SêNet - briewe van lesersArgief
  Uitvoerende redakteur: Etienne van Heerden
  SêNet-eindredakteur: Naomi Bruwer

Adres: Stuur briewe aan
Address: Send letters to
  webvoet@litnet.co.za
Woordbeperking / Word limit: 600
Google

Soek op OuLitNet
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vinnige wenke vir briefskrywers


"... ons strewe na zero-defek"



Poësie en Fiksie:
  • Stuur jou gedigte vir oorweging op PoësieNet aan: gedigte@litnet.co.za
  • Kortverhale vir NetFiksie aan: netfiksie@litnet.co.za
  • Send English poetry for consideration to: PoetryNet
  • Short stories for possible publication on NetFiction go to: netfiction@litnet.co.za
    Expat-uithangplekke!
    Expats, LitNet wil weet waar julle uithang. Stuur die naam van jou dorp of stad “daar in die vreemde” aan expatnet@litnet.co.za, en laat weet waar julle met ander Suid-Afrikaners kuier. Jy kan naamloos bydra, of jou naam noem en/of jou e-pos-adres aangee.



    Taalteleskoop
    Taalsekretariaat
  • (Mis)leading with words to corrupt democratic South Africa (17/08)
  • Spitsberaad oor Afrikaans in tersiêre onderrig (08/08)
  • Jaco Alant gesels oor bemagtiging, taal en die Afrikaans-debat in die Coca-Cola-demokrasie (27/07)

  • Besoek die Argief vir die volledige versameling briewe op SêNet.

    Briewe van:
    15 September 2006 - Tweede uitgawe
    18 September 2006
    19 September 2006














    9 September 2002

    OPPIKOPPI MEMOIRS ...

    As dagbesoeker het mens geen status nie. Jy is ’n slak. Jy het nie in ’n koue slaapsak geslaap, met jou voorvinger die wollerigheid van jou tande afgekrap nie, en ’n Savanna vir ontbyt geniet nie. Verdoem is dié wat na Silk-E of Status ruik. Gmf.

    By die hek kry jy jou stempel en kerriegeel bandjie om die pols wat lyk na WWJD. Die feesterrein lyk effe anders. Meer plek, ’n paar hol wit markiestente wapper vies uit die kollig. Een kant ’n driehoekige blou en rooi springkasteel vir grootmense. Hoog genoeg om te intimideer. Vyf verhoë swaar gelaai met vet versterkers, swart luidsprekers, ligte, muso’s, kitare op aandag. Die Hunters Extreme Main Stage. Lyk so ontuis sonder sy Bosveldbome. Die kleiner Hunters X Rock, Punk en Ska Stage. JOU MA! oral om sy soom gekram. Verby die bruggie waar Henry Ate laasjaar so lekker gekweel het — die Viceroy Dance Stage — in die hoek ’n bokskryt. Agter verby kry ek die Savanna Light Skelm Stage — klein, intiem — dit herroep ietsie van Northam. Slap langs die kampeerterrein se draad hurk die Savanna Jazz, World en Folk Music tent. Lekker baie plek binne, ’n maseharre intimiderende stel dromme bult biseps in die hoek.

    In die Savanna huis met sy oerwoudtrappe kry jy footlongs met geheime vulsels, hemelse stukke vrugte in ’n dik sous (niks piesangs, jippie) en blaarslaai sonder impotensie. Oral is daar koffie. Selfs die mobiele tipes wat soos petroljoggies met ’n jet pack op die rug kafeïen uitdeel. Maar die lekkerste koffie is by die afdakkie wat sê Muffins — R5,00. Die koffie kom uit regte koffiebone en die suiker dop jy sommer in grootmaat uit die melkbekers. Meeste van my geld is in daai afdakkie in— en die sporadiese bevrore windjie het baie met my swakte gehelp.

    Beluister vir 12-Hz (Riku en Jean) by die Skelm Stage. Die klank hik en proes, Riku hoes ’n paar keer by die kitaar verby, maar gou-gou sing die sopraansaksofoon en kitaarsnare met houding. Bokant my kop haal die vaalgroen valskermtent asem op sy eie tyd. Daar is ’n paar skeure in sodat mens boontoe kan loer en die son agter die wolke uitbid. “Rooirok” en “Pakpoort” klink die lekkerste. Liela vra vir “Valley” en Riku gooi. Agter hom roer die oranje en geel lappe met Oppi batik in die wind.

