Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

  • Die Taalsekretariaat
  • Doelstelling
  • Kortlys vir die SAVI Toekenning vir Voortreflike Vertaling bekend gemaak

    Die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut het vandag die kortlys bekend gemaak vir die Toekenning vir Voortreflike Vertaling wat hy onlangs ingestel het.

    Die Instituut het in Junie aangekondig dat hy die toekenning instel met die doel om die vertaling en publikasie van fiksie en nie-fiksie in die amptelike tale aan te moedig met die oog daarop om -

    1. die gehalte van sodanige vertalings te verhoog;
    2. veeltaligheid en veral die gebruik en ontwikkeling van die inheemse tale te bevorder;
    3. kruiskulturele begrip aan te moedig; en
    4. openbare bewustheid te kweek van vertalers se bydrae om die mense van Suid-Afrika te verenig.

    Die vertaalprys sal om die beurt vir fiksie en nie-fiksie toegeken word. Vanjaar sal ’n voortreflike vertaling van fiksie bekroon word.

    Dit is die eerste keer dat so ’n omvattende vertaalprys wat al die amptelike tale betrek in Suid-Afrika toegeken word. Danksy ’n besondere ruim skenking van die Billiton Ontwikkelingstrust en ook ondersteuning van Die Taalsekretariaat, ’n nie-regeringsliggaam wat hom vir die bevordering van die inheemse tale beywer, kan die SA Vertalersinstituut die grootste prysgeld nog vir vertaling in Suid-Afrika aanbied. Die wenner van die toekenning — wat by ’n bekroningsplegtigheid by die Aardklop-Kunstefees in Potchefstroom aangewys sal word — sal ’n volle R25 000 in prysgeld ontvang. Die toekenning sal heel gepas op Internasionale Vertalingsdag, wat wêreldwyd op 30 September gevier word, oorhandig word.

    Die reaksie op die toekenning was baie bemoedigend, veral omdat benoemings binne ses weke na die Instituut se aankondiging teen 31 Julie afgehandel moes word. Veertien benoemings is ontvang. Ses inskrywings is ontvang vir vertalings in Afrikaans en agt vir vertalings in Engels, maar die oorspronklike werke is in Nederlands, Xhosa, Venda, Zulu, Afrikaans en Engels. ’n Wye verskeidenheid genres — romans, digkuns, volksverhale en dramatekste — is verteenwoordig. Twee inskrywings is ontvang vir vertalings in Afrikaans en Engels van ’n roman in Xhosa, Ingqumbo Yeminyanya, geskryf deur mnr. AC Jordan, die bekende politikus dr. Pallo Jordan se vader. Die skrywer het self sy roman, met die hulp van sy vrou, Patricia, in Engels vertaal, The wrath of the ancestors. Die Afrikaanse vertaling, Die toorn van die voorvaders, is deur prof. Bertie Neethling, hoogleraar in Xhosa aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Die Venda-roman, A si Ene deur ES Madima is in Engels vertaal deur sy seun, Tenda. Nog ’n inskrywing wat kruiskulturele begrip aanmoedig, is ’n bundel inheemse volksverhale wat pas in Engels, Afrikaans en ook Nederlands deur JL van Schaik uitgegee is.

    Die volle lys benoemings is soos volg:

    • Leon de Kock vir sy vertaling van die Afrikaanse roman Triomf in Engels (SA en Britse weergawes) (Triomf)
    • Daniel Hugo vir sy vertaling van die Nederlandse roman Kartonnen dozen in Afrikaans (Kartondose)
    • Daniel Hugo vir sy vertaling van die Nederlandse roman De aanslag in Afrikaans (Die aanslag)
    • Daniel Hugo vir sy vertaling in Afrikaans van Onbegonnen werk, ’n bundel Nederlandse poësie deur Herman de Coninck (Liefde, miskien)
    • SJ Neethling vir sy vertaling van die Xhosaroman Ingqumbo Yeminyanya in Afrikaans (Die toorn van die voorvaders)
    • AC Jordan en P Jordan vir die vertaling van die Xhosaroman Ingqumbo Yeminyanya in Engels (The wrath of the ancestors)
    • Maren Bodenstein en Linda Rode vir die vertaling van ’n bundel jeugverhale I, a living arrow in Afrikaans (Ek, ’n lewende pyl)
    • Chris van Wyk vir sy vertaling van die Afrikaanse roman Vatmaar in Engels (A place called Vatmaar)
    • Rachélle Gauton vir haar vertaling van die Zulu-eenbedrywe Inkundlanye in Engels (One-act plays)
    • Alwyn Lubbe vir sy vertaling in Afrikaans van die versameling volksverhale Folk Tales of the Rainbow Nation (Volksverhale van die Reënboognasie)
    • Tenda Madima vir sy vertaling van die Vendaroman A si Ene in Engels (A victim of circumstances) (twee inskrywings)
    • Catherine Knox vir haar vertalings uit Afrikaans in Engels van verskeie romans (bv Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie, Etienne van Heerden se Casspirs en campari’s en Kikoejoe)
    • Malcolm Hacksley vir verskeie vertalings uit Afrikaans in Engels (bv Etienne van Heerden se Toorberg, GA Jooste se Blou sweet)

