SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Die Teken

Sonja du Plessis

Eers stofsuig ek die mat vir presies vyftien minute. Jaco is die tydhouer. Volgende begin ons die groen langhaarmat met ons vingers kam sodat elke gedeelte daarvan perfek in die rigting van die voordeur wys. Dit laat die mat donkerder en nuut lyk, en die hele huis lyk dan sommer netjies, het Ma al gesê.

Vandag begin hy regs bo, naby die platespeler en televisie. Ek begin links bo. Ons wil dit lekker vir Ma maak, om haar weer te sien glimlag en sing en dans en die lag in haar stem te hoor.

Thys se swaar voetstappe val op die houtvloer. Hy gooi sy skooltas neer en sê sarkasties: "Mooi, suster. Jy spandeer al weer die hele middag aan 'n matkammery. Ma sal dit nie eers agterkom nie. Pleks jy eerder 'n bietjie tyd aan jou huiswerk spandeer. Of leer. As jy so aanhou, gaan jy standerd 3 pluk, watch wat ek jou sê."

Ek kyk na hom en sien 'n swerm bye wat vasgekoek oor sy gesig loop. Hy gee niks vir haar om nie.

Dit word deesdae nogal moeilik om haar gelukkig te maak, maar ek dink ek weet hoe.

As ek dit kan regkry om presies halfagt by die voordeur uit te stap skool toe, en ek mis al die krake in die pavement, en ek stap met my linkervoet eerste by die klasse in, en my tas val nie een keer om nie, en ek was die glase eerste en maak my kamer mooi skoon en kook voor sy by die huis kom, is Ma soms op sulke aande gelukkig. En soos nou in jakarandatyd help dit om op soveel moontlik vet pers bloeisels te trap sodat hulle pop.

Op haar gelukkige aande lag en dans sy soos sy gereeld gedoen het toe ek klein was. Dan sing sy liedjies van Joan Baez en ABBA en Billy Joel en swaai haar heupe asof sy op 'n verhoog voor tienduisend mense is. Glas wyn en sigaret in die hand, met 'n eierklitser vir 'n mikrofoon en die ingeduikte bruin bank as verhoog.

"Ek's nou moeg, Sandra," sê Jaco na tien minute se werk. Hy sit op sy knieë voor 'n blokkie netjiese mathare so groot soos 'n skoendoos.

"Jinne, jy't skaars iets gedoen, Jaco!"

"Maar dis warm. Ek wil eerder by Nico gaan swem. Asseblief!"

"Jy weet ons mag nie in die week gaan uitspeel nie."

"Ek moet nog vir Nico gaan groet. Ek't vanmiddag na skool vergeet en môre gaan hy kwaad wees."

"Fine," sê ek en sit regop met gekruiste arms. "As jy nie vir Ma gelukkig wil maak nie, gaan dan. Ek sal dit weer self doen. Onthou net, Ma gaan jou vermoor as jy nie voor vyf terug is nie. Moet dan net nie by my kom huil nie. Ek het nie nog krag dáárvoor ook nie." Hy's lankal by die deur uit. Ek klink nes Ma.

Ma kom sesuur by die huis in, groet en sit die sak met melk, brood, sigarette en wyn met 'n sug op die eetkamertafel neer en skop haar rooi sandale uit. Mens ruik haar parfuum op 'n myl.

"Waar's Jaco en Thys?"

"Thys is in sy kamer. En Jaco het by Nico gaan speel."

Sy bly stil. Dis 'n swart Ma-stilte. Sy's goed daarmee.

Sy kyk kwaai na my terwyl rook in twee strale uit haar neus gly. Die sigaret tussen haar vingers roer nie. Eintlik voel dit of sy dwarsdeur my kyk.

"Is Nico die outjie wat anderkant die grootpad bly?"

"Ek dink so."

Sy druk die sigaret dood, trek haar sandale aan en stap vinnig voordeur toe. Klik-klak maak die los houtteëls naby die voordeur.

"Jy moes hom by die huis gehou het!" hoor ek haar skeeu net voor die tuinhekkie toeklap.

Skielik voel ek aaklig en yskoud. My hande sweet en my hart klop in my ore. Ek moes geweet het. Ek het vanmiddag krake op die sypaadjie raakgetrap. Dis hoekom Jaco laat is en Ma kwaad is. Ek moes hom by die huis gehou het.