    Net ’n paar meter verby die Supaloos na die Savanna Folk Stage. Frosted Orange se verhoog is bykans ’n rugbyveld. Met die derde itempie dans die voorste linies. Albert skuifel van hoek tot kant sonder om die goue pinkie te laat hik. “Hey Ray” dwing my van my sitplek af — “Do you remember getting high on marley...” en die klimaks klim smaaklik uit Albert se kitaar. “Electric Train” loop skrikwekkend glad, net effens beter as die res van hulle spyskaart. “Voodoo” loop dik in die laaste note. “Who do you looooove...” en die kitaarman wikkel in sy swart pak. Simon is vas aan sy ivoor. Vars, kraaklekker en blou. Ons ken die spyskaart, maar dis g’n stuk minder lekker nie. 45 minute en Frosted Orange gly galant van die verhoog af.

    Ek voel my maag soek ’n ou ietsie en gaan maak vol vir die res van die middag by Savanna huis se smultoonbank. Die footlongs maak by verre die grootste lawaai. Op pad terug na die Folk Stage sien ek die Supaloos is skoon, amper steriel wit. Tot die chemiese blou dampe van onder laat my stik en my oë traan — maar dis beter as Northam se Sondagmiddag-Loos wat net-net wou smelt van die metaangas. Urgghh.

    Laurinda sing Breytenbach. WEG Louw. Rustig, etnies, uit die hart. Haar stem klink soos kristal. Nina Swart regs van haar — en sy is hierdie keer beslis meer hoorbaar as verlede jaar. Mike Rennie toor sy viool en later plienk-plienk hy die snare busker styl. Piet Pompies raak saam met my aan’t sweef — Albert en Roof staan sommer nader aan die speakers. Tussen die ongeskikte doef-doef van die hoofverhoog af kan mens steeds in Laurinda verdwyn. Haar stem vat jou weg. En binne elke gedig wat sy “met haar eie tune’tjies” lewe gee, kan jy rustig sit en jou stres wegluister.

    Ek hoor by iemand ek moet Van der Want & Letcher bespied. Ek maak pad oop tussen die verwarde jong bokkies met hulle zolle, groen snakstringetjies wat hard tussen die boude bo heupbroeke probeer uitklim, denims (verkrag tot laslappies, bleikkolle en bont verfspatsels), vuil kaal tone, vet dye in verkeerde vere en stywe wit meisiefrokkies met bruin sousvlekke (ek hoop). Die son is uit. Hoofpyne verdubbel en truie word kussings.

    Die twee kitare begin voor my speel en die mense sing saam vanaf die eerste noot. Die fotograwe weet nie wie hulle moet afneem nie — om my dans hippies, loslyfies en vloskoppe in die rondte, oë styf toe, hande in die lug. Die harmonie tussen daardie twee mans se stemme is so mooi, so mooi — dit klim en val saam, die vingers trommel saam ’n doef-doef-dommm as punte tussenin, die crescendo’s is volop, die lirieke slim, die note iets wat jy wil onthou. Regs van my smeek die latte vir ’n encore (blykbaar is dit by hierdie jaar se Oppi die uitsondering, nie die reël nie) — en Van Der Want & Letcher gee gewillig in.

    Ek’s reeds op pad na die Hunters Hoofverhoog vir Piet Botha en Vusi Mahlasela. Ek hang voor aan die relings — en die lyfwagte/spierpaleise beloer my suspisieus. Nie een van die blouhemde wat die muso’s moet beskerm, kan blykbaar glimlag nie. Mike Bolhuis se kalante. Ai-ai. Tot die hare is soos syne geskeer.

    Vusi kom op met sy Queen, links van haar is ’n knaap wat sy saksofoon vertroetel. Om hulle neem die Generaal en sy Troepe stelling in. Simon Orange in die loopgraaf. O, en my bliksem daar bars ’n pot oop van Afrika klanke, elektriese kitare, saksofoon, dromme, en dan — GOEIE HEMEL — Vusi se stem. Dis gesmelte sjokolade met geroosterde neute. Dis mooi en diep en ryk en hy voel alles wat hy sing. Ek wil juig vir die soetheid in sy keel, maar hy sing “Africa is dying, I hear her crying...” en ek dink — Vusi for President. Die Queen “aaaiieeee-aaaiieeee” en haar huil trek my hart saam. Vusi gee oor aan die Generaal.