    Die drie inskrywings wat die kortlys haal, is Triomf - Marlene van Niekerk se roman wat in Engels vertaal is deur Leon de Kock, Die toorn van die voorvaders - AC Jordaan se klassieke Xhosa-roman, Ingqumbo Yeminyanya, van 1940 wat in Afrikaans vertaal is deur Bertie Neethling en A victim of circumstances - ES Madima se Venda-roman, A si Ene, wat in Engels vertaal is deur sy seun, Tenda Madima.

    Die beoordelingspaneel het die volgende kommentaar op hul keuse gelewer:

    Triomf
    Dié vertaling het wye belangstelling in die media uitgelok. Dit is innoverend en kreatief, en is in eie reg ’n literêre werk. Hierdie werk slaan ’n brug tussen uiters idiomatiese en Omgangsafrikaans en ewe kleurvolle en idiomatiese Suid-Afrikaanse Engels, en is ’n triomf van die kuns van vertaling.

    Die toorn van die voorvaders
    Wat die meeste beïndruk van hierdie inskrywing is die feit dat die oorspronklike Xhosaroman klaarblyklik sy tyd ver vooruit was ten opsigte van tema en struktuur. Benewens die feit dat die tema steeds aanklank vind by moderne Afrikaanssprekendes, slaag die vertaling oënskynlik daarin om lesers ’n interessante blik op die kultuur en leefwêreld van die Xhosa te bied — presies wat nodig is om begrip tussen swart en wit in ons land te bevorder. Die vertaling word beskou as ’n literêre werk in eie reg en lewer ’n uitmuntende bydrae tot die bevordering van veeltaligheid en die ontwikkeling van die inheemse tale van Suid-Afrika.

    A victim of circumstances
    Die vertaler se akkurate weerspieëling van die oorspronklike toon van hierdie roman het ’n baie beduidende rol gespeel by die beoordeling van die vertaling. Dit is baie belangrik om die stemming van die oorspronklike kreatiewe werk oor te dra wanneer daar vertaal word, en hierdie vertaling slaag uiters goed daarin om sowel kultuur- as taalhindernisse te oorbrug. Die vertaling van ’n werk van hierdie gehalte uit ’n relatief klein taal soos Venda lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die lewe van die taalgemeenskap van die oorspronklike teks en die taalgemeenskap van die vertaalde teks.

    Die beoordelingspaneel het kundiges op die gebied van vertaling, die linguistiek en die literatuurwetenskap ingesluit en het uit die volgende persone bestaan:

    1. Prof Annette Combrink, voorsitter van die SA Vertalersinstituut en direkteur van die Skool vir Tale en Kunste en ook vise-dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Potchefstroom. Prof Combrink is ’n gesoute vertaler en dosent in vertaalkunde. Sy is ook as die voorsitter van die beoordelingspaneel aangewys.
    2. Dr Alet Kruger, ’n lid van die Bestuur van die Vertalersinstituut en senior lektor in die Departement Linguistiek (Vertaalkunde) aan UNISA. Sy het pas haar doktorale studie in literêre vertaling afgehandel.
    3. Prof NS Zulu, die hoof van die Departement Afrikatale aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n skrywer in die Sotho- en Nguni-tale. Prof Zulu het pas die ALASA Toekenning vir Literêre Kritiek ontvang.
    4. Dr L Molefe, die hoof van die Departement Afrikatale aan Unisa en ook ’n skrywer in die Ngunitale.
    5. Mnr Ron Madiba, die hoof van die Venda-afdeling van die Departement Afrikatale aan Unisa en ’n taalkenner.

    Uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut.

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.