Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Passie en lojaliteit kan nie gekoop word nie

Kaapse Kuifie

NET soos baie sektore van ons gemeenskap, is daar onder rugbyspelers te veel hensoppers en te min wenners. En is dit nie in hierdie konteks ironies dat die rugbyhensoppers juis uitwyk na Kakieland — Brittanje — in stede van om hier bietjie ruggraat te wys nie?

Die jongstes is Pieter Rossouw en Robbie Kempson, albei internasionale rugbyspelers, wat weens die “onsekerheid” oor hul toekoms hul rugbyloopbane by onderskeidelik London Irish en Ulster gaan voortsit. Hulle is suur omdat daar geen Springbokkontrakte vir hulle is nie, ondanks die feit dat albei in die verlede lojaal behandel is, ook terwyl hulle weens langermynbeserings nie kon speel nie.

Wat dit bewys, is iets wat ongelukkig deel van ons rugbyopset geword het, naamlik ’n gebrek aan murg, gees, lojaliteit en bereidwilligheid om ’n bietjie op te offer vir die nasionale span wat aan hulle groot rykdom en roem gegee het. Sonder die Springbokkleure agter hul name, sou die twee pypkannende lafaards se bedingingsmag met die oorsese spanne nie ’n kwart gewees het van wat dit skynbaar was nie.

Waarom nie bietjie vasbyt, inklim, uithelp in ons Jaar van Groot Rugbynood en sien wat hierdie seisoen gebeur nie? Nie een van die twee is afgeskryf nie. Wag en kyk wat gebeur. Of was hulle net nie meer so seker van hul vermoëns nie?

Die pad lê gesaai met sulke hensoppers: Gary Teichmann, Japie Mulder, Braam van Straaten en Francois Pienaar, om ’n paar te noem. Almal mense wat nog ’n bydrae kon gemaak het, maar die eerste moment toe dinge nie lekker lyk nie, oorsee geskiet het vir die Pond.

Dan is daar Joost “Vittone” van der Westhuizen. Toe hy weet hy’s oor die muur, wyk hy uit, en draai toe terug en hou vir SARVU gyselaar totdat Harry Viljoen daarvoor val om vir Joost ’n beter kontrak aan te bied. Nou sit hy vet gekontrakteer met die wete dat hy nie weer ’n Springbokwedstryd sal speel nie.

Hierdie gyselaarsmentaliteit gaan ons rugby nog groot skade berokken. Want om in hierdie sport te wen, gaan dit oor meer as geld en eie gerief. Dit gaan oor ’n passie en lojaliteit wat geen bedrag kan koop nie. Deur te weet die agterdeur van oorsese gerief is altyd oop, gaan baie spelers nog hul fokus laat verloor. En dreigemente van oorsee loop speel, gaan net verdere wrywing in rugbygeledere veroorsaak.

UIT vanjaar se Super 12, is dit vanselfsprekend dat slegs ’n paar Suid-Afrikaanse spelers in ’n Super 12 22-tal genoem kan word. Ek sou net een kies om in ’n Beste van die Kompetisiespan op te draf, en dit is die Stormer-senter Marius Joubert.

Marius besit daardie drie goed wat deesdae benodig word om ’n bogemiddelde internasionale rugbyspeler te wees, naamlike briljante vaardighede in sy posisie, kreatiwiteit en flair. Mens kan sommer styl ook bygooi. Met sy regop, grasieuse hardloopstyl, wil ek my verstout deur te sê dat hy mens baie herinner aan die briljante Franse-vleuel en latere senter, Emile N’Tamack. Watter chaos sou Joubert nie kon aanrig agter ’n Crusaders-pak en met George Gregan, Stephen Larkham en Pat Howard aan sy binnekant nie?

Die Bulle se Victor Matfield sou ook in my beginspan wees omdat hy fisieke dominasie met ’n liefde vir die bal beter kombineer as die Weigh-Less-geborgde slotte van Nieu-Seeland en Australië.

Anders as die hygende Kaapse media, wat tans byna so subjektief is soos hul noordelike broers in die Naas Botha-era was, sou ek nie vir Corné Krige speel nie. Hy mag sy spanmaats oortuig om, soos hy, hulself in al drie fases van harsingskudding in te duik en hy mag ’n besielde leier wees. George Smith (Brumbies) en Phil Waugh (Waratahs) is egter beter denkende spelers en ewe goeie baljagters.

En die titel vanjaar? Daar is net een span wat myns insiens die Crusaders kan omkrap, en dit is die onvoorspelbare Reds. As dit gebeur, maak reg vir die stryd van die jaar.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.