SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Eerste verslag - SkryfNet VI

Daniel Hugo

Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Cornelle Carstens
Ingrid Esterhuizen
Andries Samuel
Selwyn Milborrow
Lindy Worth


Andries Samuel

"adrenalien onderbewussein"

Van die drie afdelings waaruit hierdie gedig bestaan, is die derde vir my die oortuigendste. Dit gaan daar oor die adrenalien "rush" (opwelling) wat gepaard gaan met poëtiese inspirasie. Ek hou van die neologisme "longplotseling". Die gebruik van die adjektief "brak" as werkwoord is geslaagd (dit skep 'n assonans met "gebalk"). Die Engelse woord "sense" hinder my nogal, maar ek kan insien dat "sin" of "betekenis" nie sal werk nie. Die losstaande slotreël is oorbodig.

My grootste probleem met die eerste en tweede afdelings is dat die neologismes ("skewelvisie", "leppe", "lukleppe") vir my duister is en dat die sintaksis nie sin maak nie. Wat beteken: "en gerwe asem my indompel" (waarin?) en: "terwyl die rush / my beethet aan my dig" en: "terwyl sufsuisend masjinerie / reël en blêr en kabel"? Soos Boerneef sou gesê het: "Sy woordopaljas die laat my steier". Die frase "vaart ek vort" is wel nuut en treffend.

Naskrif: "onderbewussein" in die titel moet seker "onderbewussyn" wees?

"wat doen ons aan mekaar?"

Hierdie gedig is buitengewoon sterk en beeldend tot en met strofe 6. (Ek het besondere waardering vir die dubbelsinnige "ons … loods voorbehoedsaanvalle" in strofe 3.) Daarna word dit regstreeks belydend en 'n bietjie selfbejammerend. (In strofe 7 is die reël "ek beplan 'n trip die duid'likheid in" nog op die hoë standaard van die vorige ses strofes.)

Voorstel: Skrap die laaste ses strofes. Wat oorbly is 'n manjifieke vers.

Regstelling: "al twee" in strofe 4 moet een woord wees.


Cornelle Carstens

"Bevryding"

Hierdie gedig het my onmiddellik tussen die oë getref met die beeld vir die son in die tweede strofe: "die Johanna van Arkel / wat voordag soos 'n houtluis / uit die brandstapel gekruip het". Dit is gruwelik, maar goed! Ongelukkig raak die beeldspraak in dié strofe 'n bietjie verward. Ek verstaan dat die son "die vae fluistering van vuur" in 'n tonteldoos versteek het, maar hoe kan hy dieselfde doen met "die kroonjuwele van onsterflikheid"? Die banale voorstelling van die son wat soos 'n hoer straataf hardloop, word uiteraard gemotiveer deur die woord "profane" in die vorige strofe.

Eers het ek gedink dat die "draadkar" in die eerste strofe 'n anachronisme is binne die konteks van Moses en die brandende braambos. Toe daag die begrip: dit is 'n gedig oor masturbasie, oftewel draadtrek! En toe maak die kroonjuwele (=testikels) en die tonteldoos (=skrotum) ook skielik sin.

In strofe 3 word die orgasme en die verlies van ereksie beskryf. Die profanisering word voortgesit in "God se vinger lê in puin", wat die "godverlatenheid" van die openingsreël van die gedig oproep. (Die Vinger van God of Mukarob in die suide van Namibië het werklik 'n paar jaar gelede ineengestort.) En die beeld van die sonwyser (=penis) skakel weer met die vorige strofe.

Pompeï, "die bose stad gekrap uit die ashoop" (vgl. "Dennebol" van D.J. Opperman), is deur lawa in puin gelê, maar nie voordat daar eers heelwat "gepomp" is nie. Daardie kort en kragtige slotreël bevat dus 'n woordspel én 'n literêre verwysing. Dit wil gedoen wees!

