SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Chinese Medicine

Liezel van Beek

Anton se kraag vat taai aan sy nek. Sy oë sukkel om te fokus. Daar was net tyd om sy gesig in die kombuiswasbak af te spoel en vir 'n vergete restaurant-peperment in sy sak te vroetel om sy asem te begrawe. Hy weet dat gisteraand se tequila en wie weet wat nog binnekort weer soos 'n slegte gewete sal deurslaan.

"Fok, wat het ek gedoen?" As hy tog net kon onthou wat die Chinese medicine was. Al wat hy duidelik van die vorige aand onthou is die beeld van sy eie wilde oë in die badkamerspieël.

Sy aktetas met die vliegtuigkaartjie lê nog net so op die agterste sitplek soos hy dit die vorige middag ná werk oorgeskuif het om vir Apple sitplek te maak. Hy moes geweet het waarin die één bier sou uitdraai. Hoekom het hy nie maar direk huistoe gegaan en vir sy voorlegging voorberei nie. "Just for a while - it's my birthday," het sy bly soebat. "Come on! And then you can meet Dave. He's also a teacher like me, you know. Maybe it will be good for you to meet some people."

Die verkeer kruip oor die agtlaan hoofweg tussen Hsinchu en Taipei. Anton se kop is 'n draaikolk herinneringe. Hy dink aan Apple met haar groot glimlag en die fyn handjie wat elke keer mond toe skiet as sy lag vir haar eie kinderagtige grappe. En haar gietswart hare wat soos kwik om haar kop beweeg as sy haar skraal skouers saam met die ritme van die sjinese popmusiek op sy motorradio wieg.

Anton moet skielik 'n galsmaak in sy slukderm terugdwing toe die beeld by hom opkom van haar oop mond, bevlek met… bloed? Het sy gelag of gehuil? Was haar oë bang of weer uitdagend? Hy kan nie onthou nie! Uit die mure het gesigte gebult wat met wrede s-vormige wenkbroue jouend en skertsend na hom gegryp het. Die vreemde mense in sy huis, almal met skrefiesoë, soos Apple, het dieselfde onverstaanbare frases in 'n staccato taal na hom gespoeg, en gelag as hy bedroef sy skouers vir hulle ophaal.

Die bande skree en die motor ruk wanneer Anton die rempedaal hard intrap om nie in die luukse toerbus voor hom vas te ry nie. "Jy moet begin konsentreer as jy lewendig vir jou laaste dag by die werk wil aankom," raas hy met homself.

Hulle eerste ontmoeting was ook maar vol rukke en stote. Letterlik. Die hoeveelste eensame Jack Daniels-op-ys het net-net begin vat aan die spier wat sy kop en sy nek verbind, toe die bottels bo die kroegtoonbank begin klingel en die musiek uitgedoof word deur die geraas van glase wat teen die vloer breek. Dit het 'n rukkie geneem voordat hy gesnap het dat hy seker maar die slang mense moet volg wat deur die nou uitgang na die straat beur.

Buite het die verstikkende somerbedompigheid dadelik in die plooie van sy nek kom lê. Toe voel hy dit vir die eerste keer. Dis nie hý wat duiselig is nie, dis die aarde wat onder hom beweeg.

"Fuck! That was a big one," sê iemand skuins agter hom met 'n sjinese aksent. "'n Aardbewing. Natuurlik!" snap hy dit vir die eerste keer self hardop. Toe hy omdraai smelt sy woorde weg saam met die skool Taiwanese wat gretig weer kroeg toe drentel. "Your first time?" kom 'n stem dié keer van skuins voor hom.

Daar staan sy, 'n kop en 'n half korter as hy, met oë wat skater agter slierte blink hare wat in ongelyke strome van haar kroontjie tot net onder haar skouers val. "Is it your first time?" vra sy weer. "I mean, your first earthquake in Taiwan?"

Voordat hy kan antwoord, lei sy hom geselsend aan die arm terug na 'n tafel in die hoek van die kroeg waar die skerwe van 'n bierbottel deur die kroegmeisie se besem misgekyk is. Met sy duim voel hy dat die vel in die mik langs sy ring deur die jare sag geword het. Anton huiwer vir 'n oomblik voordat hy ongemerk die ring afkarring en dit in sy broeksak laat afglip.

In Taipei staan die motors by die rooi verkeerslig soos beeste agterop 'n slaghuistrok. Tussenin beur ontelbare scooters deur die chaos om voor op die wa te wees wanneer die groene uiteindelik aanflits. Anton gebruik die kans om die padkaart te bestudeer om seker te maak dat hy nie weer verdwaal nie.

Ná die vierde verjaarsdagrondte tequilas wat Apple se nuwe Amerikaanse vriend, Dave, vir die geselskap koop, kan Anton dit nie meer hou nie. Die vent se gladde bek wat bombasties oor die hele kroeg stoomroller, raak net te veel. Maar veel erger as die Amerikaner nog, is Apple. Giggelend vir elke simpel aanmerking, haar lang bene al trippelend om hom in haar wynrooi stewels.

"I'm going home," verklaar hy toe die Amerikaner Apple se hand vat en dit palm na bo draai om kamstig haar lyne te lees. "We're all going with you!" Sy spring op, haak by hom in en vryf haar kop teen sy arm: "We won't stay long. Dave's got something naughty to smoke and maybe another surprise. And your place is perfect. Pretty please."

