SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Eerste verslag - SkryfNet VI

Joan Hambidge

Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Cornelle Carstens
Ingrid Esterhuizen
Andries Samuel
Selwyn Milborrow
Lindy Worth


Andries Samuel

Hier vind ons iemand wat baie gedink het oor die lewe en digkuns, maar ongelukkig nog weifel om sy stem te vind. Ons vind clichés soos "yl gebalk/ skuimend soos 'n rivier".
       Die beelde maak dus nie oral sin nie.
       Wat beteken "ons plunder mekaar se harte / met veynig rooftogte die binnelande in"?
       En wat is verbar?
       Om dertigerwoorde soos siele en skroei te gebruik, klink ou-modies.
"wat doen ons aan mekaar?" is dus 'n mooi idee, maar in 'n outydse idioom geskryf.
       Duid'likheid oortuig ook nie.

Raad:

Vermy fasiele speletjies "onderbewussein" - dit is studentikoos.
       In "adrenalien onderbewussein" moet die rush wat my "beethet aan my dig" anders gestel word. Met ander woorde, jy moet 'n spasie laat om 'n soort dubbelsinnigheid te beklemtoon.
       Jy wil die rush van die digkuns uitbeeld, maar catch-22: die gedig mag nie afgejaag klink vir die leser nie! Hierdie gedig het moontlikhede, omdat die idee baie interessant is.
       Die tweede gedig "wat doen ons aan mekaar" is vir my minder oortuigend. Tog kan hierdie digter lekker beelde optower, soos die pragtige pendelpolitiek van die hart!
       Die slot is te tam en dertiger-retories. Onthou, 'n slot van 'n gedig moet alles wat vooraf gebeur saamvat en die leser as't ware uit die water blaas.
       Daar is baie moontlikhede vir hierdie digter.
       Gaan lees die gedigte van Breytenbach weer en kyk hoe hy dikwels die voor-logiese aspek van 'n beeld uitbuit en die bykans surrealistiese vir die leser oordra. In hierdie soort vers moet die abstraksie juis met die konkrete beeld verbind word.
       Met ander woorde, as jy die geliefde se blik wil beskryf of haar reaksie moet iets soos "onpeilbaar" vermy word. Nie alleen is dit 'n cliché nie, maar binne die gedig is dit 'n abstraksie. Soek met ander woorde konkrete beelde vir hierdie effek wat sy op die spreker het.


Cornelle Carstens

In 'n vers soos "Bevryding" besef die leser die beelde is nie genoegsaam uitgewerk nie.
       'n Soort poëtiese vernaamdoenery eerder as 'n gedig wat met min beelde iets oordra.
       In "Sterfling" wonder 'n mens wat beteken "kniehalter van die duisternis"?
       Hoekom windspelonke by die egbreuk uit?
       Hoe maak muf nes?
       Oppas vir 'n vers wat eindig op die ellips (…)

Raad:

My raad aan hierdie digter is om liewers een beeld uit te werk en die hele gedig daaromheen te bou. Anders skep dit beeldverwarring. As jy 'n beeld het wat nie in 'n vers inpas nie, hou dit vir 'n volgende gedig! Goeie beelde is dikwels "hand me downs" en kan elders ingepas word.
        Moenie gedigte skryf wat klink asof jy poësie met hoofletters skryf nie. Die gedig "Sterfling" moet minder dramaties klink vir die leser en 'n beeld soos "Want bieg slaan teen // die koepels van stomheid vas" is eenvoudig te swaarwigtig.
        Ek het nou onlangs weer die religieuse gedigte van Sheila Cussons gelees. Ek dink haar eiesoortige talent om die metafisiese telkens te verbind met die konkrete kan gerus bestudeer word. Trouens, juis omdat sy so imposant dig oor dit wat buite woorde bestaan, moet enige digter wat hierdie tema aanpak altyd na Cussons gaan vir raad. As 'n mens ook 'n beeld raaklees soos "ontbrande braambos" dan dink jy onvermydelik aan die versameling van religieuse verse in Afrikaans Die braambos brand.
        En as 'n mens die aangesprokene gelykstel aan Pompeï, is die vraag: watter aspek van hierdie stad? Want daar is bepaalde assosiasies en gaan lees Opperman se Dolosse.
       Kortom, so 'n beeld aktiveer 'n geskiedenis van soortgelyke beelde in die Afrikaanse digkuns.
        En vermy uitroepe in 'n vers. Die gedig "Sterfling" is myns insiens te prekerig; laat die beelde van die vers vir sigself praat. Die leser kan self besluit wat die gedig wil sê. Oppas ook vir onlogiese beelde: wat beteken "kniehalter van die duisternis"?
        En "wondspelonke laat hars drup // om die egbreuk van dag en nag // te verseël" is 'n voorbeeld van beeldinkongruensie. Hoe kom die eerste by die tweede beeld uit?
        Ek hou wel van die egbreuk van dag en nag, maar die eerste gedeelte van die beeld bots met die tweede gedeelte.


