Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Paniek in Bloubulland

Blou Bul Braampie

Die Bulle se vrotsige vertoning in die Vrystaat en die besering van Victor Matfield het tot groot paniek in Bloubulland gelei. Onbevestigde berigte dui daarop dat ’n reëlingskomitee reeds op die been gebring is vir Heynecke Meyer se “eviction party”.

Maak die Bloues dit nie Saterdag op Loftus nie, is ’n halfeindstryd neusie verby vir hulle en is Meyer se verbintenis met die span in die pylvak. Sy prestasiekontrak sê hy moet die halfeindstryd haal.

Meyer, wat graag sy mond in die media uitspoel, het hierdie week ontken dat die Bulle voorspelbare rugby speel. My mond het oopgehang toe ek dit lees. Die monotone lopies van Danie Coetzee om die lynstane en die verbeeldinglose spel van Anton Leonard om die skrums tel sekerlik onder die mees verbeeldinglose taktiese bewegings wat ooit op ’n Suid-Afrikaanse rugbyveld gesien is. Ek besef nou dat die Oudspelersvereniging van die Bulle reg was toe hulle vroeër die seisoen op die bedanking van Meyer aangedring het. Sy hulpafrigter, Mike Bailey, wat na die agterlyn omsien, moes lankal vervang gewees het. As ek die Bulle se bestuur was, het ek indringend na Danie Gerber en selfs Chris Grobler gekyk. Hulle verrig wonderwerke met die Pumas.

Die gebrek aan fokus by die Bulle het eintlik al geblyk toe die president van die Unie, Dolf van Huysteen, ’n bosberaad oor regstellende aksie aangebied het net voor die Bulle se belangrike wedstryd teen die Cheetahs. So ’n radikale gebrek aan fokus sou ’n mens nooit by prof Fritz Eloff en die ouergarde-bestuur aangetref het nie. Hierdie ouer garde sou nie weggedeins het van die uitdagings van regstellende aksie nie, maar hulle sou besef het dat daar ’n tyd en ’n plek is vir alles. Hoe meer ’n mens krities na die situasie in Bloubulland kyk, hoe meer besef ’n mens dat ’n grootskaalse herstrukturering nodig is.

Die totale aanslag teen die Bulle word selfs op die vlak van kommentators gevoer. Die patetiese Andy Capostagno se afkraking van die Bulle is hoogs onprofessioneel. Sy sinnelose gegiggel vir sy eie grappies oor die “commentator's curse” is uiters irriterend. Indien M-Net toelaat dat elke kommentator die spanne waarvan hy nie hou nie, afkraak, sal hulle binnekort ’n kommentatorsbabel op hande hê. Hoekom moet ons na ’n ou met ’n vreemde aksent luister wat dit in elk geval nie in sy eie land sal maak nie? Pos die heer Cuppacino en gee ons ’n professionele Suid-Afrikaanse kommentator. Daar is oorgenoeg goeie talent!

Die chaos rondom die tugverhore van André Venter en Robbie Fleck bewys weer eens dat professionaliteit in Suid-Afrikaanse rugby nie veel verder as die betaalstate van spelers en amptenare gevorder het nie. So ’n onbeholpe geskarrel het ek lank laas gesien. Dit is tyd dat SARFU sy huis in orde kry. Rian Oberholzer moet regstreeks die skuld kry vir hierdie onbevredigende situasie. Hy is tog verantwoordelik vir bestuursleiding.

Die onaantasbaarhied van die skeidsregters was ook weer in die kollig. Spelers en afrigters is met opgeskorte vonnisse gestraf oor grappies wat hulle oor die skeidsregters gemaak het. Die Broederskap van die Lang Tone het weer sy sin gekry. Die inkonsekwente reëltoepassing waarmee spelers weekliks moet saamleef, is ’n grap wat nie ’n verteller nodig het nie. Die beeldmateriaal is A-liga-komedie met die grensregters as byspelers. Waar SARFU aan die spul bysiendes kom, weet net hulle.

Ek sien Gert Smal oorweeg dit om losvoorspelers by ander provinsies te gaan leen vir die res van die Curriebekerseisoen. Ek hoop nie Dok Craven se gees moes hierdie belediging verduur nie. Is dit moontlik dat daar in die hele Westelike Provinsie nie meer een baljagter oor is nie?

My Kaapse pêl, Nico Jordaan, bel my ewe vrolik hierdie week na WP se pak slae verlede naweek. “Hoe's jy so opgewonde?” wil ek weet. “Nee,” giggel hy, “ek sien die Bulle wil vir Wayne Julies koop.”

“Daar is sulke gerugte,” bely ek.

“Wel, dan het julle werwingsagente hom baie lank laas sien speel. Sien, hy is stadig, oorgewig en feitlik voltyds beseer.” ’n Swanger stilte volg. “G'n wonder julle Bulle bly in die modder nie.”

Ek besef dat hy reg is. Nadat die Bulle die afgelope agt jaar etlike miljoene aan ontwikkelingsgeld bestee het, kon ons nie eers twee behoorlike kwotaspelers produseer om teen die Cheetahs uit te draf nie. Dit laat mens dink, nè.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.