SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 2:

Petra Müller se eerste verslag
George Weideman se eerste verslag
Petra Müller se tweede verslag
George Weideman se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

In grys se duisend kleure

Manie Groenewald

Uiteindelik kan hy groet en onder sy ma se oë uitkom.
Maar voordat hy by die agterdeur uit is, vra sy: “Hoekom deesdae so vroeg skool toe, Jakus?”
“Daar’s dinge in die kunsklas wat moet klaar, Ma.”
Hy druk die deur vinnig agter hom toe.
Dis nie heeltemal ’n leuen nie. Voor die skoolklok lui moet hy by ou Kwassies utikom. Dié het hom gisteraand kom waarsku dat as hy volhou met sy skoolslippery, daar nie langer teen sy skorsing gepleit kan word nie. Hy het hierdie laaste kans, maar dan moet hy vandag terug wees.
By die tuinhekkie aarsel hy ’n oomblik tussen regs na die skool of links moeras toe. Hy swenk regs en loop vinnig. Tien, twaalf tree, toe stadiger. Uiteindelik gaan hy staan en kyk terug. Die mis hang vanoggend selfs digter. Sy sal dus daar wees. Dalk wag sy al by die klip. Stadig draai hy terug. Daar is huiwering in sy eerste treë, maar toe hy verby hulle huis is, loop hy vinniger. Hy oortuig homself dat hy in elk geval moet terug om sy pastelle en sketsblok te gaan haal.
Twee straatblokke verder klouter hy oor ’n werfmuur. Hy lig die deksel van ’n krat wat buite sig onder ’n vyeboom staan. Sy sak met kunstoerusting is nog daar. Sy vleiklere ook. Dié trek hy aan en verruil sy skooltas vir die kunsgoed.
Hy is al bekend met die moeras. Ten spyte van die digte mis vind hy die platkroon klip maklik. Maar sy is nie daar nie. Teleurgesteld sit hy die sak op die klip neer. Dit is koel en klam toe hy daarteen aanleun. Miskien moet hy teruggaan, hy sal nog betyds wees vir skool.
Maar hy bly staan, toegewikkel in ’n grysblou rolnektrui en gebreide mus. Hy staan totdat hy verby sy stram lyf kom; totdat die damp uit die swart kleigrond, die grys asem van ’n moerasgees word. Hy ruik die drassige vlakte, die broeiende rotting van slyk en riet. En hy luister. Hy hoor die vlei in die golwende massa-sang van die paddas wat hardnekkig vashou aan hulle nag; in die enkelvoudige drienoot liedjie van ’n moerasvoëltjie, helder en hartseer, dalend in halftone: Wît wittit ... Wît wittit ...
Hy wens sy wil kom. In die maande dat hulle mekaar hier ontmoet, het hy gewoond geraak dat sy hom inwag. So deel het sy van die vlei geword, dat sy dae sonder haar nie heel voel nie.
Eers het hy net naweke gekom. En skoolvakansies. Toe het hy uit die skool begin wegbly om hier te wees. Nou is dit al dae dat hy hier kom ronddwaal. Dae waarin hy nie anders kan nie. Van daardie eerste paar pastelhale af het ’n angstigheid hom beet gehad, móés hy by ’n antwoord uitkom. Hy is besig om boontoe te klim; om deur te breek na ’n nuwe wéét.
Hy trek sy rolkraag hoër teen sy nek en die mus laer oor sy ore. Die mis is beslis digter as voorheen. Skaars drie meter kan hy rondom hom sien. Dié ruimte word ’n klein wêreld van sy eie; ’n afgeskaalde hemelboog oor die bodem van klei en water en biesies en riet.
Van die begin af weet hy: die moeras is verbode gebied. Sy ook. McAllister laat nie vreemdelinge op sy grond en by sy dogter toe nie. Maar dis die enigste plek waar die misweer soggens tot laat bly. Lank genoeg, sodat die grys opbreek en in tintelende kleure om hom hang.
Grys is anders as vaal, weet hy nou. Vaal is dooie as. Vaal is soos skool toe gaan.
Wit wittit ... Wit wittit ... en dan soos ’n punt na ’n sin: ... it. ’n Donkerblou voëltjie kom wei-wei uit die mis tot by hom. Só mooi het hy nog nie gesien nie: Blou bors, wit keelvlek en gespikkelde goudbruin rug. Wit wittit ...
Die maat kom by. Sy is kleiner en nie so blou nie, het ook nie die keelvlek nie en die bruin is nie so kastaiing nie. Hulle wei soos boggelrug hoendertjies. Hy weet as hy nou roer verskrik hy die vredigheid. Doodstil staan hy en neem verwonderd elke detail in: die swart bekkies, die geel bene, die rooi oë.
Eers toe hulle soek-soek agter die wasige stuifsels verdwyn kom hy in beweging. Hy pluk sy houer oop, haal sy sketsblok en pastelle uit en begin haastig werk. Sy opgewondenheid verander in vreugde. Hy ken hierdie drif.
Die voëls word flertse vorms in newels lig. Hy bring die kleure stippelgewys aan. Onvermeng. Elke vlak wemel van tinte, want blou is nie bloot blou nie, geel nie net geel nie, swart nie swart nie. In elk is daar ’n refleksie van die ander.
Dis maar onlangs dat hy ontdek het hoe vol lewe sy werk kan wees as hy kleure so opgebreek langs mekaar gebruik. Só, dat die oog self die mengwerk kan doen. Dis soos die afbreek van ou dinge en die bymekaarsit van nuwes. Maar ou Kwassies deel toe nie sy entoesiasme nie.
“Konstruksie, Jakus,” het hy dit afgemaak. “Vastigheid, dís wat ek soek. Lynkwaliteit. Verhoudingswette. Ons is besig om vir ’n eksamen voor te berei, nie om op ’n heksetog agter sogenaamde eksperimente aan te foeter nie.”
Hy weet van die eksamen. En die boeke en die teorieë. Maar hy kon nog nooit sy kennis dáár gaan haal nie. Om te glo moet hy dinge vir homself uitvind. Soos om hier te skilder.
Vinnig-vinnig werk hy, gejaagd voor die dwingende stuwing in sy binneste. Sonder uitdink. Intens. Hy gun homself nie ’n oomblik van terugstaan nie, hy wil by die eindproduk uitkom, wil sien waartoe sy poging lei. Van vooraf is die weet daar van ’n baklei teen die verbygaan van tyd. Soveel is daar om te doen, soveel om te ontdek, dat hy altyd die gevoel het dat hy sy lewe nooit klaar geleef gaan kry nie.
Toe die mis opklaar en die vallei uitgelewer lê aan die son, staan hy verwonderd voor sy werk. Die sketsvel is ’n vibrasie van kleur en vorm. Met sy aandag genael op die skildery pak hy traag sy pastelle weg. Dit is soos afskeid wat nie klaarkom nie. Telkens is daar ’n tint wat intensiewer moet wees, of refleksies in ’n skadukol wat om meer skakering vra.
Uiteindelik is hy uitgewoed.

