Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ons behoort redelik maklik by Uruguay verby te kom

Blou Bul Braampie

Die nuus uit die Springbokkamp het gemengde gevoelens by my ontlok. Die aanduidings is sterk dat die jong Jaque Fourie saam met De Wet Barry in die middelveld sal diens doen wanneer die Bokke Saterdag hulle Wêreldbekerveldtog teen Uruguay afskop. Teen die manne uit Suid-Amerika behoort die eksperiment te werk. Die verwagting is dat die voorspelers die oorhand sal hê, in welke geval die agterlyn die bal met vertroue behoort te dra.

Drie dinge pla egter.

Eerstens is dit geen geheim dat die Suid-Amerikaners hulle wedstryd rondom die Aguirre-broers beplan nie. Dis veral Diego Aguirre, op binnesenter, wat die spil is waarom Uruguay se aanvalle draai. Dit sal dus nie vreemd wees as De Wet Barry kort-kort vorentoe snel om vir Diego agter die voordeellyn om te dop nie. Hoewel hierdie ’n opwindende stukkie taktiek is, moet dit spaarsamig benut word, aangesien Barry die verdedigingspatroon versteur met sy strooptogte op die opponerende agterlyn. Sou Barry byvoorbeeld nie sy man plat trek nie, gaap daar twee aanvalsgeleenthede weerskante van hom vir die opponente. Dit is wel so dat daar meerdere kruisverdedigers op diens sal wees, maar ’n gaping bly ’n gaping. Ek verwag dat die Suid-Amerikaners, wat meesal op ’n dieet van sokker grootgeword het, goed sal pale toe skop en ’n voorliefde sal hê vir vleuels wat die bal met lugskoppe na die binneveld toe terugpos. Sulke skoppe sal die dekverdediging deeglik beproef.

My tweede bekommernis is dat Fourie verlede jaar met die Curriebeker-finaal onteenseglik bewys het dat sy temperament verdag is. Teen die ongeslypte Suid-Amerikaners kan sy onbetwiste flair van hom ’n held maak, maar teen die denkende Engelse kan dit ’n probleem raak as hy nie gou sy voete vind nie. Die Souties is meesters met sielkundige speletjies. Hulle mag dalk net daarin slaag om vir die jong Fourie ore aan te sit.

Vroeër die week was daar sterk aanduidings dat Werner Greeff saam met Barry in die middelveld teen die Engelse gaan opdraf. Dit is ook my voorkeurkombinasie. As ons afrigter, Rudolf Strooihalm, sulke planne het, sou dit wenslik gewees het om die twee reeds teen Uruguay die geleentheid te gee om te kombineer.

Oor onse kaptein Corné se uitlatings dat Martin Johnson een van die vuilste kapteins in wêreldrugby is, word blykbaar heelwat geskryf. Vir Johnson kan dit net ’n kompliment wees om so iets so kort voor ’n sleutelwedstryd te verneem. Rugby is immers nie tafeltennis nie. Dit is ’n lyfoorlog met intimidasie en “uitwissing” die hoofdoelwitte. Om te beweer dat Johnson vuil speel, is soos water op ’n eend se rug. Enige rugbyspeler wat in vandag se dae van hoë tegnologie nog regkry om vuil te speel, het die gevegskuns goed onder die knie. Dit sal Corné loon om nie by ’n woordestryd betrokke te raak nie. Dié tipe debat word in elk geval net deur die media gestook om een of meer sleutelspelers se aandag van ’n belangrike wedstryd af te trek.

Die weglating van Tappe Henning uit die Bokke se toergroep kan ook net ’n seën wees. Henning se sinistere reëlvertolkings in die Bokke se wedstryd teen die Cheetahs het min gedoen om sy saak te bevorder. In dié wedstryd het hy die Bokke met moord laat wegkom en die Cheetahs ongenadiglik gestraf. Wat hy daarmee probeer bereik het, weet niemand nie. Een ding wat nie twee is nie, is dat die Bokke voor die Engelse botsing sterk aandag aan die reëls sal moet gee. Gewoonte-oortreders soos Danie Rossouw, Bakkies Botha en Danie Coetzee sal moet ligloop. Corné sal ook moet waak teen lang vingers in die losskrums.

Die stadion waarin ons teen Uruguay en die Engelse kragte meet, het op die beeldmaterial nogal vreemd vertoon. Dit is een van die Aussie-rules-stadions wat net vir die Wêreldbeker afgestaan word. Ek hoop nie die ongewone atmosfeer knou die Bokke nie. Baie sal sê ’n rugbyveld is ’n rugbyveld, maar ek stem nie saam nie. Vir die manne van Uruguay, wat waarskynlik die meeste van hulle rugby op sokker- en polovelde gespeel het, behoort dit nie veel saak te maak nie, maar vir ons en die Souties kan dit lastig wees. Ek glo egter ons behoort redelik maklik by Uruguay verby te kom. Daarna lê die Engelse soos ’n berg voor ons.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.