SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Wanneer sondes jou inhaal

Johann H Crafford

"Nog 'n dubbel-Bells, asseblief. Met ys en water." Dis sy tweede van die aand en hy weet hy moet hierna ophou en huis toe gaan waar sy vrou en twee kinders op hom wag. Dis reeds ná sewe en hulle sal binnekort bekommerd begin raak. Hy's in die week selde later as halfsewe by die huis.

Madeleen sal nou die horlosie begin dophou en haar en die tweeling se ore sal gespits wees vir die klanke van die elektriese garagedeur en sy motor. En Boesman, sy getroue labrador, sal in die kombuis voor die deur lê wat na die garage lei en wag op sy oubaas.

Maar hy sien nie kans vir die huis nie. Nie nou al nie. Jaco van Jaarsveld is gefrustreerd. Gefrustreerd en gatvol. Vir die saaiheid van sy lewe. Werk, slaap, werk, slaap, vyf dae aanmekaar. En dan tuin en kerk die ander twee dae. Dis soos sy lewe verloop. Al baie jare al. Hy mis 'n bietjie opwinding.

Die frustrasie het so 'n paar jaar na hul troue begin. En stadigaan het dit erger geword. By tye wil hy ontplof daarvan en dan haal hy dit op die arme Madeleen uit. Ander tye aanvaar hy dit maar gelate en gaan met sy saai lewe aan.

Hy weet hy moet hieroor praat met iemand. Met Madeleen, hul predikant, 'n sielkundige. Maar hy kom nooit sover nie.

Madeleen is eintlik 'n goeie vrou, dink Jaco by homself toe hy die eerste sluk van die tweede whiskey neem. Hulle het net 'n gewoonte geword. Soos so baie ander paartjies. Daar's niks opwindends, romanties meer in hul huwelik nie. Ander vrouens het al hoe meer begeerlik begin lyk.

Hy kyk om hom rond in die kroeg met sy sagte beligting. Oral is mans en vroue besig met die spel van verleiding. Hy wonder hoeveel van hulle is getroud. Hoeveel se eggenotes, se gesinne, sit soos syne alleen by die huis en wag.

Hy het Madeleen nog nooit verneuk nie. Dit was al 'n slag of wat so hittete. Maar as 'n vroumens hom vanaand 'n skewe kyk gee, is sy in die moeilikheid!

Jaco vat nog 'n sluk whiskey en kyk weer 'n slag om hom rond. Dan vang sy oog 'n donkerkopvrou heel aan die ander kant van die kroegtoonbank. Sy glimlag vir hom en hy glimlag terug.

Hy vat weer 'n sluk whiskey en loer dan so onder sy wimpers deur in haar rigting. Ja, sy kyk steeds vir hom. Lyk ook glad nie sleg nie. Hy wonder of sy alleen is of miskien vir iemand wag.

Nog 'n sluk whiskey en nog 'n onder-die-wimpers-deur-loer. Sy hou hom steeds dop. Jaco weet hy is taamlik aantreklik vir vroue. Hy word dit gereeld vertel. En hy trek netjies en smaakvol aan. Vrouens hou van 'n man wat suksesvol lyk, sê Madeleen gereeld vir hom.

Hy gooi die laaste mondvol in sy keel af, loer weer 'n slag na die donkerkop en bestel sy derde whiskey. Dan, op die ingewing van die oomblik, sê hy vir die kroegman: "Sien jy daai donkerkopvrou aan die ander kant van die kroeg?" terwyl hy met sy kop in daardie rigting wink.

"Ja," sê die kroegman.

"Gee vir haar waarvan sy drink en sê dit kom van my af. Met komplimente."

Die kroegman doen so en tot Jaco se verbasing, en vreugde, staan die donkerkop op en stap om die kroegtoonbank na hom toe met haar glas in die hand. Hy haal vinnig sy trouring af en steek dit in sy baadjie se binnesak.

"Hello en dankie vir die drankie," sê sy toe sy reg langs hom stop. "Ek is Danielle. Gee jy om as ek by jou aansluit?"

"Glad nie. Ek is Jaco."

Hulle skud blad en sy gaan sit dan op die hoë kroegstoeltjie langs hom sodat haar regterknie teen sy linkerbeen druk. Sy is baie aantreklik, in haar middel-dertigerjare, en dra 'n swart pakkie met 'n korterige rompie en oop hoëhakskoene.