Hoe lank sy hom dopgehou het weet hy nie, maar toe hy sy sak van die klip aftel staan sy daar, skaars vyf tree van hom af.
Dis soos daardie eerste keer toe sy onverwags uit die newels sy wêreld ingekom het. Tóé was sy vir hom só mooi in haar lang wit rok en haar bruin hare wat tot by haar heupe hang. Hy het geskat sy moet vyftien wees, niks ouer as sestien nie. Met ’n kopknik het hy haar gegroet, maar daardie dag het sy nie teruggegroet nie, net daar gestaan asof sy nie eens van hom bewus was nie.
Hy het gesien daar is iets in haar kyk. Dit was asof sy in haar eie wêreld leef en hy het besef dit moet die mal kind van die McAllisters wees. Maar daar was niks van die wildheid in haar oë of ’n gekoekte bosgaas soos hy hom voorgestel het nie. Hy sou haar graag wou skilder.
Hy het haar die skets gewys waarmee hy besig was. Vir ’n vlugtige oomblik het dit gelyk of sy inneem wat sy sien. Hy het hom selfs verbeel dat daar ’n glimlag was. Dit was egter maar vir ’n breukdeel van ’n sekonde en hy kon nie seker wees nie.
“Jakus van der Linde,” het hy homself voorgestel. Hy het vorentoe gestaan en sy hand na haar uitgesteek, maar sy het omgespring en begin hardloop. Af tot in die moerasse en aan die anderkant op tot by die McAllister-woning. ’n Opgejaagde diertjie, was sy deur die vlei. Hy het haar agterna gekyk totdat sy in die tuinery verdwyn het.
Dit was daardie eerste dag. Daarna het sy weer gekom. En weer.
Nou staan sy vir hom en lag omdat hý geskrik het. Net hy sal dit as ’n skaterlag herken: daardie effense trekkie om die mond en die verandering van lig in haar oë. Hy het dit leer ken soos al haar klein beweginkies waarmee sy dinge sê.
Hy wys na die son, dan na sy horlosie en haar huis. Haar mond trek effens tuit, maar hy móés met haar raas omdat sy so sonder die skuilte van misnewels hierheen kom. So sal hulle gesien word en dit sal die einde van hulle ontmoetings beteken.
Hy wys haar sy skets van die blou voëltjies. Sy neem die sketsblok en met haar oë vasgenael daarop begin sy in die rondte tol. Om en om draai sy en hy weet sy hou daarvan. Hy wens hy kon haar teen hom vasdruk, maar hy durf nie. Die kleinste beweging van sy kant af sal haar verskrik en haar vir dae laat eenkant hou. Toenadering mag slegs van haar kant af kom. So het hy dit leer ken en so respekteer hy dit.
Uiteindelik gee sy die skets aan hom terug en streel vlugtig oor sy wang, wat beteken sy groet. Toe raap sy haar lang rok op en hardloop oor die biesieveld huis toe.