    Dan doen hulle “Mamba” en “Liberty” en agter my dans koppe en voete, tande glimlag wit en stowwerige bene toyi-toyi vir die Troepe. Rook kom uit die muur en Piet se hande word mistig op die klawers. Hy speel. Hy sing. Ons skree ons verhemeltes vol krake. Dan weer Vusi. Ek wag tot die man langs my sy oë oopmaak — hy’s in hemel nommer sewe — en vra vir hom watter taal Vusi sing. “Tswana”, sê hy en soen sy dolla. Dan kom “Goeienag Generaal”. Ooo, ons bons en spring en jil, Paul op dromme klits ons breins tot ’n pappery — en die lewe word net daar amper onhoubaar lekker. Die muso’s sê dankie, aan mekaar vas omarm, en buig diep, en bevredig. Vusi, Vusi, o Vusi jy’s woes. Jou hart is groot en warm en met jou stem lig jy hartseer van sy gat af, druk glimlagte in en plak ’n pleister met Zambuk salf elke blerrie keer as jy dak toe sing.

    Die son is weg. Niemand kry koud nie. Die grasperk raak nou warm, oral dans mense sonder agendas, hier hardloop ’n string meisies kaalvoet, om die middel vasgebind met ’n munisipale rooi-en-wit plastiektou. Hulle giggel histeries, Hunters Extreme in die hand. Een paloeka met ernstige lewerskade probeer agterna steier. Hy val en bly lê. Snorrrrk. Hier kom ’n ou verby met ’n kopwond. Jy moet jou dop los as jy vooroor val, Dude.

    Sewe-uur klim vinnig uit die luidsprekers om my en oral word gesmul aan schwarmas, biltong, krullerige aartappelpenne en kiloliters bier. Hier is bier koning. Bier en musiek. Ek sit en wag vir agtuur agter die Rock & Punk Stage. ’n Spul vreemde urke genaamd Hog Hoggidy Hog probeer musiek gooi vir ’n massa jillendes voor hulle — en die sanger skrou heeltyd “Oppi-FOKKEN-Koppi!!!!!!!!” Tot kotsens toe. Hulle maak klaar, ek sien hulle deur die netgordyn terughol agtertoe, teen die trappe af. Hoofsanger begin uittrek. Siestog, hy kry seker warm. Hy trek uit en uit en uit — en trippel kaal rond terwyl hy vir die res van die band wag om ook broek af te pluk. My mond val oop. Uiteindelik is drie van hulle kaal. Sanger, baskitaar en dromme. Die ander vier hou hulle bont boksers aan.

    Hulle hol terug op die stage. Gille. Georganiseerde pandemonium. Kameras flits. Bulderende gelag — ek loop vorentoe om die petalje te beloer. Wragtig. Sanger het nie ’n kitaar nie. Hy sing kliphard, spring op en af (terwyl ander dele ietwat bonsend probeer byhou), hy loop op en af, en kyk vies vir sy tjom wat agter die baskitaar die juwele toehou. Dromme is nog makliker — hy kan sit sonder skande!!!! Sanger loop op en af, trippel en hol, die meisies giggel senuweeagtig, ander druk teen mekaar om ten minste ’n goeie kameraskoot van sy (kug) instrument te kry. Die koue help nie. Dinge trek kleinkoppie. Ek strompel agter om, my maag in krampe soos ek lag. Die laaste noot word uitgekreun, en hulle storm af — trek aan onder by die trappe. “Cool, Bru!” hoor ek met die wegstap. Ha ha ha ha ha.

    Ek probeer equilibrium kry met Shawn Phillips, en gaan sit reg onder die Bolhuis-vleispaleis se linkeroksel. Hy beloer die begeesterdes wat nader as ’n meter van Shawn af sit. En skuif hulle terug met ’n kwaai dik voorvinger as hulle een sentimeter oortree. Shawn probeer die klank met daai swaar Texas twang uitsorteer — om hom ’n ruiker van kitare gepak, selfs ’n wrede dubbeldoor. Waarmee hy dan ook sommer begin speel. “You’re free, you’re free...” sy stem is die kleur van rou hawermout, saam met sy note is die kitaarklank nou mooi, hy sing sommer vir die heelal — en die effek van sy pogings loop soos branders. Hy slaan die snare so hard dat die skootrekenaar links van hom suutjies-suutjies agtertoe skuif, verby die twee klein teddiebeertjies wat hy op die klanktoerusting staangemaak het... suutjies verby die drade — en boinnnnk daar neuk die ding af. Een klankman vang dit net betyds voor dit verder val — en sit dit net so suutjies terug. Shawn maak klaar, kyk om met ’n “deed that fawl off?”. Hy skuif goeters rond, druk aan die mikrofoon — hy’t gou agtergekom mens kan niks hoor die oomblik as hy afkyk na sy kitaar nie. Nog ’n paar klankglipse. Ek loop agter verby, klim oor lywe stampvol gepak.

