27 November 2002
OM TE GLO IS ONEERLIK ...
Ek skryf in reaksie op “Dis beter om te glo as om nie te
glo nie” deur Paul op 14 November 2002.
Blaise Pascal (1623 — 1662) het ’n soortgelyke stelling
geformuleer wat min of meer as volg lees:
“God can’t be proved. But if God exists, the believer gains
everything (heaven) and the unbeliever loses everything
(hell). If God doesn’t exist, the believer loses nothing
and the unbeliever gains nothing. There is therefore
everything to gain and nothing to lose by believing in
God.”
Bogenoemde “Pascal’s wager” word meer deeglik bespreek by:
1) http://www.abarnett.demon.co.uk/atheism/wager.html
2) http://www.ffrf.org/lfif/refute.html (scroll af)
3) http://www.infidels.org/news/atheism/arguments.html#pascal
Opsommend is daar ’n paar ooglopende probleme met “Pascal’s wager”. Eerstens, gestel dit is wel waar dat ’n almagtigegod bestaan, watter een sou dit nou eintlik wees? Allah?
Zeus? Osiris? Krishna? Daar is oor die 5 000 gode om van te
kies. Deur “Pascal’s wager” te volg, verbeter ’n mens dus nie juis jou kanse noemenswaardig om die sogenaamde ewige
lewe te verwerf nie.
Tweedens, al sou ’n almagtige god wel bestaan en ’n mens
kies toevallig die regte een, wat onwaarskynlik is, is dit
hoogs te betwyfel of so ’n alwetende wese vreeslik ingenome
sal wees met iemand wat bloot as gevolg van “Pascal’s
wager” in haar glo. (Hell hath no fury...)
Natuurlik dui die voorwendsel om doelbewus en berekend ’n
waarskynlike onwaarheid te glo uitsluitlik vir die geringe
kans op eie gewin, op ’n inherent oneerlike persoonlikheid.
“Pascal’s wager” lyk miskien van buite na ’n slim “trick” om jou basvelle te red, maar dit is eintlik van binne af
verrot.
So Paul, nee, dis nie sommer net “beter om te glo as om nie
te glo nie”.
Vervolgens dan ’n paar verdere nederige opinies:
Die mens is basies nes enige ander soogdier. Die bloudruk
van ons embrio’s is feitlik identies. Ons word gebore. Ons
leef. En ons sterf. En dis dit. Tussendeur eet ons en plant
voort. Dit geld vir my. Dit geld vir jou. Dit geld vir die
pous. Dit geld ook vir Wagter die wonderhond en Daisy de
melkkoei. Dit geld vir goeie mense. Dit geld vir slegte
mense. Dit geld vir Hitler. Dit geld vir Boeddha. Dit geld
vir Jesus. En dit geld ook vir Ralph Rabie. Dit is nie
regverdig nie. Dis ook nie onregverdig nie. Dit is net hoe
dit is. As jy ’n mier dooddruk, dan gaan hy nie skielik na
’n miertjiehemel toe nie. Ditto vir ons.
Die mens se brein het oor miljoene jare danksy evolusie so
vergroot en ontwikkel dat ons geleidelik die kapasiteit vir
oa taalvaardigheid en selfbewussyn verkry het. (Gaan kyk
na die fossielerekord en leen ’n kopie van Tobias’s
bodies.) Maar saam met hierdie selfbewussyn het daar nie
skielik uit die bloute ’n hokus pokus ewigdurende siel te
voorskyn ge-poof! nie.
Selfbewussyn het wel dié newe-effek dat dit die mens intens
van sy eie sterflikheid bewus maak. En dit het weer tot
gevolg dat mense allerhande gelowe met allerlei
verskillende “afterlife scenarios” bedink om die dood te
probeer fnuik. Geloof is in die eerste plek ’n “coping”
meganisme om ons sterflikheid te probeer verwerk. En
verreweg die meeste mense wend hulle gerieflikheidshalwe
bloot tot dieselfde “coping” meganisme as dié van hulle
ouers.
Ek wil aanvoer dat dit ’n veel gesonder benadering is om
die realiteit van ons sterflikheid tromp-op te aanvaar en
daarby aan te pas, eerder as dat ons vir ewig by “denial”
bly vashaak.
Natuurlik moet die klipperige emosionele pad van woede,
ontnugtering, verlies, hartseer en rou eers geloop word
voordat ’n mens uiteindelik by die aanvaarding (van geen
god) kan uitkom. En dit is nie altyd ’n maklike pad nie.
(Ekself koester nog bittersoet herinneringe van my eertydse
“make-believe” vriend, Liewe Jesus.) Maar dit is ’n
noodsaaklike pad wat ons almal sal moet loop as ons ooit
die sotlikhede en dreigende gevare van die Osama’s en
Bush’e van vandag en in die toekoms die hoof wil bied.
Om soos Paul in sy skrywe te beweer dat die afwesigheid van
’n hoofletter “Hom” noodwendig tot chaos en die uitbuiting
van “swakkes” deur “sterkes” sal lei, is uiters naïef en ongegrond. Die mensdom het lank reeds meganismes soos
regerings-, parlementêre- en regstelsels geskep wat die
individu genoegsaam teen vergrype kan beskerm en dit tans
ook doen. God of geen god. Natuurlik is hierdie stelsels
nie volmaak nie, maar hulle dien hulle doel, of ’n mens nou
in god1, god2, god3, god4, ... , god123, ... , of god4999
glo of nie glo nie.
Laastens wil ek darem byvoeg dat ek heelhartig Paul se
bewondering vir die grootsheid en skoonheid van die natuur
en die heelal deel. Maar so ’n bewondering regverdig nie
skielik die bestaan van ’n hoofletter “Hy” nie. Ook nie ’n hoofletter “Ek” nie (die implisiete uitvloeisel van
eersgenoemde — dink maar daaroor).
So ’n godsoptowering sonder enige substansie of bewys is
doodgewoon intellektueel oneerlik, al bied dit aan sommiges
emosionele vertroosting.
Ek wil dus sterk van Paul verskil wanneer hy die “enigste
oorblywende alternatief” (van geen god) as “skrikwekkend”
beskryf.
’n Lewe sonder bygeloof is allermins tragies, nihilisties,
of futiel. Inteendeel. So ’n lewensbeskouing maak ’n mens
eerder meer intens bewus van die kosbaarheid van lewe. Alle
lewe. En van die gemeenskaplike humaniteit wat ons met
mekaar deel. So ’n lewensbeskouing daag ’n mens uit om
voluit en vreesloos te leef, te ervaar, en lief te hê.
Daar is per slot van sake nie ’n paai in die skaai
hiernanogmaals waar ons eendag al die tyd in die wêreld sal
hê om alles te doen waarvoor ons in die hier en nou
doodgewoon te lui was of nie by uitgekom het nie.
Vriendelike ateïstiese groete.
Godzilla
terug