Tuis wag hulle hom in - sy ma met rooi gehuilde oë; sy pa met die gebruiklike donderweer in hom, gereed om alles om hom te vernietig; Kwassies sonder raad. Hy is bly dat dié daar is. Kwassies het nog altyd vir hom opgekom wanneer vir versagting gevra moes word. Maar dié keer is daar geen genade nie. Almal het die een boodskap: Hy het reeds sy laaste waarskuwing gehad, dan nie? Die skool het sy reëls, daar is nie plek vir leeglêers nie.
Bestormd staan hy. Oopgegooi in die skelskril lig voor hulle, sy borsbeen ’n pantser teen sy pa se woedewoorde: doodbliksem, ondankbare hond, matriek is nie speletjies nie, hoeveel keer moet dít nog gesê word? En in die huilsug van sy ma staan die groot Moeder-ek voorop: ék is sus en so teleurgesteld, mý hart so en so gebreek, waarom moet ék met so ’n kind opgesaal sit?
Ten laaste ou Kwassies wat sy hande in die lug gooi om aan te dui dat hy nie meer skietgoed het vir boontoe pleit nie. Hy het bloot sy opdrag kom uitvoer; kom sê dat as daar hierdie keer nie ’n verskoning is nie, hy klaar uit die skool is.
Later kom praat Kwassies met hom in sy kamer, waar sketse van die afgelope maande hang. Die onderwyser bly staan in die middel van die vertrek met sy hande in sy broeksakke terwyl hy die stukke swygend bestudeer. Mond getuit, oë geskreef. Daar is talle sketse van die moeras. Ook van verskillende vleilelies. Jakus hang die skets van die blou voëls by die ander, gaan staan by die onnie en wag tot hy uiteindelik praat.
Kwassies het dit steeds teen die eksperimentering. “En dan het jy boonop lekker op loop gegaan met daardie voëls, nè?” voeg hy ten laaste by.
“Hoe so, Meneer?”
“Wat se voëls is dit?”
“Ek weet nie, maar hulle was daar.”
“So blou?”
“So blou,” bevestig hy, maar sien hy word nie geglo nie.
Kwassies groet. Hy belowe niks, maar hy sal nog ’n keer gaan pleit teen die skorsing. Daarvoor het hy die sketse nodig. Teen sy sin gee Jakus hom dit saam. Alles, behalwe die naakstudies wat hy onder sy bed versteek hou.
Nadat die onderwyser weg is, lê hy op sy bed, met sy hande agter sy kop. Hy lees die enkele vers teen sy muur:

