Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Supertwaalf-klagstaat is duidelik

Blou Bul Braampie

Die klagstaat is duidelik: geen Suid-Afrikaanse span kon nog die Supertwaalf wen nie en die reeks is in sy laaste jaar. So dis buig of bars vanjaar. Volgende jaar is daar veertien spanne en 'n nuwe stelsel.

Die Bulls se wedstryd teen die Cats Saterdag is geen gewone openingswedstryd vir die spanne nie. Die Bulls, wat saam met die Stormers die beroepswedders se gunstelinge is vir 'n plek in die semifinaal, moet besef dat 'n oorwinning teen die Cats broodnodig is as hulle enigsins 'n aanspraak op 'n plekkie in die uitspeelwedstryde wil hê. Vyf ligapunte is 'n moet vir 'n aanspraak op 'n semifinaal tuis. Verlede jaar het die Bulle juis in die openingswedstryd teen die Sharks gegly. Hulle trofeedrome is daardie dag al begrawe.

Die Cats is 'n katjie wat nie sonder handskoene aangepak kan word nie. Sy agterste driehoek bestaande uit Conrad Jantjes, Ashwin Willemse en Jaque Fourie kan giftig wees as hulle beweegruimte gegun word. Jantjes is soos Gaffie Du Toit, 'n vormspeler, wat óf briljant, óf pateties kan wees. Sy vorm hang weer letterlik net van sy bui af, asook van hoe die eerste paar minute verloop. Vang hy byvoorbeeld 'n hoë hangbal vroeg raak, kan sy selfvertroue die hoogte in skiet. Gebeur dit wel, kan hy sy opponente met daardie kanonvoet van hom verpes. Die omgekeerde is egter ook waar.

Fourie is op senter of vleuel 'n groot talent. Punt. Sy temperament het baie verbeter sedert hy in die 2002-Curriebekerfinaal daardie nagmerriewedstryd teen die Blou Bulle gehad het. Die Bulle se dekverdediging sal hom fyn moet dophou. Hy het die neiging om oor die veld te sweef en in die gapings op te duik. Ek beskou hom as die gevaarfaktor wat die Bulls se seisoen vroeg-vroeg kan bederf.

Sy vleuelmaat, Ashwin Willemse, is net so gevaarlik. Hy kom egter eers hierdie week van wittebrood af en behoort effe kalmer as gewoonlik te wees.

Voorlangs sal die Cats hulle hande vol hê met die Bulls se vaste vyf. Victor Matfield en Bakkies Botha sal sorg dat die enjinkamer van die Bulle deur al sy silinders gedryf word. Wanneer Bakkies die dag kook, is daar min spanne wat die Blou golf kan stuit. Die Cats se kaptein, Wickus van Heerden, het verlede jaar in die semifinaal van die Curriebeker sy rieme teen hierdie bedonnerde Bul styf geloop. Ek dink egter nie hy sal weer dieselfde foute maak nie.

Die Katte sal ongetwyfeld probeer om die Bulle se lynstane te ontwrig. Trevor Hall het juis in verlede jaar se semifinaal baie sukses in daardie faset teen die Bulls behaal. Ek glo hy sal weer hierdie takie op sy pligstaat opmerk.

Die stryd tussen die hakers sal iets besonders wees. Schalk Britz is deur baie kenners as die groot vonds van verlede jaar bestempel. Jake White het egter besluit dat die talentvolle speler nog ondervinding kort. Britz het die Bulls verlede jaar in die semifinaal met sy kraglopies geskok. Sy baard is nou harder en hy kan dit weer doen. Teenoor hom is Gary Botha - as hy speel - die arm man se Springbokhaker. Min rugbyliefhebbers kan verstaan hoekom Jake hom nog nie nader getrek het nie. Hy het verlede jaar 'n verblindende Supertwaalfreeks gehad. As hy fiks is, sal die Katte weet as hy eers aan die dryf gaan.

Op losskakel sal André Pretorius moet wys dat hy 'n wedstryd op die veld kan voltooi. Hy, sowel as sy opponent, Derick Hougaard, se skopskoene is giftig. Hougaard, wat die einde van verlede jaar skielik die teiken begin mis het, sal graag wil wys dat sy visier weer reg is. Benewens sy skopwerk sal Hougaard ook moet toon dat hy sy gevaarlike senterkombinasie kan wegstuur. Kry hy vir Bryan Habana en Ettienne Botha aan die hardloop, sal die Katte nie weet wat hulle getref het nie. Habana is die naaste aan die legendariese Danie Gerber wat ek nog gesien het. Onder Heyneke Meyer se rustige afrigtingshand verwag ek dat Habana oor die volgende twee jaar in 'n wêreldklas senter sal ontwikkel.

'n Voorspelling is moeilik. Die Katte het die uitgeslape Rassie Easmus om vir Chester met die pak by te staan. Die Bulle het egter die selfvertroue wat deur 'n Curriebekerdriekuns meegebring word. Ek kies die Bulle om met ses punte te wen, mits die meeste van hulle beseerdes reg is.

In die Kaap dink ek gaan daar vismeel van die Haaie gemaak word. Op papier lyk dit soos 'n visjagter wat 'n sardientjie met 'n pylgeweer gaan skiet. Sonder AJ Venter en Johan Muller is die Haaie se vaste vyf heeltemal te lig in die broek om die Stormers vas te hou, en met goeie besit gaan die Stormers amok maak. Ek kies die Stormers om met 15 punte te wen. Net trots en 'n vasberade skakelpaar kan die Haaie hier van 'n slagting red. Ek dink ook nie Schalk Burger gaan dié keer 'n geel kaart kry nie. Butch James se rooie lê egter en wag ... al is dit nou net vir sy vorige veroordelings.

Die vyf punte behoort die Stormers se moraal hoog te lig vir die wegwedstryde wat volg.



LitNet: 24 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.