Pragtige bene, dink Jaco, sexy lyf, en hy voel hoe die eerste tinteling van die jag teen sy ruggraat afnael terwyl die bekende gefladder in die maag die adrenalien deur sy are jaag.

"Is jy van Kaapstad?" vra hy.

"Nee, Johannesburg. Ek's hier op besigheid en om 'n paar ou skool- en varsity-vriende te verras. Ek neem aan jy's plaaslik."

"Ja, gebore en getoë. Wat doen jy?"

"Ek's in eiendomsbestuur. Ons, dis nou die maatskappy vir wie ek werk, het kommersiële en nywerheidseiendomme regoor die land en ek is verantwoordelik vir hul bestuur. En wat doen jy?"

"Nee wat, niks so fênsie nie. Ek's 'n chemiese ingenieur by 'n oliemaatskappy." En dan die brandende vraag: "Is jou man tevrede dat jy so op jou eie die land vol reis?"

"Ek's geskei. Al drie jaar. En jy?"

"Ook so," lieg Jaco, en dan verander hy die onderwerp. 'n Uur of so later bereik die eerste gedeelte van die voorspel 'n einde toe die gesprek oor die alledaagse - elkeen se agtergrond, die politiek en sport - sy einde bereik.

Die glase word vir die hoeveelste keer gevul en die voorspel betree fase twee. Die gesprek raak meer intiem en begin gepaard gaan met die fisieke flirtasie - 'n speels ge-oor-en-weer-aanrakery wat mettertyd oorgaan in 'n meer doelgerigte aanraking. Hy sit sy hand op haar kaal been en gee dit 'n drukkie. Sy vat aan sy arm, aan sy hand, langer as wat nodig is. Heelwat langer.

"Danielle, verskoon my gou vir 'n minuut. Ek wil net 'n afspraak kanselleer," lieg hy vir die soveelste keer.

"Oukei, maar maak gou."

Hy glimlag van oor tot oor. Die glimlag van 'n tienerseun wat pas sy eerste rêrige soen gekry het, so 'n nat volmondeen.

In die badkamer skakel hy sy huis.

"Hello, Pa, waar's jy?" vra sy dogter.

"Ounooi, roep gou jou ma, asseblief."

"Maar waar's jy?" vra sy bekommerd.

"Ag, jong, ek het vasgeval met 'n paar kollegas van die werk en sal laat by die huis wees. Roep gou jou ma."

"Sy's in die bad, Pa. Ek sal vir haar sê. Ry versigtig, hoor."

Jaco antwoord die roep van die natuur en stap terug na waar Danielle vir hom wag. Hy het pas gaan sit toe sy afhaak: "Kom ons gaan gesels verder in my kamer. Ek het 'n mini-kroeg. Dis een van die voordele van die werk - vyfsterverblyf."

Jaco volg haar tot in die hysbak. Toe die deur agter hulle toegly, gooi sy haar arms onverwags om sy nek en soen hom met al die opgekropte seksuele energie tot haar beskikking terwyl sy haar liggaam styf teen hom druk. Hy herstel blitsvinnig van die aanvanklike skok en soen haar met mening terug. Oopmond. Wellustig.

In die weelderige kamer op die sewende verdieping met sy pragtige uitsig oor Tafelbaai word daar nooit van die kroeg gebruik gemaak nie. Jaco en Danielle is reguit bed toe en terwyl hy alle gedagtes aan sy vrou en kinders uit sy kop dwing, gee hy homself oor aan sy eie opgekropte wellus en frustrasie.

Dis eers ná drie die volgende oggend dat Jaco stilletjies en soos 'n skelm by sy huis insluip. Almal slaap reeds en hy glip saggies langs Madeleen in die bed. Met 'n sug van genoegdoening raak hy aan die slaap.

"Opstaan, laatslaper. Dis al byna nege-uur en die tuin wag," sê Madeleen en gee hom 'n soen op die voorkop. "Oe, jy stink soos 'n brouery! Ek hoop die kopseer is die moeite werd."

Dis 'n uur later en Jaco is besig in die tuin. Dan lui die voordeurklokkie. 'n Paar minute later kom Madeleen by die agterdeur uitgestap en sê opgewonde: "Jaco, jy sal dit nooit glo nie. Iemand wat ek laas op universiteit gesien het, het kom kuier. Kom dat ek jou voorstel."

Dan kyk hy op … vas in Danielle.



LitNet: 16 Mei 2006

  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.