13 Februarie 2003
EENVOUDIG (VIR JAN RAP) ...
Beste Jan Rap,
Ek weet van die Afrikaners in Argentinië. Ek het bloedfamilie wat baie lank gelede soontoe is en wat ongeveer 20 jaar gelede weer terug is na Suid-Afrika. Toe hulle aanland, kon hulle steeds baie goed Afrikaans praat. Hulle is na 15 jaar in Suid-Afrika weer terug na Argentinië, maar het hulle seun in Suid-Afrika agtergelaat. Die seun is in Argentinië gebore en het daar by sy ouers geleer Afrikaans praat. Hy woon steeds in Suid-Afrika en praat steeds Afrikaans.
Dit illustreer maar net dat as Afrikaners oorsee gaan woon, die taal nie noodwendig uitsterf nie. Baie mense wat oorsee gaan woon, gaan weer terug na Suid-Afrika. Of hulle kinders. En hulle taal trek heen en weer saam.
Ek is ook nie heeltemal so dof om te dink dat Afrikaans hier van geslag tot geslag oorgedra gaan word nie. Natuurlik is dit iets waaroor mens bekommerd is as jy in die buiteland gaan woon. Jy wonder of jou kinders hulle taal gaan verloor en jy poog om hulle voortdurend daaraan bloot te stel. Maar soos reeds gesê, is daar deesdae n heen en weer vloei van Afrikaans oor die landsgrense.
En natuurlik is ek ook bewus van die feit dat Afrikaanse kinders oorloop na Engelse skole en al die ander dinge ook wat Afrikaners bedreig laat voel. Hierdie dinge was al aan die gebeur toe ek nog in Suid-Afrika was. Inteendeel, dit was al aan die gebeur toe Hoogenhout sy gedig Vooruitgang geskryf het: Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor. In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor ...
Hoogenhout was destyds benoud, en nog steeds is die Afrikaner benoud. Dit terwyl Afrikaans lustig voortbestaan en ons nou lekker hier op die Amerikaners se internet in Afrikaans kan gesels. En terloops, sien ek, hier op n website waar Nederlanders vanuit hulle land ook inskakel.
En dan wil ek laastens vir jou sê dat as dit by hardegat kom, het die Afrikaner geen lesse nodig nie. Glo my, ek word aan baie nasies hier in die buiteland blootgestel en niemand is so hardegat soos die Afrikaner nie. Soms sy ondergang en soms sy redding ... maar dit vra n nuwe debat.
Lesse waarmee die Afrikaner wel kan doen is om te leer om nie alewig so paniekerig oor alles in die lewe te raak nie. Veral oor dinge wat moontlik net kan lyk of dit sy voortbestaan kan bedreig.
Groete.
Anelia
terug