"Sterfling"

Hierdie gedig wil waarskynlik die lewensloop van die mens, ons sterflinge, beskryf. Dit is 'n beeldryke, meevoerende vers met mitologiese verwysings en surrealistiese spronge. Plek-plek (strofe 5, byvoorbeeld) herinner dit my aan die fantasmagoriese voorstellings van Jeroen Bosch. Meer kan ek nie eintlik oor die gedig sê nie - ek is heeltemal te rasioneel ingestel vir hierdie soort poësie.

Naskrif: "napad" (in die slotreël) is volgens die WAT 'n kortpad, 'n uitdraaipad of 'n verlate pad.


Ingrid Esterhuizen

"Keerpunt"

Dié gedig is 'n goeie verwoording van 'n euforiese of epifaniese moment. Die kortheid van die vers hou verband met die vlugtigheid van die ervaring. Die sintuiglike skoonheid van die "hieraardse" - 'n geslaagde neologisme - lei tot 'n dieper insig: "hier is lewe binne die lewe". Die euforie van die moment word goed verbeeld deur die sinestetiese beskrywing in reël 4 (die sonlig wat geruik word). Die verskuilde rymwoorde "vries" (beginreël) en "kies" (slotreël) help bind die gedig tot 'n eenheid. (Bolanders sal die slotwoord "wees" as "wies" uitspreek - in so 'n geval het 'n mens dan vol eindrym!)

Regstellings:

  1. "die ruik" (reël 3) moet "die reuk" wees.
  2. "kornea" (reël 4) moet natuurlik "retina" wees.

"Ontmoeting"

Weer die beskrywing van 'n epifaniese moment - dié keer neem dit die vorm van 'n religieuse (mistieke) ervaring aan. Die gebroke sintaksis skep die indruk van 'n asemlose soort sinsverwarring.

Die elliptiese sinsbou skep 'n (bedoelde?) dubbelsinnigheid in strofe 2: die kerk én die "ek" kan "deur son en wind / blootgelê / bleekgebak" wees. Die meerduidigheid word dan vernuftig saamgetrek in die voorsetsel "vanuit". 'n Mens sou kon lees: "tot op die been / ontdaan / van skyn" of: "vanuit die skyn (=sonskyn) / instap". Die duiwe wat in die eerste strofe slegs indirek d.m.v. hulle skaduwees teenwoordig was, word in die slot 'n voelbare, hoewel mistieke, aanwesigheid: "en binne my / die roervlerk van 'n duif". Die duif funksioneer hier uiteraard as 'n simbool vir die Heilige Gees.

Ek lees hierdie gedig as 'n beaming van en uitbreiding op die volgende strofe uit N.P. van Wyk Louw se gedig "H.Petrus":

My land, my dor, verlate land:
íets wens olywe groei in jou:
dat alles klein, Latyns, gaan word
en kalk-wit kerkies bou.


Lindy Worth

"alternatiewe roete"

Ek hou van die volksliedjie-trant en Ingrid Jonker-klank van hierdie gedig. Die ontnugterde toon is ook tipies van Jonker. Daarmee wil ek glad nie sê dat ons hier met nabootsing of epigonisme te doen het nie. Die gebruik van Engelse woorde gee iets jeugdigs en "volks" aan hierdie teks, wat myns insiens vrá om getoonset te word.

Die enigste Engelse woord wat my pla is "lavender" in die voorlaaste strofe. Wat is verkeerd met "laventel" (dit het ook drie lettergrepe)? 'n Beter reëlverdeling vir dié strofe sou wees:

terug by jou huis
was die laventel vrek
die honde het bly
aan my hande bly lek

Die enkelreëlstrofe met die "smokey"-verwysing val buite die vers-opbou. Ek sou ook die derde reël van strofe 4 langer maak (ek dink nog steeds aan die toonsetbaarheid van die gedig). Wat van "en iewers, ja iewers / lê 'n muishond stink"?

"Via dolorosa"

Hierdie gedig handel oor 'n rooibok wat in die Bosveld geskiet word deur 'n jagter. Dit is nie duidelik wie aan die woord is nie. Is die "ek" die jagter self of 'n afstandelike waarnemer? Die hele gebeurtenis word dan allegories uitgebeeld in terme van Christus se kruisdood.