In sy woonstel word net die kombuislig aangeskakel sodat dit amper donker is in die sitkamer. Twee joints word gelyktydig in verskillende rigtings van die agtlid kring aangestuur sodat Anton op een slag twee moet aanvat.

Apple en die Amerikaner sit styf teen mekaar en is met iets intens delikaat op die koffietafel doenig. Dan stap sy deur 'n gordyn rook na hom toe, verdiep in die konsentrasie wat dit verg om die klein stukkie karton so groot soos 'n moesie op haar wysvinger te balanseer. "Here, swallow this. You can only find your way home once you've lost yourself," sê sy in 'n ritueelstem. Anton kyk op sy horlosie. Dis elfuur, darem nog lank voor môre. Dan steek hy sy tong uit sodat Apple haar vinger kantel en die offergawe daarop neersit.

'n Onbepaalde tyd later begin Anton 'n effense ongemaklikheid in sy gewrigte voel. En toe skielik gaan sy kop oop. Vroeër se dronk dofheid is weg en die donkerte se dimensies verdriedubbel elke paar oomblikke. Uit die kombuis skyn die lig soos die son van 'n ongekende sterrestelsel. Die silhoeëtte van die mense in sy woonstel lyk een oomblik soos die buitelyne van kinders en die volgende soos die skadus van monsters, kwynend agter die wierookspirale wat bo die koffietafel wriemel.

Apple plons uiteindelik langs hom op die rusbank neer: "So, how does it feel to have new eyes?" sê-vra Apple terwyl sy oor sy harige arm vryf. Die sensasie van haar vingers oor sy harigheid laat hom én haar skielik ril van 'n geamuseerde mengsel plesier en gril. Maar in 'n warrelwind fladder sy weer terug na die ander kant van die vertrek.

Anton wys sy parkeerkaart vir die masjien met die rooi oog, sodat die valhek oplig en hy kan deurry. Die atmosfeer buite staanplek nommer 893 is 'n morbiede kombinasie van kil en bedompig. Hy kam sy hare met sy vingers reg voordat hy die handsvatsel van sy aktetas styf vasgryp en uitklim. "Wish me luck!" sê hy vir homself in die deurspieëltjie. Sy oë lyk moeg.

Hy moet konsentreer op die voorlegging. Die spieël in die hysbak is gekraak en iemand se sigaretwalms verklap 'n onlangse teenwoordigheid. 'n Pyl van paniek skiet weer na sy hart toe hy dink aan daardie woedende oomblikke voordat die donker, geheuelose gat intree.

"Now let's see if you are enough of a tiger to handle a bit of Chinese medicine too," daag Apple vir die Amerikaner uit en sleep hom by die badkamer in. Anton verbeel hom sy lyf is warm kerswas wanneer hy hulle probeer agterna sit. Oppad verdwaal hy in 'n mallemeule hallusinasies en iewers in die agtergrond hoor hy die gebulk van 'n bees. Uiteindelik raak hy verstrengel in die speke van 'n pratende wiel terwyl hy probeer wegkruip vir 'n soldaat met 'n piesanggeweer. En tussendeur draai haar rooi gevlekte mond verby sy kop.

Hy hoor weer die gebulk. Totdat hy besef dat die bul binne hom is en besete die mure van sy binnegoed storm opsoek na 'n ontsnaproete.

Anton beur verby sy nagmerries en storm die badkamerdeur met sy skouer oop. "Nou het ek genoeg gehad," bulder hy vir sy eie gesig toe hy amper in die spieël vasloop. Hy kan die bul nie meer keer nie. Hy draai na Apple wat hom verskrik aanstaar.

Anton volg die massa mense oor die straat na die hoofkantore van SCT Asia, selfs al flits die mannetjie rooi. 'n Dogtertjie groet hom in haar beste Engelse "Hello, how are you?" en lag dan asof sy 'n grondboontjie vir 'n apie in die dieretuin aangegee het. Nog vyftien minute. Hy besluit om vir 'n oomblik buite te staan voordat hy ingaan.

Langs hom gorrel en proes 'n ou man en spoeg 'n bloedagtige blerts op die sypaadjie.

Bienglang. Die taxi bestuurder by die lughawe het destyds vir hom dié neut aangebied wat hom glo wakker sou laat voel. "Binglang. It help you get wake-up and strong," het hy met 'n vrot rooi mond in gebroke Engels probeer sê en vir hom die boksie met 'n foto van 'n halfkaal meisie daarop aangegee. Die soet reuk het hom effens naar gemaak, en hy het dit net onder die sitplek laat val.

Sy hart sink toe hy twee en twee bymekaar tel. Dank vader! Gisteraand se rooi was net bienglang.

Anton stap deur die outomatiese deur en meld homself by ontvangs aan. Anton glimlag vir die meisie en soek vir nog 'n peperment in sy sak. Terwyl hy wag dat sy 'n oproep maak, sien hy die handspieëltjie op haar lessenaar. Sy arm strek vanself uit om daaraan te raak. Dit is glad en koel, en wanneer hy sy hand wegvat bly sy vingerafdrukke daarop agter.

"Get out of my house! I'm going home tomorrow…"



LitNet: 06 September 2005

Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.