  1. childhoood’s hour I have not been
  2. others were - I have not seen
  3. others saw - I could not bring
  4. passions from a common spring.

Twee dae later is sy kunsonderwyser terug met die boodskap dat hy nie weer in die skool toegelaat sal word nie. Daar is onderwysers wat beweer dat hy lankal nie meer genoeg belangstelling in hulle vakke toon nie. Met die beste wil ter wêreld sal hy matriek nie maak nie. Nie hierdie jaar nie.
Dis soos hy kon verwag. Hy soek na die skrik wat moet kom noudat hy weet daar is geen kans meer nie, maar kry niks.
Kwassies sê weer daar is lieg in sy werk.
“As dit dan moet gaan oor optiese studies, moet dit tenminste gaan oor wat jy sien,” sê hy. “As dít jou doel was, waar kom die blou voëls vandaan?”
Jakus ruk hom op.
“Uit die vlei. Hulle wás daar, Meneer. Nes ek hulle geskilder het!”
“Onmoontlik. Ek het kenners gaan uitvra. Die naaste daaraan is die bloukwartel en dié kry mens nie hier nie.”

Die volgende oggend is sy daar. Hy kan haar vreugde aanvoel. Sy sit op die platkroon klip met haar klere netjies langs haar opgevou.
Die eerste keer dat sy haar klere uitgetrek het, was nadat hy sy kunsboeke vir haar kom wys het. Toe wou sy hê hy moet haar skilder net soos in daardie boeke. Onbevange het sy op die plat klip gestaan. Uitbundig. Weier kon hy nie. Hy wóú nie nee sê nie.
En sy is ’n goeie model. Lang sessies kan sy sonder kla roerloos in een posisie bly of om hom oor die grasveld dartel as hy dit verlang. Hy verwonder hom dat sy, wat só vasgevang is in haarself, dan tóg vry kan voel.
Hy laat haar met haar rug teen die groot klip staan, haar arms wyd weg. Haar klere lê argeloos by haar voete neergegooi.
Hy werk langer as ’n uur, met slegs twee rustydjies tussenin. Op sy sketsblok word sy ’n elwekind; ’n waternimf wat uit die grys rots groei.
Toe gebeur dit.
Die reptiel moet half onder die klip gelê het waar hulle hom nie kon sien nie. Onverwags, terwyl die vredigheid stil om hulle hang, spring dit verwoed tussen hulle in. Met ’n geblaas skarrel dit oor haar voete en verdwyn met skietende tong in die mis.
Vir ’n oomblik staan Jakus verbysterd voor die gille wat uit haar skeur - aaklig en rou. Hy storm vorentoe en druk haar teen hom vas, voel dan hoe hy beheer verloor oor die sparteling waarmee sy teen hom veg.
“Hy’s weg,” sê hy in ’n poging om haar te kalmeer. “Hy’s weg en kan jou nie seermaak nie.”
Maar hy dring nie tot haar deur nie. Sy hamer teen sy bors en beur van hom af weg.
Haar pa doem onverwags uit die newels op - Die gevreesde McAllister met ’n swaar stok in sy hand. Voordat die hou hom tref en hy wegsink in ’n niksheid van swart, hoor hy die bulderende uitroep.
“Jou klein bliksem!”

