Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Supertwaalf begin op ’n warm noot

Blou Bul Braampie

Die organiseerders van die Supertwaalf se strategie om elke jaar die kompetisie met ’n reeks plaaslike derbies te open, verseker dat die kompetisie van meet af groot belangstelling lok. Verlede jaar het die toetrede van Wendell Sailor tot die kompetisie die kollig gesteel. Toe die plaaslike gunstelinge, die Bulls en die Sharks, nog boonop op hulle tuisveld slae kry, was die gort gaar.

Die Bulls, wat vanjaar deur Rudi Joubert afgerig word, lyk na ’n gedugte kombinasie, maar in Bloemfontein kan enigiets gebeur. Menige belowende span het al hulle moses in die Rosestad teëgekom. Die Katte, wat vanjaar deur die Tong aangevoer word, moet op hulle tweede tuisveld die kortkopgunsteling wees. André Pretorius, wat tot onlangs toe deur baie as die belowendste losskakel in die wêreld beskou is, se seepbel is finaal op Twickenham geprik. Hy sal graag wil bewys dat die eina spelpeil wat hy sedert die Curriebeker-finaal gehandhaaf het, iets van die verlede is.

Big Joe, wat heelwat toekennings en eerbewyse vir sy vertonings van verlede jaar ontvang het, is ook al weer met sy een voet op die krukkelys. Indien hy wel speel, sal dit die Bulle loon om hom baie deeglik dop te hou. Die sewepunt-presentjies wat die Bulle in verlede jaar se reeks so mildelik aan opponente uitgedeel het, sal vanjaar ingekort moet word.

Die Tong is self hoogs gemotiveerd vanjaar. Dit lyk of hy en Tim Lane goed kliek. Dit kan baie doen om die Katte op die wenpad te hou. Kom ons wees eerlik: ’n fikse Skinstad is ’n riller vir enige opponentspan.

By die Bulle ploeg Joubert met geleende kallers. Die wat hy nie uit die stoet van Heynecke Meyer uit oorgeneem het nie, het hy elders aangeskaf. ’n Paar van verlede jaar se kampioenbulle het hy uit die trop uitgestoot. Die ongelukkigste van die groepie is sekerlik Wylie Human, wat die Bulle in die verlede met liggaam en gees gedien het. Wylie sou sekerlik nie hierdie nuwe stoet in die steek gelaat het nie. So ook nie Tiaan Joubert wat die spil was waarom die Bulle se Curriebeker-wenplan gedraai het nie.

Na ’n gure begin het Joubert ’n paar van sy vroeë foute reggestel. Joost is in beheer van die span geplaas en daar is drie goeie skrumskakels gekies. Met die kreatiewe spankeuse het Joubert die tonnelvisie afgeskud wat hom net na sy aanstelling geteister het. ’n Oorwinning in Bloemfontein sal die Bulle in staat stel om met punte in die sak te gaan toer — ’n gevoel wat tot dusver baie vreemd vir hulle was. Ek bly maar skrikkerig vir Louis Koen, wat nog nooit vir my na ’n eersterangse losskakel gelyk het nie. As koning Derrick gespeel het, was my hele salaris op die Bulle.

Op Nuweland is die Men in Black feitlik onoorwinbaar. Hulle span lyk selfs meer gebalanseerd as in die verlede. As sy goeie pak voorspelers nie te veel deur beserings geknou word nie, kan Gert Smal sy troepe deurvat na die semifinaal. Die ervaring van Pieter Rossouw en Robbie Fleck kan deurslaggewend wees in hulle aantog na die uitspeelwedstryde. Ek verwag ook dat die grootste choker in Suid-Afrikaanse rugby, Gaffie du Toit, vanjaar ’n gedaanteverwisseling gaan ondergaan en skielik as ’n wedstrydwenner gaan ontpop. Moenie sê ek het julle nie gesê nie.

Hoewel Kevin Putt se Sharks in die voorseisoen teleurgestel het, kan ’n mens hulle nie heeltemal afskryf nie. Die feit dat André Snyman op vleuel gaan uitdraf en Brent Russell op die reserwebank begin, is vir my ’n aanduiding dat Putt weet wat hy wil hê. Russell word myns insiens hopeloos oorskat. Hy mag glibberig op die aanval wees, maar sy verdediging is so verdag dat dit al sy goeie punte oorskadu.

Ek glo die Sharks gaan slae kry op Nuweland. Die nuwe kaptein van die Sharks, AJ Venter, is geneig om belangstelling te verloor as sy span agter raak. Venter, en sy nommer een koppesneller, Butch James, behoort die skeidsregter en die kameramanne op hulle tone te hou. ’n Verskeidenheid geel kaarte en selfs ’n rooie is ’n definitiewe moontlikheid.

Ek glo na die eerste paar rondtes van vanjaar se Supertwaalf-reeks sal plaaslike rugbykenners weet of spelers soos André Pretorius, Brent Russell en Chris Rossouw in die internasionale arena tuishoort. My gevoel is dat koning Derrick die man vir die toekoms is.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.