onderwerpe maak emosioneel bevredigende teater

Janita Verster

Botspoppe
Regisseur: Albert Maritz
Teks en Musiek: Nico Burger
Karakters: Johann Nel en Floyed de Vaal
Viool: Lizbe Prinsloo
Enkele vertoning by Hoërskool DF Malan
Donderdag 7 Oktober 2004.

Botspoppe is een van daardie toneelstukke waarvan jy óf hou óf nie hou nie. Dié kabaret dek die laaste lewensuur van Basil, 'n witboordjie-dronklap wat homself in 'n Boeing 767 wakkerloop na 'n partytjie by die werk. Dis 11 September 2001 in die tweede World Trade Centre-toring, en hy weet hy gaan sterf. Met 'n gatsak-botteltjie Jack Daniels in sy hand tree die besope, onvervulde Basil in gesprek met sy alter ego.

Tussen dronkverdriet en gesprekke met homself deur probeer hy 'n paar dinge uitklaar voordat hy by die Poort te staan kom. Sy grootste bekommernis is dat Afval, sy bulhond, niemand het om vir hom te sorg nie. Hy besef dat sy mislukte huwelik met Gloria en sy traumatiese kinderdae nog nie tot 'n slotsom gekom het nie, en dat dit nou die tyd is om dié kwessies uit te sorteer.

Die wisselwerking tussen Basil (Johann Nel) en sy alter ego (Floyed de Vaal) is uitstekend, omdat hulle daarin slaag om mekaar te komplementeer. De Vaal sorg vir die ekstra bietjie humor waartoe Basil homself nie verleen nie. Die stuk is oorspronklik gespeel deur De Vaal en Neels Clasen, waar die interaksie tussen die twee karakters baie minder beweeglik en meer psigies gefokus was. Die geslaagde spel tussen die skadukarakter en die ware identiteit herinner soms aan die gesplete persoonlikheid van Gollum in The Lord of the Rings, hoewel dit waarskynlik die doodsengel is wat hom tot sy sinne moet bring voordat die toring ineenstort.

Die toneelspel word afgewissel en in- en uitgelei deur 'n skyfievertoning van foto's van 9/11 en botspoppe (crash-test dummies). Die fotografie van die botspoppe is treffend, aangesien dit die illusie skep dat die poppe werklike mense is wat in regte klere poseer. Die 9/11-foto's word strategies gebruik om die milieu te skets. Die tempo waarteen die foto's vertoon word, verseker ook dat 'n effektiewe klimaks bereik word.

Baie van die liedjies word begelei deur bandopnames, hoewel Lizbe Prinsloo baie bekwaam ekstra oemf gee met die viool. Nico Burger was verantwoordelik vir die teks en musiek. Alhoewel Nel 'n gesoute woordkunstenaar is en De Vaal 'n bewegingspesialis is, kwyt beide spelers hulle ook goed van hul sangtaak. De Vaal is egter die beste sanger van die twee, waarskynlik omdat hy amper drie keer jonger is as Nel.

Hoewel die produksie vanjaar 'n draai gemaak het by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn en in Otjiwarango (naby Windhoek), het dit nie geslaag om kykers te lok nie. Volgens De Vaal het Botspoppe swak gevaar weens swak mediadekking.

Botspoppe is vir dié wat nog nie moeg is vir stories wat op 9/11 gebaseer is nie. Die atmosfeer wat deur die karakters geskep word, sowel as die geprojekteerde foto's, is 'n afwisseling op ou stereotipiese dronkverdrietstories. Albert Maritz (Herman van Konings en Torings en regisseur van talle KKNK-produksies) bewys met Botspoppe dat hy moeilike onderwerpe soos 9/11 en die betekenis van 'n lewe in emosioneel bevredigende teater kan verander sonder om soetsappig te raak. Die onderwerp verseker egter dat slegs 'n sekere nisgroep by die stuk aanklank sal vind.



LitNet: 14 Oktober 2004

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.