Hy't my gewys hoe hy sy kop se skaduwee raaktrap. Hy't gesê dit maak die pad korter. "Plaas jy eerder saamwerk met good luck-dinge. Die hemel weet alleen, ons het dit nodig," het ek gesê. "Jy's so kinderagtig. Nege jaar oud en jy speel nog trap-op-jou-skaduwee-speletjies."

"En jy stap en spring soos 'n dronk en mal mens op sypaadjies om krake te mis," het hy kwaad geantwoord.

Dis nou amper halfagt. Die donker het lankal in die stil sitkamer kom lê.

Op die vaal bruin bakstene van die lae muurtjie op die voorstoep raak my tone aan geen sement nie. Dit voel asof iets my binnegoed vasgedraai het. Elke geluid klink harder. Ek sweer ek sal 'n vliegtuig in Antarktika kan hoor opstyg.

Mrs Koch se hond blaf weer aanhoudend. Iemand gaan hom nog eendag vergiftig, sê Ma altyd. Die viooltjies blom langs die stukkende voetpad na die geroeste tuinhek. Gerhard van langsaan luister kliphard musiek. Dit ruik of hulle vanaand weer hoender eet.

Die volmaan skyn deur 'n gaping in die wolke en staar soos 'n blinde terwyl die res van die stad aangaan asof niks fout is nie.

'n Wit motor kom stadig aangery. Dank die hemel, hulle's terug! Ek spring op, maar gaan sit dadelik toe die motor onder die straatlig stop.

Dis nie Ma s'n nie. Hierdie een het drie passasiers en geen duike nie.

Twee polisiemanne klim stadig uit. Die lange grawe in sy sak en sit 'n lekker in sy mond. Die korte skryf iets neer en skuif sy pet reg.

Die derde persoon is Ma se broer, oom Burt. Ek dink nie hulle sien my op die donker stoep nie. Die geroeste voorhekkie kraak oop en toe, en hulle stap met die stukkende paadjie wat deur die ganglig verlig is tot op die stoep. Niemand praat nie. Ek verstom my aan hulle blink skoene. Dit lyk of ligte daarin woon.

Oom Burt groet. Ek probeer teruggroet. My woorde is weg, want ek sien sy trane. Ek wil opspring en weghardloop na 'n ander plek en tyd, maar my bene is te swaar.

"Is Thys hier?" vra hy terwyl hy in die gang afkyk. Asof hy soek na iets wat hy vergeet het.

Ek kom agter ek bid dat Ma in die tronk is. Dat sy net vergeet het om vir Jaco te gaan haal. Iewers gaan kuier het en dronk op die pad gevang is, maar okay is.

Die polisiemanne staan op die klein stoep en kyk ongemaklik na mekaar. Die ganglig van agter maak die korte se gesig donker, maar ek sien nog sy neus. Dit lyk of sy neus uit 'n swart gat groei. Van so naby ruik hulle uniforms na sigaretrook en skoenpolitoer.

"Daar was 'n ongeluk," sê die lange met 'n sagte stem. Verder hoor ek niks. Behalwe 'n gesuis. Dalk word ek doof.

Ma't seergekry. Ek kan dit nie lose nie. Nie nou nie. Sy gaan my nodig hê. Shit, ek het nog my skoolklere aan.

Ek kyk na oom Burt, maar hy draai om en stap by die rooi trappe af. Sy skouers ruk en ek stap agter hom aan, draai hom aan sy skouer om en vra: "Lewe sy nog? Is sy okay?"

"Ja."

Ek kan sien hy lieg.

'n Week later staan ek langs Jaco se graf met Wilson-toffies en kougom in my sweterige hande en wonder hoe ek dit vir hom kan gee sonder dat die mense sal dink ek's simpel. Ma staan oorkant my in ander mense se arms. Ek wonder of sy my ooit sal vergewe omdat ek hom laat gaan het.



LitNet: 01 November 2005

Lees Sonja se eerste weergawe
Lees wat ons inwonende skrywer, Marita van der Vyver, te sê gehad het oor haar eerste weergawe
Lees wat ons inwonende skrywer, Ingrid Winterbach, te sê gehad het oor haar eerste weergawe

Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.