Teenoor die varsheid van die taalgebruik in "alternatiewe roete" val die swaarwigtige en oudmodiese woorde en frases in hierdie gedig op: "eens", "van onheil geen benul", "geborge", "beangs", "'n bede om genade", "bitter beker", "Dit ís volbring". En dit is juis daardie gewigtige allegoriese gegewe wat die digter hier laat ontspoor.

Hinderlik is ook die toutologiese stelwyse in die voorlaaste strofe: "houtskoolets … ets".

Eintlik oortuig net strofes 2 en 5 as poësie. Hierdie gedig kan gered word deur heeltemal weg te doen met die "Via dolorosa"-idee, en dit te herskryf as 'n impressionistiese natuurvers.


Selwyn Milborrow

"brief"

Ek hou van die helder en nugter stelwyse. Die gedig is goed gestruktureer en dit loop uit op 'n treffende slotstrofe.

In strofe 1 word die algemene stelling gemaak dat die spreker die skryfhandeling nog altyd as terapie beskou het. Dit skep die verwagting dat hierdie gedig oor een van daardie "geknoopte dinge" van die lewe sal gaan. In strofes 2 en 3 beskryf hy 'n liefdesverhouding waaruit die "ek" klaarblyklik meer troos geput het as die "jy" (Hy kan maar net oor haar gevoelens raai: "so moes jy seker voel".) In die laaste drie strofes word die onverwagse be-eindiging van die verhouding verwoord. Die "ek" is troosteloos, bedruk en gedisoriënteer.

Die volgende dinge pla my egter.

  1. In strofe 1 kom die metafore "uitvloei" en "geknoopte" nie uit dieselfde sematiese veld nie. Ek sou in plaas van "geknoopte" iets soos "gestolde" gebruik, omdat dit ook met vloeistof verband hou.
  2. Die herhaling van "genade" in strofes 3 en 4 is hinderlik. Ek stel voor dat "die genade van my hande" verander word tot "die streling van my hande". Op dié manier bly hierdie strofe konkreet en sintuiglik soos die voorafgaande een. Die woord "genade" is heeltemal in orde in kombinasie met die abstrakte "onbekende nag" van die volgende strofe. Verder is dit duidelik dat die "ek" die een is wat behoefte het aan genade, eerder as die "jy" van strofe 3.
  3. My grootste beswaar is teen die reël "in matelose ewigheid" (strofe 5). Dit is te hoogdrawend vir die sober toon van die res van die gedig. En dit klink argaïes. Verder kontrasteer dit te hewig met die verrassende, aardse slotstrofe. Die digter sal sekerlik iets meer gepas kan bedink.

"om huis toe te gaan"

Die helder segging van die vorige vers neig hier ongelukkig na eksplisietheid - daar word te veel gesê en te min gesuggereer. Die gedig kan baat by skrapping.

  1. In strofe 3 is die "helstryd" darem baie skril en oudmodies.
  2. Strofe 4 kan gerus weggelaat word, aangesien die "ek" se gevoelens nie werklik ter sake is nie - dit gaan tog oor die ervarings van die "pa". Of is dit die pa se gedagtes tydens die oorlog? Indien wel, is die Christusparallel wat geskep word - nogmaals - oudmodies en oordrewe.
  3. Ook strofe 8 kan geskrap word, omdat die voor-die-hand-liggende gesê word: "jou lewe is gespaar". Verder is "loutere vreugde" 'n cliché.
  4. Die slotstrofe is nie baie duidelik nie. Woon die pa in Aachen? Is dit dus die plek waar hy kinders op sy skoot tel en oorlogstories vertel? Of het hy net dié Duitse stad besoek en daar "hoog op 'n toring" herinneringe aan die Tweede Wêreldoorlog opgehaal? Met kinders op sy skoot?



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Joan Hambidge se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees


LitNet: 06 Junie 2005

Wil jy reageer op SkryfNet VI? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.