5 November 2002
EET DIÉ MONSTER MUSIEK? ...
“Haai jy… ja jy wat so alleen daar by die huis sit… kan ek jou
interesseer in ’n CD? Die ding is warm. Hy’t twintig treffers op man. Twintig!”
Miskien is jy bekend met daardie CD’s. Daar is baie van hulle, ’n taamlike hoeveelheid, en byna elke maand ’n nuwe volume, vars op die rakke.
Indien jy ’n gereelde kykNet-kyker is sal jy sien dat daardie die CD’s is wat die meeste op televisie geadverteer word, en as jy so bietjie deur die Sondagkoerant se bylaes blaai sal jy ook sien dat hulle daar baie reklame geniet. ’n Mens kry die idee dat mense werklik die goed koop en versamel. Daar moet sekerlik êrens groot geld wees in dié bedryf.
Dit eers daar gelaat, kyk ons bietjie na die inhoud van hierdie CD’s en ons vergelyk dit met ander wat met min twyfel werklik ’n stuiwer gegooi het vir Afrikaanse musiek en hulle plekke op die rak verdien in terme van oorspronklikheid, estetika, lirieke en ander musikale waardes
(gewildheid vir eers weggelaat).
Ons vergelyk byvoorbeeld Anton Goosen se Vis innie Bos met Ferdinand Rabie se Wakka wakka, ek sê. Dit is immers nie moeilik
om te kan onderskei tussen die twee nie omdat mens jouself baie maklik kan indink dat al wat Ferdinand Rabie met sy CD te doen gehad het was om te poseer vir die foto.
Anton mag nou dalk nie die mees omvattendste stem hê nie,
maar ek is redelik oortuig daarvan dat Ferdi nie ’n noot kan sing nie.
Ons kan hulle almal vergelyk, van Bokjol 2 tot Super Sokkie 23, met Valiant Swart of selfs ’n minder oorspronklike kunstenaar soos Dozi.
Die CD’s is oorlaai met of verskriklike styllose cover songs of ongemaklike, verdraaide FAK-liedjies met ’n beat by. ’n Mede kykNet-intekenaar, en vriend van my beskryf hierdie fenomeen as “Zef musiek”. Dit is nou as dit kan kwalifiseer as musiek, maar dit is ’n ander debat.
Nietemin, of dit nou zef, stylloos, onoorspronklik, goedkoop of net
eenvoudig swak is, is daar inderdaad ’n mark daarvoor. Die CD’s verkoop!
Daar buite êrens is mense met rakke vol van die goed by hul huise! Ek
probeer nie sê dat daardie mense zef, stylloos of goedkoop is nie, maar eenvoudig dat daar mense is wat hul geld daaraan bestee, en boonop baie van hulle.
Dus, is daar ’n baie goeie vraag wat opduik (en ek sou dit baie graag
aan ’n kunstenaar self wou rig). Wat is die uitwerking van hierdie CD’s wat die mark oorstroom op die algemene verkope van sogenaamde Afrikaanse CD’s?
Sou mense vroeër die jaar nie dalk eerder ’n kopie van Maanhare opgetel het as Braai Rave 7 nie so lekker groot geadverteer was op televisie nie? My punt is dus, dat kunstenaars wat werklik ’n betekenisvolle bydra kon gelewer het nou moontlik afgeskeep word as gevolg van ’n tipe “fly by night” musiek met ’n groot bemarkingspan.
Ek is seker dat dit selfs baie moeiliker is vir nuwe kunstenaars om naam te maak en ’n paar CD’s te verkoop as hulle teen hierdie
groot massa ook moet kompeteer.
Elke Saterdag hoor ek die doef-doef wat van die bure se kant af kom
terwyl hulle braai en swem en ek net probeer om die wasmasjien aan die gang te kry. Die arme tannie weet seker nie eens dat Maanhare uit is nie.
Ek is seker sy sou graag wou.
Heinrich J Louw
terug