SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Tweede verslag - SkryfNet VIII

Charl-Pierre Naudé

Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Cornel Judels
Madge du Preez
Ronel Scheffer
Jasper van Zyl
Riana Wiechers


Cornel Judels

1. Die gedig "die wegraping" is so te sê klaar geskryf. Ek het een voorbehoud: reël 11. Die digter het TE VEEL verander. Sy het die woord “gekry” vervang met “gehoor”. En dis reg so. Maar daar was niks met “die nuus” verkeerd nie, dit moet stet. Die reël moet dus lees: “….die nuus gehoor.”

Mooi, mooi gedig.

2. Die tweede gedig: "verlossing".

Die gedig is ook so te sê klaar. En ewe mooi.

Ek het ’n voorstel of twee.

Breek die strofe ná “onder” – dit verleen ’n navrante klem aan “onder” (soos in onder in die Boek van die Lewe ingeskryf). Bring ’n tweede dubbelpunt aan ná “GE-ARBORTEERDES”. Dit maak die betekenis duideliker; dat wat volg met die voorafgaande verband hou. Die koppelteken in “GE-ABORTEERDES” is streng gesproke nie grammatikaal nodig nie, maar dit moet hier bly – dis heel betekenisvol.


Madge du Preez

“Gemeng”

Die gedig is ook veel, veel beter – en vervat nou baie mooi momente. Ek hou ook van die afloop, die einde is samevattend en verrassend. Die fonetiese skryfwyse is bekoorlik.

Punte:
“days” (strofe 1, reël 3) hoef nie kursief te kom nie. “Sweet” wel, maar “sixteen” hoef nie kursief nie.

Ek verstaan nou wat “gebyt” beteken. Iets soos “geyk”? Maar is dit “gebyt” of “gebit”?

In strofe 2, “Cape Coloured” in hierdie tweede mention – kan dit nie foneties kom nie? Iets soos “Ka’laad”? Want dit verwys nie nou direk na hoe dit in die boekie staan nie, maar hoe die term leef in die verbeelding. Daar is ‘n mooi halfrym wat tot stand kom tussen “coloured” en “alles” (mooi!) – ek wonder of mens dit nie meer kan uitlig nie, ek hou van die ironiese implikasies van die rym tussen daai twee woorde. Dis werklik effektief.

Hierdie is ‘n eenvoudige (direkte) gedig, en hy is nou so te sê daar. Ek hou van die korter lengte – effektief!

“Distrik Ses”

Madge se gedig “Distrik Ses” het met spronge verbeter! Veral strofe drie is kostelik. Die fonetiese skryfwyse is beslis ’n fonds.

Nog voorstelle, puntsgewys:

Reël 4, strofe 1: die plasing van net is lomp, maar dis op my whitey oor. Moet dit nie wees: “net gevee …” nie?

Ek het steeds ‘n probleem met “gabom”. Dis net nie ’n mooi metafoor nie, MAAR as die uitdrukking wel op straat voorkom en die skrywer wil daarop sinspeel, dan is dit reg so.

Ek dink nie dis nodig om bulldozers (dit lees onmiddellik vir wat dit is, daar is nie verwarring nie) kursief te plaas nie, heritage wel.

Strofe 4: hier moet die skrywer nog aan werk. Dit bloot, dit wys nie. Gedigte moet wys. Dis ‘n goeie geleentheid om die gedig in die hede in te trek. Ek kan voorstel: werk met die idee van “ONS toekoms lê in die verlede” – want terug na Distrik Ses soos wat hy was, dit kan nooit meer nie. So iets …


Jasper van Zyl

Jasper se gedig “Spokejag” se titel is nou “waar ons speel by scylla of charipdis” – dit verwys na ’n metafoor uit die klassieke mitologie wat beteken iets soos “tussen die duiwel en die diep blou see”. Waarom nie net lg. reël in die titel gebruik nie? Ek lei egter af Jasper wil primitiwiteit, primordialiteit met sy titel suggereer, veral iets van ou geheue, maar pas op vir pretensie. Selfs Etienne Leroux het soms daarmee gestruikel. Maak seker oor die Afrikaanse spelswyse. Ek dink dit moet wees “Skulla en Garibdis”. Alternatiewelik, as hy die klassieke frase wil verwring om dit halwe eggo’s te maak, om dit meer subjektief te maak, iets wat mooi sal inpas by sy soort poësie, dan doen dit behoorlik, iets soos: “tussen scala en haaribkas”.

Die laaste deel van die eerste frase werk nou vir my. Maar kyk of dit nog méér kan verfyn. “Tronkok”? Spelfout, seker. Neem aan dis “tronkoe”. Eerder “beleerde” oë, dis meer beeldend en sê dieselfde, of meer.

