14 November 2002
DIS BETER OM TE GLO AS OM NIE TE GLO NIE ...
Vir al julle lekker ou Sênet mede-sondaars,
Partykeer wanneer ek in die tuin is bekyk ek die bedrywigheid van die miere. As ek my vinger in die pad van ’n mier sit steek hy ’n oomblik daarteen vas en baan dan vir hom ’n ander weg, of klim sonder meer teen my vinger op. Dis duidelik dat die mier geen besef het van die wese, soveel groter en belangriker as hy, wat hom dophou nie.
Soms tref ek ’n mier aan op die wasbak in my badkamer. “Jy’s op die verkeerde pad my maat, hier kan dit net gevaarlik wees vir jou,” dink ek. Dan laat ek die mier teen my vinger opklim en blaas hom deur die oop venster na buite. Vlietend wonder ek of die mier sy vry val deur die ruimte asembenemend vind.
Wanneer miere erg in my pad is waar ek ’n werkie verrig, verpletter ek hulle ongeërg met die besem, hark of kwas in my hand. Ek neem aan hulle skrik of ly nie — maar ek sal nooit regtig weet nie.
Ek weet ook nie hoe miere dink nie, maar watter geprogrammeerde instink hulle ookal aandryf, glo ek maak (dalk aspres) nie voorsiening daarvoor dat hulle ooit “wonder” of die aarde plat of rond is nie.
Sê nou maar ons aarde is deel van ’n heelal wat deur ’n Wese baie wyser en grootser as ons, al in die rondte in die niet uitgeslinger word? Soos water uit ’n swaaiende sproeier. Hoe verder ons rondomtalie weg van die magtige slinger af hoe verder sal ons van die ander sterre af beweeg en ons aarde en son gaan al kouer word.
Sy tyd is nie ons tyd nie; soos ons tyd nie die tyd van miere is nie.
Dalk is ons heelal en ons tyd maar net ’n klein verskuilde ruimtetjie in ’n groot tuin met ’n ander tyd — of geen tyd nie, soos in ewigheid?
Dalk hou die Wese ons bedrywighede geamuseerd of bekommerd dop. Miskien besluit Hy op ’n dag om ’n bietjie te help: plaas Hy ’n vinger voor ons op ons baan; blaas Hy ons saggies elders heen.
Of miskien besluit Hy nog eendag dat ons in die pad is van sy algehele tuinplan; ons vernietig tog net gedurig wat Hy skep; Hy deel met ons almal sy asem en ons streef nie eens daarna om dit goed en heilig te maak nie; ons is te klein en te eenvoudig om te besef dat elkeen en alles wat lewe, deur te lewe deel het aan Sy alomteenwordigheid; te klein om te besef dat ons nog so simpel is dat ons Hom daarom nie kan “sien” nie.
Dalk besluit hy dat ons te simpel, te nietig en te arrogant is en word ons summier die heelal se berge en dale ingebesem, aarde en al? Nogal ’n skrikwekkende gedagte.
Nog skrikwekkender is die enigste oorblywende alternatief: Die moontlikheid dat daar nie naastenby so ’n alles skeppende alles beherende Wese is nie.
Want dan is daar geen rede warom die sterkstes op aarde nie mag besluit oor lewe en dood nie. Waarom sou mense wat net lastig is, niks beteken nie, niks verstaan nie, dan moet bly lewe? Waarom sou mense wat oorlewingsbronne beheer dan nie aangeval en doodgemaak mag word deur ander wat dit nie het nie?
Ons sien net in ’n spieël. Ons verstaan net wat ons kan verklaar. Ons sien wel ook die raaisel maar ons ontwyk dit want ons beperkte verstand het geen begrip daarvan dat Iets so groot, so magtig kan wees nie.
Ons ontwyk die raaisel selfs al is ons oneindig meer as miere, geseënd met die vermoë om ten minste te wonder. En daarom nogal, op die leer van aardse wesens, vordering gemaak het tot heelbo. Net deur te “wonder”.
Dis vir ons relatiewe vreedsame oorlewing op aarde noodsaaklik dat soveel mense as moontlik glo in ’n Almagtige Opperwese; skrik vir Sy fury, waarop net Hy geregtig is; hoop op Sy genade as ons sou onderneem om alles wat lewe en Sy aarde te omhels.
Wat anders? Anders, sal ons ingebore dierlike geweld die oorhand kry.
En vir ons oorlewing tot in ’n hiernamaals is dit dalk beter om te wonder en te glo as om nie te glo nie; dalk word die raaisel en sy oplossing vorentoe makliker deur die geloof; deur ’n klein bietjie meer te word soos Hy. En sê nou maar net ons kan ’n ewige lewe bekom deur oor die, en in die, geloof te wonder?
As Hy wil?
Paul
terug