Hy wil nie hier voor die massiewe lessenaar in die prokureur se kantoor wees nie. Die plek vreet in op hom. Grys het hier nie plek nie. Alles is wit of swart, nes die antwoorde wat van hom verwag word. Klinkklare ja’s of nee’s, waarteen hy nie verweer het nie. En die man se vrae hou genadeloos aan en aan.
“Het jy, toe jy die McAllisters se grond betree het, geweet dis verbode daar?”
Ontken, kan hy nie. Sy regterhand begin ruk en hy gryp dit vas. “Dis verbode vir mense wat voëls verwilder,” sê hy. “Ek het nie ...”
“Antwoord asseblief net ja of nee.”
Die hand ruk en ruk asof dit iets wil wegkeer. “Ja,” sê hy uiteindelik.
“En nieteenstaande is jy ’n hele paar keer daar opgemerk. Hoeveel keer het jy in daardie vlei gaan ronddwaal?”
Hy dwing sy hande onder die lessenaar in. “Ek weet nie.”
“Enkele kere of dikwels?”
“Dikwels.”
“Het jy geweet dat die stom Caria McAllister ook soms die vlei besoek?”
“Sy’s nie stom nie!”
“Het jy geweet sy kom in die vlei?”
“Ja.”
“Het jy ook geweet sy loop soms sonder klere daar rond?”
Jakus huiwer. Hy weet die man wil ’n blote ’ja’ uit hom wurg, maar sy hele wese skreeu daarteen. Hy móét eenvoudig toegelaat word om te verduidelik. En ’rondloop’ was dit nie.
“Sy het net haar klere uitgetrek as ek haar wou skilder.”
“Wat jy dus vir my sê is dat jy ’n gestremde minderjarige uitgelok het om haar voor jou te ontbloot. En die dag toe haar pa julle daar gekry het, het jy haar teen haar sin gedwing ...”
“Nee! Daar was ’n likkewaan en sy het geskrik ...”
“Jy bly by daardie storie, nè? Jy weet sy kan dit nie ontken nie want sy kan nie praat nie. Jy weet dat sy só geslote is, dat niemand iets uit haar sal kry nie. Ek is jammer, seun, maar dís die soort vrae wat jy in die hof te wagte kan wees.”
Jakus weet dit. Oor en oor moes hy al hoor hoe ernstig die saak teen hom staan. Op agtien, en by sy volle verstand, is hy veronderstel om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar. Hy weet ook dat daar geen versagtende omstandighede is nie, want hy het sy “misdade” doelbewus en oor ’n lang tydperk gepleeg.
Die moontlike uiteinde van dit alles is ook aan hom verduidelik: Die ligste straf wat hom opgelê kan word is afsondering in die een of ander inrigting totdat sy gedrag voldoende verbeter het. Maar daar is ook die moontlikheid van rottanghoue, en dié is nie met ’n skoollatjie nie; die littetekens daarvan bly lewenslank sit.
Toe hy uiteindelik groet, sê die prokureur: “As jy oortuig is van daardie likkewaanstorie, hou daarby. Daar moet tenminste íéts wees waarop ek die verdediging kan bou.”
Hy wens hy het meer gehad waarmee hy die aantygings kon besweer. Maar daar’s niks.