Hierin skuil ’n toutologie: “met die klawers as agtergrondmusiek en jou stem”. Haal uit.
Ook in bg. reël: “klawers” is in die voorafgaande reël ook. Nee, omskryf die tweede verwysing. Waarom nie iets soos “toonlere” nie (meer dubbelsinnig)?

“Verskriklik” is ’n insinking, die eerste weergawe was beter.

Die gedig loop mooi tot ‘n slot. As Jasper iets kan doen met my huidige voorstelle het ons ’n enigmatiese uiting met ‘n sintuiglikheid wat heel selfstandig is binne die Afrikaanse poësie.

Die titel "iskariot is ek” het nou aanhalingstekens gekry ... Heit, hierdie Jasper is nie ’n jakkals wat hom sommer laat skiet nie.

Oukei:

Haal “soos” in die eerste reël uit, dan werk dit, want die twee goed wat met mekaar vergelyk word is te naby aan mekaar.

Ek merk iets in Jasper se gedigte waarvoor hy moet oppas – die avant garde neiging van die sestigers/beat poets in Amerika om duister, simboliesklinkende frases te gebruik in die hoop dat dit poësie sal wees. Pasop hiervoor. Dis infantiel. Maar, te oordeel aan Jasper se gedigte in Nuwe Stemme 3 is hy een van die min wat (soms) daarmee kan wegkom – juis omdat die duister eggo’s by hom plaasvind in die konteks van ’n soort kinderlikheid. ’n Wenk: werk eerder aan daardie “kinderlikheid” as aan die slimheid. Jasper se slimheid sal vir homself sorg, op die duur. (Sien bv. Ingrid Jonker.)

Die gedig "iskariot is ek" bevat werklik ’n besonderse enigma, maar dis nog te duister. Steeds kommunikeer dit nie die sleutels na behore, hoewel veel, veel beter as met die eerste weergawe.

As leser is my eerste sleutel afgelei uit die titel, verraad, of pseudo-verraad (weens die aanhalingstekens). Hierdie sleutel word weer opgeneem met die woord “quislings”, wat beteken ‘n verraaier wat heul met die vyand. Wie verraai wie, hier? Daar is wel twee domeine hier teenoor mekaar opgestel: see en land, en hulle wedywer oënskynlik met mekaar om die een of ander tussenstrook. Daai deel is heel suksesvol gedoen - maar dan versink die gedig bietjie. (En die werkwoord is “versink” hier, nie “sink” nie.)

Dis net nie duidelik wie die verraaier kan wees nie. Die mens, wat deel is van beide die land EN die see (in terme van ewolusie)? Waarskynlik. Maar die leser word met nog ‘n te vae gevoel gelaat of sy interpretasie kan dra, of nie.

Die lewende wese in die gedig word in dierlike terme beskryf, dis interessant. Verraai die dier die mens, of andersom? Of albei? Hierdie is ‘n tweede stel van twee domeine wat teenoor mekaar opgestel is: mens en dier. Dis ‘n komplekse gedig so die digter sal versigtig moet wees om nie sy leser te verloor nie, wat tans nog gebeur.

Iets kort nog iets om van die slyk sement te maak. Die betekenis vloei nog te veel. Dis nie dieselfde as veelsinnigheid, of “verborge betekenis” nie. Dit gaan ’n enkele, of twee, verstellings kos om van hierdie ’n heel goeie gedig te maak met ’n unieke eie stempel.


Riana Wiechers

“Jou kind”

Hierdie gedig vorder ook blêrrie oulik. Reël vyf laaste reël: MOET ’n beeld kry soos in die Jonkergedig. Verander na: “In die teaters van die sterwende hart.”
Reël 8: tweede “skreeu” is oorbodig.
Haal uit “en vrede”, dis oorbodig.

Strofe 3 reël 15: Nee, “bloei” saam met “lakens” klink soos menstruering (’n skrywer moet altyd die stupidgeid van die leser se verbeelding ook in ag neem, en om dit werk!). Eerder iets (MET ’n Jonker-eggo) soos: “waar sy lê met ’n pen/dolk deur die hart”. (Jonkerreël is mos “waar hy lê met ’n koeël deur sy kop”.)

Eerder “jammerklanke”.

Tweedelaaste reël van gedig: ruil “verskyn” en “verdwyn” se posisies om, dis sterker.

Gooi uit “in afwesigheid van weesheid” dis “gemaak” en oorbodig en belemmer die ontplooiing.

Derdelaaste reël: verwyder die spasies; dit maak die tegniek, spaarsamig gebruik, meer effektief in die daaropvolgende (tweedelaaste) reël.

Haal die koppelteken uit in “stuip inkrimpend”, dis oorbodig, behou as twee woorde.

Daar’s hy.


“Koejawels val van 'n boom op George”

Hierdie gedig het baie mooi uit die verf opgestaan. Vir my is dit DIE sukses van die tweede rondte. Die einde is nou veel sterker – en wat ’n mooi twee reëls - omdat die gedig self meer uitgebou is.

