Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die wedstryd teen Samoa gaan op ’n slagting uitloop

Blou Bul Braampie

Die stryd teen Georgië was toe allesbehalwe ’n triomftog vir die Bokke. Die onindrukwekkende vertoning het sakke vol skietgoed gegee aan diegene wat van ons agbare Springbokafrigter, Rudolf Strooihalm, ontslae wil raak. Soos gewoonlik was Strooihalm se twee medekeurders so stil soos twee landmyne. Al die vurige kole vir die vrot spankeuses het vierkantig op Strooihalm se reusekop beland.

Die wedstryd teen Samoa gaan, soos ek verlede week voorspel het, op ’n slagting uitloop. Die beste raad wat enige ou vir Strooihalm kan gee, is om nie met ’n paar messe by ’n skietgeveg op te daag nie. Daardie bere van Samoa het die Ingelse vreesloos flou geduik en hulle sal sekerlik dieselfde met die Bokke probeer. Daarom moet Strooihalm ’n span kies wat nie sal skrik vir ’n straatgeveg nie. Aan die ander kant het die Samoane kwesbaar gelyk teen hoëspoedaanvalle. Die oplossing: kies die ysters voor en die spoedvrate agter.

Die meeste kenners kruisig vir Strooihalm omdat hy so met spankeuses rondval. Die kritiek is seker geregverdig, aangesien die hele rugbygemeenskap aan die suidpunt van Afrika al sedert Juniemaand sê Koen is nie die aangewese losskakel nie. Vir my is die wedstryde teen Samoa en die All Blacks twee afsonderlike veldslae wat elkeen eiesoortig hanteer moet word.

Teen Samoa sal ek dit sterk oorweeg om nie vir Hougaard te speel nie. Dit klink na kettery, maar vir my hang Strooihalm se toekoms as Springbokafrigter van Hougaard af. Ek sou dit net eenvoudig nie waag om die talentvolle Hougaard aan die gewelddadige bendedoodvatte van die Samoane bloot te stel nie. Voorts is ek seker die enigste ou in die land wat nie skytbang vir die Samoa-wedstryd is nie. Ek glo egter dat die Poms die Samoane kwaai uitgeput het en dat hulle bene teen die Bokke gou lam sal word.

Dit tel in ons guns dat Krige se manne goed uitgerus is. Die vertroue wat Strooihalm in sy Woensdagspan gehad het, gaan goeie dividende oplewer. Ek glo die uitgeruste Springbokspan gaan die Samoane ’n les leer.

Terug by die straatvegters wat die job vir ons moet doen. Ek sal Danie Rossouw op flank speel, met Big Joe op agtsteman. Juan Smit kan die laaste twintig minute speel as die damwal gebreek het. Ek sien Strooihalm wil die voorry verander, maar dit sal ’n fout wees. Die Bulls-voorry het die Ingelse hel gegee. Hulle kan ’n sleutelrol teen die Samoane sowel as die All Blacks speel.

Agterlangs kan Koen maar saam met Joost speel, met Werner Greeff langs Barry op senter. Dit is jammer dat Greeff nie goeie vorm het nie, maar ek sou hom steeds kies. Hy het die perfekte temperament vir die straatgeveg waarop die wedstryd afstuur. My vleuels is Ashwin Willemse en Jaque Fourie, met Jaco van der Westhuyzen op heelagter.

Die Bokke kan hulle maar klaarmaak op ’n groepsgeveg of twee. Dis hier waar ’n onverwagse rooi kaart die Bokke se doppie kan klink. Strooihalm sal dit by die spelers moet inskerp om hulle humeure te beteuel. As hulle dit kan regkry om nie terug te slaan nie, kan hulle ’n tros strafskoppe op ’n skinkbord verwag. Hierdie keer sal Koen nie mis nie, en al mis hy ook, kan Strooihalm vir Hougaard rustyd op die veld stuur. Teen daardie tyd behoort die humeure afgekoel te wees.

Ek glo bovermelde span het genoeg ysters om enige vorm van intimidasie hok te slaan. Sodra die Bokke die aanvanklike aanslag getrotseer het, kan hulle met gestruktureerde aanvalle begin. Deur goeie balretensie met geduld te kombineer, kan hulle geleidelik die Samoane se verdedigingspatrone versteur.

Ek voorspel dat die Bokke met minstens 15 punte gaan wen, mits hulle die westryd met 15 spelers voltooi.

Geluk aan Heyneke Meyer en die Bulle. Dit was sekerlik die beste vertoning van ’n Curriebekerspan die afgelope paar jaar. Hulle verdien om met hulle jongelinge die beker te wen, maar die Sharks bly die gunstelinge. Daar is geen plaasvervanger vir ondervinding nie.

Ten slotte, ’n woord van simpatie aan die Province supporters. In die woorde van Alan Toweel, die beroemde boksafrigter van weleer: “You wuz robbed.”

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.