SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Die Teken

Sonja du Plessis

Eers stofsuig ek die mat vir presies vyftien minute. Jaco is die tydhouer. Volgende begin ons die groen langhaarmat met ons vingers kam sodat elke gedeelte daarvan perfek in die rigting van die voordeur wys. Dit laat die mat donkerder en nuut lyk, en die hele huis lyk dan sommer netjies, het Ma al gesê.

Vandag begin hy regs bo, naby die platespeler en televisie. Ek begin links bo. Ons wil dit lekker vir Ma maak. Ons wil haar weer sien glimlag en sing en dans en die lag in haar stem hoor.

Thys se swaar, kwaai voetstappe val op die houtvloer in die gang en ek voel skielik benoud. Mens kan in sy voetstappe hoor as hy die dag moeilik is. Jaco hou sommer op met kam en sit regop. Ek wens ek het eerder ’n ouer suster gehad.

Hy gooi sy skooltas neer, leun met sy maer arm teen die muur en sê sarkasties: "Mooi, julle tweetjies. Julle spandeer weer die hele middag aan 'n matkammende gatkruipery. Ma sal dit nie eers agterkom nie. Pleks jy eerder 'n bietjie tyd aan jou huiswerk spandeer, Sandra. Of leer. As jy so aanhou, gaan jy standerd 3 pluk, watch wat ek jou sê."

Ek kyk na hom en sien 'n swerm bye wat vasgekoek oor sy gesig loop. Hy’s die aakligste mens wat ek ken. Hy gee niks vir haar om nie.

Dit word deesdae nogal moeilik om haar gelukkig te maak, maar ek dink ek weet hoe.

As ek dit kan regkry om presies halfagt by die voordeur uit te stap skool toe, en ek mis al die krake in die sypaadjie, en ek stap met my linkervoet eerste by die klasse in, en my tas val nie een keer om nie, en ek was die glase eerste en maak my kamer mooi skoon en kook voor sy by die huis kom, is Ma soms op sulke aande gelukkig. En soos nou in jakarandatyd help dit om op soveel moontlik vet pers bloeisels te trap sodat hulle pop.

Op haar gelukkige aande lag en dans sy soos sy gereeld gedoen het toe ek klein was. Dan sing sy liedjies van Joan Baez en ABBA en Billy Joel en swaai haar heupe asof sy op 'n verhoog voor tienduisend mense is. Glas wyn en Courtleigh in die hand, met 'n eierklitser vir 'n mikrofoon en die ingeduikte bruin bank as verhoog.

"Ek's nou moeg," sê Jaco temerig na ’n kort rukkie. Hy’s bang Thys kom skel weer. Hy sit op sy knieë voor 'n blokkie netjiese mathare so groot soos 'n skoendoos se deksel.

"Jinne, jy't skaars iets gedoen!" Ek’s dadelik kwaad. As hy eers so begin, gaan hy my heelmiddag irriteer. Ek weet dit so goed soos daglig. Daardie stemmetjie van hom maak my klaar. Dit lyk ook of hy enige oomblik in trane gaan uitbars.

Dit sal my eintlik help as hy nie vandag help nie. In so ’n bui is hy useless, en ek het soveel goed om nog klaar te maak voor Ma by die huis kom.

"Fine," sê ek en sit regop met gekruiste arms. “Moet net nie dink ek gaan jou smeek om my te help nie. Gaan speel by daai klein aap van ’n Nico, as dit vir jou so belangrik is. Jy’s anyway net ’n helse pyn as jy eers in daardie mood is. Onthou net, Ma gaan mý vermoor as jy nie voor vyf terug is nie. Ek het nie nog krag dáárvoor ook nie. Toe! Waarvoor wag jy? Scram!" Hy's lankal by die deur uit. Ek klink nes Ma.

Ek verwonder my aan die stofdeeltjies wat in die lug inskiet as ek my vingers deur die mathare trek. Hulle dryf stadig al hoër die lug in, warrel rond soos die wind wat liggies by die voordeur inwaai hulle in die rigting van die venster help. Dis lekker om vir sulke goed te kyk as iets jou pla. Ek moes nie so vieslik met Jaco gepraat het nie. Buite pak die wolke donker saam. Jaco beter net voor dit reën by die huis aankom. Hy is ook bang vir donderweer.

Ma kom sesuur by die huis, groet en sit die sak met melk, brood, sigarette en wyn met 'n sug op die eetkamertafel neer en skop haar nat rooi sandale uit. Sy lyk mooi in haar somersrok met die klein rooi blomme. Selfs met platgereënde hare lyk sy mooi. Die voordeur staan nog oop en buite val water raserig op die stoep uit die stukkende geut.