Voorstelle:
reël 1: “doodstil” moet in ‘n klemposie geplaas word, bv. “die naweek was doodstil” of “doodstil was die naweek”. Sodoende word die gevoelsleutel van die gedig duideliker gevestig deur middel van suggestie: die gedig gaan mos oor dood.

In “hoe jy daardie suur jaarliks tot soetheid sou bou” – “sou” het rymkwaliteit, maar dis nie so ’n goeie woord soos “kon” nie. Verander terug.

“eers inlê” toon hoe Riana met suggestie en allusie kan werk, want dit gaan hier oor die ouma wat in die grond te ruste gelê word (!)

"’n bergwind het die prentjies uit die boks laat dans" – die reël moet verander, dis geforseerd, veral "dans". Miskien "fladder".

Avbob eerder AVBOB, dit staan duideliker uit as akroniem. Kitsreël: as joernalistiek iets op ’n bepaalde manier doen, kan jy nie verkeerd gaan om dieselfde ding op ’n ander manier te doen in die poësie nie (ek sê dit as joernalis).

In “elke opkrulblokkie het my vrede vergeel my laat snak” – trek die verband tussen die geel van vergeelde foto’s en die geel van die geelperskes sterker. Dink mooi hieroor, dis ’n kardinale punt in jou gedig. Eerdeer “opkrulraampie”.

In “maar as ek skryf as ek skryf oor jou” gooi uit die tweede “as ek skryf” – dis onfunksioneel en kom hakkelend oor.

Een aspek wat ’n gedig-in-wording òf kan laat sink òf kan laat styg is of daardie gedig sy eie lengte (lees: vaart van ontplooiing) gevind het. Wat hierdie tweede weergawe van Riana bykry, is juis dit.

Gaan weer die gedig goed deur en kyk of jy ‘n woord hier of daar kan sny – jy loop met hierdie tweede weergawes effentjies die gevaar van te veel woorde.


Ronel Scheffer

“Elemente van Pyn”: Die gedigte het beslis gebaat by die interaksie, maar daar is na my gevoel steeds dowwe kolle, en as daardie kolle sterker uit die verf kom sal die skrywer dalk ook agterkom dat sy die gedigte effens kan verkort.

Bv.: “definisies wat die hart se rank knou” – die beeld van ’n hart en “rank” bots. Werk aan hierdie reël. “Definisies” kort beslis meer definisie in die poëtiese sin. Iets soos “ranke van die drif”, eerder.

Pasop vir onverwerkte eggo’s van ander digters, bv. “sluwe” (Breytenbach), hoewel dit hier wel kan deug omdat dit binne die beskrywing tog evokatief is.

Deurgaans is daar plekke wat by méér definisie kan deug. “Die lug verkleur” sê nie genoeg nie, dis die volgende reël waarop dit steun. Iets soos “die kimme rooidag” (met apologie aan Jonker), as ek ’n voorstel mag waag. Moenie my kritiek verkeerd verstaan nie. Ek dink daar is baie sjarme in Ronel se gedigte wat kan ontluik.

“etiket se verwonding in die sagte vleis”: “in” moet eerder “van” wees. Soms maak ‘n enkele verstelling dié verskil.

(iii) is baie mooi. Kry ’n ander woord vir “gesig”. Dit klink te veel soos “face” (Eng.) pleks van “image”. (iv) moet heeltemal uit.

“Slag die Patriargie af” – gooi weg “af”; oorbodig. Maar die titel is steeds nie evokatief nie - dit sê, en wys nie. Wat van: “Slag pale van die patriargie” (slag/pale - twee woorde)? Of: “Slag daardie pale” (net beter asb). Daar is ’n woordspeling met “geslag” (soos in gender, of geslagsdele) wat wil, uit die verf, miskien. Soms kan ’n plat (“bland”) titel soos Ronel hier het werk, maar nie híér nie. Daar is nie genoeg beelding in die gedig self om ’n teenvoeter daarvoor te wees nie.

“kondisies” is lelike op Afrikaans, nie in Engels nie. Eerder “toestande”. Die woord gooi vanself betekenisse uit vanuit sy samestelling, wat “kondisies” nie doen nie. Ronel se gedig werk juis met betekenis wat uit die gewone woord oopwaaier d.m.v. hoe sy die woord plaas, soos “mond uit in die sagste kelk”, ens.

eerder “die bande wat ek moet eer”.

Die tweede gedig, Man,” het met spronge verbeter. Ronel moet weer na al die verslae gaan kyk om te kyk of sy nog wenke kan gebruik. Soms neem dit tyd om ’n buiteleser na behore in te span.




Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Johann Lodewyk Marais se tweede verslag
Klik hier vir Charl-Pierre Naudé se eerste verslag
Klik hier vir Johann Lodewyk Marais se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees


LitNet: 06 Maart 2006

Wil jy reageer op SkryfNet VIII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.