Ingrid Esterhuizen

"Keerpunt" is 'n mooi idee, maar die digter argumenteer te veel. Sy moet die gedig deur beelde laat praat vir die leser.
        "Ontmoeting" is al beter verdig deur Fanie Olivier, o.a. "tot op die been ontdaan van skyn" is ook te clichématig. Maak dit sterker vir die leser.

Raad:

Vir my gevoel is hier iets wat sluimer wat die digter nog nie heeltemal onder woorde gebring het nie. Gaan lees Antjie Krog se Mannin en Beminde Antarktika en probeer bepaal hoe sy die spel met lewensongeluk en die digterlike proses uitwerk. "Ontmoeting" is al in die sewentigerjare deur Fanie Olivier en Marlise Joubert in meer geslaagde gedigte uitgewerk en beeldend beter beskryf. Gaan lees hulle gedigte en probeer uitvind waarom hulle gedigte onthoubaar is.
        En moenie vir die leser vertel jy wil gelukkig wees nie: die gedig moet dit beeldend vir die leser doen.


Lindy Worth

"alternatiewe roete" is soos die roete suggereer 'n anderse blik. 'n Mooi slot!
        Met "via dolorosa" staan die digter voor 'n krisispad: dalk moet die Bybelse gegewe anders aangepak word?

Raad:

Hierdie is 'n soort praatvers wat mooi oomblikke openbaar. Die enigste gevaar van hierdie soort gedig is dat dit dikwels met 'n eerste lees uitgelees word. So maak die beelde 'n bietjie meer "duister" en neem jou leser na 'n afdraaipad!
        "Via dolorosa" kan myns insiens slaag as dit heeltemal herskryf word, met ander woorde, as die digter weer teruggaan na die "drawing board" en die gedig "sagter" maak.
        Gaan lees eweneens die gedigte van Sheila Cussons en meer spesifiek die religieuse verse. Laat die gedig vir sigself praat. Jy moet genoeg vertroue hê in die beeld. Die digter moenie 'n souffleuse wees wat vir die leser fluister wat hy of sy behoort raak te sien nie.


Selwyn Milborrow

Is die herhaling van genade nodig in die gedig "brief"?
        Wat beteken "genade van my hande"?
        "om huis toe te gaan" mooi idees.
        "helstryd" moet eerder "hellestryd" wees.

Raad:

Hierdie gedigte word ondermyn deur 'n soort idee van hoe 'n gedig behoort te klink. Die verhewe beeld onder andere, moet vermy word. "Niemand streef om ternouernood te leef", is werklik té verhewe! Herskryf die gedig in 'n minder soele praattaal en laat die vers vir homself praat.
       Woorde of abstraksies soos "seer" moet eerder vermy word. Skep eerder beelde sodat die leser die suggestie van die spreker se gemoedstoestand kan aanvoel.
       Ek dink die gedigte van Gert Vlok Nel behoort te kan help.
       Gaan kyk onder andere na Johann de Lange se debuut Akwarelle van die dors hoe hierdie digter verlange/pyn/eensaamheid indirek beskryf of verwoord. 'n Geslaagde gedig terg of steur die leser. Die eerste lees mag nooit al die geheime verklap nie.



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Daniel Hugo se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees


LitNet: 06 Junie 2005

Wil jy reageer op SkryfNet VI? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.