“Hemel, maar dis mislik buite. Waar's Jaco en Thys?"

"Thys was weer heeldag in sy kamer, en Jaco het by Nico gaan speel. Maar ek hét gesê hy moet voor vyfuur terug wees, belowe," sê ek vinnig. “Hy wag seker dat dit ophou reën voor hy terugkom.”

Sy bly stil en kyk na my. Dis ’n swart Ma-stilte. Rook gly in twee strale uit haar neus en styg later weer deurmekaar die lug in. Die sigaret tussen haar slanke vingers roer nie. Dit voel of sy dwarsdeur my kyk. “Jy’t hom weer verjaag, het jy nie?” Sy ken my te goed.

Ek bly stil en bid die mooi mat sal help om my te vergewe.

“Is Nico die outjie wat anderkant die grootpad bly?"

"Ek dink so."

Sy druk die sigaret dood, trek haar sandale aan en stap vinnig voordeur toe. “Jirre tog! Jy weet hy mag nie in die week gaan speel nie!” Ek hoor haar vier vinnige treë voordat sy die los houtteëls naby die voordeur raaktrap. “Jy moes hom nooit laat gaan het nie!” Dalk is dit die wind wat die deur met so ’n slag toewaai.

Skielik voel ek aaklig. My maag draai en die spoeg verdwyn uit my mond. Aaklige goed gebeur vandag. Ek het vanmiddag krake voor die Van Niekerks se huis op die sypaadjie raakgetrap. Hy't my gewys hoe hy sy kop se skaduwee raaktrap. Hy't gesê dit maak die pad korter. "Plaas jy eerder saamwerk met good luck-dinge. Die hemel weet alleen, ons het dit nodig," het ek gesê.

“Jy’s seker lekker mal om te dink ek sal soos jy hop, skip en jump al die pad huis toe," het hy kwaad geantwoord.

Dis toe ek ophou konsentreer het op die krake. Dis hoekom Jaco laat is en Ma kwaad is. Ek moes hom by die huis gehou het. Ek moes geweet het. Ek voel hoe die trane my gesig warm maak en langs my neus afdrup.

Ek sit op die bank voor die netjiese mat in die donker sitkamer en kyk hoe die weerlig blink, skewe strepe in die donker reën maak. Die reuk van nat grond en teer kom by die oop skuifdeur in terwyl die wind die dun gordyne liggies waai.

Thys skakel die lig aan en loop vaal kolle oor die netjiese mat terwyl hy ’n Marmite-toebroodjie in sy mond prop. Sy regtergroottoon skuur aan die lang hare van die mat. “Waddehel sit jy in die donker voor? Waar’s Ma?” vra hy met ’n vol mond.

Dis te laat om met hom oor die mat te baklei. ’n Netjiese mat gaan nie vanaand saak maak nie.

“Ma’s kwaad omdat ek vir Jaco laat gaan het. Sy’t hom al lankal gaan soek. Ek hoop net hulle’s okay. Ek’t ’n aaklige gevoel wat my maag laat draai en pyn. Maar ag, dalk’s dit niks.” Hy sal hom vrek lag as ek hom vertel van die krake wat ek raakgetrap het.

Hy hou vir ’n oomblik op kou, trek sy skouers op en sê: “Sy’t seker vir Jaco gaan haal en iewers aan die kuier gegaan. Vir die nerves. Jy ken haar mos teen dié tyd.”

Die aaklige gevoel word erger hoe later dit raak. My honger is saam met Ma by die deur uit. Die reën het weggewaai en ek besluit om buite te wag.

Op die rooigeverfde stoep en vaalbruin bakstene van die lae stoepmuurtjie raak my tone aan geen sement of krake nie. Dit voel asof iets my binnegoed vasgedraai het en elke geluid klink harder. Onder die jakarandaboom voor Mrs Koch se huis lê vars pers bloeisels en dit lyk of hulle beweeg as die takke se skaduwee onder die straatlig daaroor beweeg. Gerhard van langsaan speel Dixie’s Midnight Runners se Come on, Eileen en uit hulle sitkamer skyn die prentjies van die agtuurnuus op die toegetrekte beige gordyne.

Ek hoor ’n motor wat aangery kom en spring op, maar gaan sit toe ek sien dis nie my ma se voos motor nie. Dis ’n nuwe wit motor. Een wat nie rattle en raas nie. Een watse sitplekke sonder vlekke is en nie binne soos brakefluid ruik nie.

Die motor stop onder die straatlig en twee polisiemanne klim stadig uit. Die lange grawe in sy sak en sit 'n lekker in sy mond. Die korte skryf iets neer en skuif sy pet reg.