Ook toe hy in die beskuldigde bank staan, het hy niks. Ná die landdros se verdoemende uitspraak, toe hy die geleentheid het om iets ter versagting te sê, weet hy hy het niks wat hierdie hof tevrede gaan stel nie.
“Daar moet tog íéts wees?” por die landdros aan. “Is jy darem jammer oor wat jy gedoen het?”
“Nee.”
’n Roering in die openbare banke laat hom omkyk. Hy sien hoe hulle daar sit. Sy ma, starend. Langs haar sy pa wat, sedert hulle hom die eerste keer in die polisiesel gaan besoek het, by hom verby blý kyk. Verder is daar twee onderwysers wat getuig het. Ook die sielkundige en ’n paar ander. En Caria se ouers. Strak sit hulle in afwagting dat reg moet geskied.
Hy wonder waarheen hulle Caria geneem het. Vir ’n kort oomblik voor die hofdeure, was hulle weer voor mekaar. Met die sienslag het sy na hom oopgemaak, maar toe sy haar hand uitsteek om oor sy wang te streel, het die verpleegster dit weggepluk en haar vinnig weggelei. Haar gille het, lank nadat dit stil geword het, steeds deur hom gesny.
Hy probeer sy hande wat so willoos gryp en los onder beheer kry, toe hy terugdraai na die landdros.
“Julle sê ek lieg omdat ek beweer daar bly bloukwartels in die moeras, maar ek kan hulle vir julle gaan wys,” pleit hy, sy stem ’n toon hoër as wat hy wil. “Julle sê ook ek is ’n stokkiesdraaier, omdat ek skooltyd in die vlei rondloop; tog het ek daar meer geleer as ’n hele jaar in die skool. Verder sê julle ’n likkewaan sal nie ’n uur stil onder mens se voete lê sonder om gesien te word nie, maar dis presies soos dit gebeur het ... En die sielkundige het hier gesê Caria sal nooit praat nie, omdat sy outisties is. Maar by my het sy gelag en gesels en aan my gevat.”
“Wat jy gedoen het ... sal jy dit weer doen?”
“Ek kan nie verstaan wat ek verkeerd gedoen het nie.”
“As gesonde jongman moet jy tog verstaan dat ons hier te doen het met kindermolestering?”
“Dis júlle wat dit so wil hê. Dit is omdat júlle grys net ’n mengsel van swart en wit is. Maar grys ... in grys is daar duisend kleure!”
Hy roep dit uit. Oor en oor skreeu hy terwyl sy arms ruk en ruk. Maar hy sien hoe die begriploosheid ’n soliede muur word tussen hom en hulle. Uiteindelik weet hy hulle sal nooit verstaan nie.
Nooit.
En in die nagalm van sy skreeue raak alles versluierd om hom; die strak gesigte ’n monochrome galery, die woorde wat oor hom heenskeer, kripties, die hande wat hom vasgryp en uiteindelik gebiedend weglei, die gretige kloue van ’n aasdier.

In die dae nadat Caria en die moeras van hom weggeneem is, druk hy die deur vir die hoeveelste keer agter sy ouers op knip. Hulle kom elke Sondagagtermiddag en bly dan stiptelik volgens die besoekure. Hy is bly hulle sit nie langer nie, want dan sal hy laat wees vir sy afspraak met die son.
Daar is nooit gesels tussen hulle nie. Hoekom móét daar wees, hulle deel nie dieselfde wêreld nie. Dus sit hulle net in die skemerte, wag geduldig die tyd om, kom só hulle plig teenoor mekaar na.
Hy laat gly sy hand van die deurknop af, draai om in die halflig en kyk na die sonkol op sy vensterbank. Dit sal oor ’n rukkie die spieël bereik. Hy knoop sy skoene los en trek dit uit. Toe sy kouse. Sy hemp. Sy broek.
Uiteindelik gaan sit hy in die middel van sy bed. Hy trek sy knieë op, vou sy voete met sy hande toe, laat sak sy kop vooroor en sluit sy oë. Só wag hy totdat hy die weerkaatsing van die sonlig uit die spieël, strelend op sy vel sal voel.
Soos elke dag dié tyd, wag hy. Wag hy, totdat hy sy oë sal oopmaak en sal kyk, asof vir die eerste keer, na die duisend kleure van die opgebreekte prismalig oor sy naakte lyf.
Wag hy om gebore te word.
Wag hy.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.