Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Twee Kitare - Vier Snare

Jaco Botha


Wanneer mens aan Jannie du Toit dink, lei jou gedagtes nie outomaties na Die Dier in die Bybel, na die Bees van Babilon nie. Toe ek egter na die adres van Jannie se gastehuis, 6de Laan 66, Melville, op die uitnodiging kyk, wonder ek by myself of hierdie Afrikaanse minnesanger so onskuldig is as wat hy voorkom. En dit is dan juis die onskuld, die tydelike terugwen daarvan, wat ek tydens die musiekvertoning Twee Kitare - Vier Snare laas Saterdagaand by Jannie se gastehuis beleef het.

Jannie du Toit, Louis van Rensburg, Gert van Tonder en Johann Pheiffer is die “vier snare” wat op die verhoog verskyn nadat almal eers lekker gekuier het rondom ’n paar bottels wyn en Badia, ons gasvrou, se brijani.

Ek is onseker oor wat om te verwag, siende dat ek min Afrikaanse konserte bywoon, en vat nog ’n vinnige sluk wyn voordat ek myself regskuif vir die show. Ek het ’n ou maat van my saamgebring om te kom luister, maar dié se vrou is swanger, olik en klaerig en gevolglik is hy elke paar minute buite op die stoep besig met sy selfoon.

Gert en Johann het reeds in 1963, as voorlopers van Groep 2, die wêreld aan die brand begin sing. Gert was in daardie tyd betrokke by die Afrikaanse Radiodiens in Durban en dis juis toe wat hulle in hul program, Om die kampvuur, veral liedjies uit die FAK gesing het. “Die FAK is sekerlik die beste sangbundel ter wêreld,” bevestig Gert dan ook voordat hy wegval met “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei”. Maar wag, nie hy alleen nie - die ander drie snare en die ganse gehoor sing saam - “aaaa-ham”.

Ek dag eers dis ’n acid flashback, maar besef dan na ’n verdere liedjie of twee dat ek nie terug op skool, of in die Universiteit se Berg- en Toerklub langs ’n kampvuur sit nie. Ag, en wanneer ek omkyk, sien ek hoe my ou maat, met wie ek heel aand oor aandele en die mark gesels het, ook uit volle bors sing - sang is tog genesend. Dan ontspan ek ook met die mooi motto van Hewey Lewis in my agterkop: “It’s hip to be square.”

Jannie sing iets uit sy KKNK-program, en in die pragtige liedjie “Leeuspruit”, van sy nuutste album met dieselfde titel, som hy vir my, as siniese stedeling, die gees van die aand op: die smagting na ’n ouer, meer eenvoudige tyd; ’n tyd van botter op plaasbrood en swem in ’n plaasdam. So word ek dan ook saam met die res van die gehoor teruggeneem na daardie tyd en dit is ontstellend lekker.

“Voshaarnooi”, wat bekendheid verwerf het via die Afrikaanse dramareeks Ballade vir ’n Enkeling, word pragtig deur Louis van Rensburg gesing, en saam met nog ’n paar Boerneef-nommers en Louis se Afrikaanse blues uit die jare sewentig vorm dit vir my die hoogtepunt van die aand se program.

“Ons sing, ons speel, van die ou kraal wat ons nooit nie sal verveel,” sing ek steeds lustig saaam, tot by “jy’s rein soos ’n lentebloeisel, gekus deur die môredoue” … Selfs lank na my pel my verlaat het om op sy vrou se noodkrete te reageer en my alleen gelaat het met ’n vol bottel witwyn, sing ek nog.

Tydens die pouse kry ek ’n vriend van universiteitsdae op die gastehuis se voorstoep. Die gevoel van déjà-vu raak sterker. Ons gesels lekker en dan vertel hy my dat “ou Herkie”, ’n ander maat van ons, ’n maand terug in ’n motorongeluk dood is.

Die oorblywende deel van die program neurie ek bloot saam met ietwat meer liriese nommers. Ek besin oor die lewe, oor nostalgie en oor my eie sterflikheid en gaan piepie dan maar voordat ek regmaak om ook huiswaarts te keer.

Wanneer ek buite in die straat kom, voel als donker en nat. Dan ruik ek egter die houtvuur van iemand se kaggel en ek begin fluit; al teen die bult uit stap ek alleen, terwyl dit saggies om my reën.

* * *

Die Vier Snare-vertoning vorm deel van ’n suksesvolle reeks ete-en-konsertaande wat alreeds die afgelope jaar of wat by Die Agterplaas aangebied word.

Op 25 Maart hou Helenè Bester haar voorskou vir die KKNK hier by Die Agterplaas. Die vertoning begin om 19h00, aangesien dit ’n Donderdagaand is. Bring eie drankies. Daar sal nie ’n ete bedien word nie. Die vertoning, getiteld Tienteeneen, is ’n uur lank. Kaartjies kos R50. Besprekings by 072 216 3063 of 021-726 6969.

LitNet: 17 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.