Die derde persoon is Ma se broer, oom Burt. Hulle sien my nie op die donker stoep nie. Die geroeste voorhekkie kraak oop en toe, en hulle stap met die stukkende paadjie langs die nat, blink viooltjies tot op die stoep. Niemand praat nie, en my hart klop só hard in my ore dat ek skaars hulle voetstappe kan hoor. Ek verstom my aan hulle blink skoene. Dit lyk of ligte daarin woon.

Hulle druk die deurknoppie en kyk verbaas om toe ek Oom Burt uit die donker groet.

“O, hallo, Sandra, ons het jou nie hier sien sit nie,” sê Oom Burt. Ek het hom nog nooit so klein sien lyk nie, sy skouers lyk vanaand krom. Die are op sy hande lyk soos ’n oumens s’n in die ganglig. Opgebult en blou.

Ek weet nie wat om verder vir hom te sê nie. My woorde is weg, want ek sien die trane wat in die donker kepe van sy gesig afloop. Ek wil opspring en weghardloop na 'n ander plek en tyd, maar my bene is te swaar.

"Is Thys hier?" vra hy terwyl hy in die gang afkyk. Hy vee oor sy gesig met sy bleek vingers. Hy klink verkouerig.

Thys kom in die gang afgestap. Hy trap op die los houtteëls waarop Ma vroeër getrap het. Dit klink soos haar haastige sandale en dit laat my yskoud voel.

“Hallo, Oom Burt,” sê hy en kyk na die polisiemanne.

Die polisiemanne staan op die klein stoep en kyk na mekaar en dan na ons. "Daar was 'n ongeluk," sê die lange met 'n sagte stem. Verder hoor ek niks. Behalwe die gesuis wat sy bewegende mond stilmaak. Dalk word ek doof. Ek kom agter ek bid dat sy vergeet het om vir Jaco te gaan haal. Iewers gaan kuier het en dronk op die pad gevang is, maar okay is.

Maar ek weet Oom Burt se trane sê niks van sulke goed nie. Ma is dood. Ek sien haar groot bruin oë met die klein swart spikkels daarin skielik voor my, en dan begin haar gesig stadigaan duideliker word. Eers haar mond, dan haar wange en nat hare. Soos die laaste keer wat ek haar gesien het. Sy lyk sagter as vanmiddag. Sy glimlag. Ek wens ek kan haar vashou. Ek wil en kan dit nie glo nie.

Thys staan doodstil met groot oë. Sy mond is klein, en hy’s bleker as ooit. Ek kry hom baie jammer.

Ek kyk op na Oom Burt, maar hy draai om en stap by die rooi trappe af. Sy skouers ruk en ek staan op en stap agter hom aan, draai hom aan sy skouer om en vra: "Lewe sy nog? Is sy okay?"

“Ja, Sandra, sy’s okay."

“Belowe?”

Hy knik sy kop, en kyk weg.

Ek kan sien hy lieg.

’n Week later staan ons langs Jaco se graf.

Die wind waai Thys se hempsmou liggies teen my skouer. Dit laat my beter voel, al kyk ons glad nie vir mekaar nie. Hy bly naby my staan, praat selfs mooi met my. Ek dink nie hy’s kwaad vir my nie. Hy weet net nog nie van die krake nie.

Ma staan oorkant ons. Sy kyk meestal af na die kis, so nou en dan na die dominee. Nooit na my nie. Sy lyk kleiner as gewoonlik in haar swart klere. Ek kyk vir haar swart hofskoene wat al vaal is van die stowwerige wind. In haar vuis is ’n wit sakdoek wat sy voor haar neus en mond hou. Haar skouers skud soos sy huil, terwyl sy Jaco se naam oor en oor met ’n sagte stem sê. Soos die woorde van ’n hartseer liedjie wat sy saggies vir haarself sing.

Trane stroom by my gesig af terwyl ek na Ma kyk. Ek huil meeste vir haar hartseer mond, wat deesdae lyk of sy haar pyn kan proe. Ek glo nie sy sal ooit weer daarmee wil sing of lag nie. Maak nie saak wat ek probeer doen nie. Vir haar oë wat nooit ophou huil nie, selfs al is hulle droog. Ek huil ook omdat ek sal moet ophou om na haar te kyk. Dit bring net vir haar bad luck.



LitNet: 17 Januarie 2006

Lees Sonja se eerste weergawe
Lees wat ons inwonende skrywer, Marita van der Vyver, te sê gehad het oor haar eerste weergawe
Lees wat ons inwonende skrywer, Ingrid Winterbach, te sê gehad het oor haar eerste weergawe

Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.