    Buite loop lywe rond met piepklein liggies wat rooi en groen flits soos motoralarms. Of vuurvliegies op crack. Ander het dun neonbuisies om die nek, arms, bene. Ek kyk Main Stage se kant toe en sien ’n vreemde blonde punk soos ’n mal hoender op die verhoog tussen sy muso’s rondhardloop. Hy gil en skree, praat Vlaams (of iets) en swaai sy arms, spring, bons — dit maak my moeg om net na hom te kyk. Aaaa. Die program sê dis die Heideroosjes. Ek luister nog ’n paar minute na hulle en besluit die naam is totaal misleidend. Tussen sy atletiese getjoing en rittels vertel hy hulle’s al 13 jaar aan die gang, hulle’s moerse famous, is al gatvol vir die bekende goed wat hulle so baie moet sing, en val weg met iets soos “Nobody loves me... nobody hates me...” vir ’n groot-groot klomp Oppi’s. Die twee groot TV-skerms wys elke beweging. Dan begin hy uitasem hyg (kalmeer, Dude) en probeer oor Braveheart praat. Ooo nee, tog nie nog kaalgatte nie. Hy vra die skare om twee aparte vegkampe te vorm. En sodra hulle weer begin speel, moet hulle in mekaar inbliksem en skedels kraak, anargie saai en total mal gaan. Blaas-blaas in die mikrofoon deel hy die see van lywe soos Moses. Kitare begin losruk. In die voorste linies sien ek ’n paar goeie pogings — ledemate buig in onmoontlike rigtings, koppe kap en barbaarse geluide klink op uit die middel van die moshpoppe. WOES MAN WOES.

    Nee o koek, tyd vir iets rustiger. An Pierlé toets klank in die Folk Stage. Dit neem ’n ewigheid, maar uiteindelik is sy tevrede. Haar Belgiese tong klink totaal vreemd, heeltemal te vinnig. Sy verdwyn ’n oomblik, kom dan terug om die hoek met ’n swart moulose blink rokkie. Sjoe. Die blonde hare los oor die skouers. Daar’s ’n maseharre viool wat vasgehou word deur ’n stywe wit pak, daar’s elektriese kitaar wat onaardse lekkertes uitbraak deur ’n man wat lyk soos ’n mollige Eric Clapton, en dan’s daar Tarzan op die gespierde stel dromme. An betree haar klawers, gaan sit op ’n groot deurskynende plastiekbal.

    Wat, doen sy fisio? Is haar rug seer? Onmiddellik sien ek wat sy doen toe die note begin. Sy BEWEEG op daai bal. Sy roer haar boudjies, sy krom haar rug, sy druk haarself vas, sy rittel, sy skuif rond, haar latlyfie krul soos ’n slang. Om my sien ek hoe die seksualiteit wat uit haar loop die mans se aandag van haar puik stem en note wegpluk. Sy slaat die klawers, sy sing met mening. An is nie bang nie. An kan sing. Haar bra se bandjie hou aan afglip — en sy hou die blerrie ding aan optrek, sommer so tussen die speel deur. Ag toggie An, los dit waar dit hang. Dit lyk beter — rowwer. Sy kry dawerende hande wat klap en klap en fluite wat deur die dak trek.

    Ek verdwyn na ’n rukkie — Valiant is tienuur op die Main Stage en ek soek my plek teen die reling. Saam met Renata en Antony van die Blue Moon wag ons geduldig die halfuur om. Appelgryn toets die dromme, Schalk toets die basstok en Simon en Albert geniet ’n laaste verbale sessie. Valiant toets vir Icecream, die sexy wit kitaar — langs haar staan ’n vreemde pikswart kitaar. Agter my groei die skare soos ’n bont soufflé. En ja. Vir ons is die Kroon in sy beste beste, BESTE lewende vorm. Onder die rooi Extreme plakkate en swewende meerminhonde in die dak kom die klank na my toe. Rou en warm. “Maanhare” word stuk vir stuk bekendgestel aan die oningeligtes.

    My wange word warm met die titelsnit. In die middel daarvan val Albert deur ’n baksteenmuur met ’n kitaar so skerp, my ore deins lafhartig terug. Agter my ’n kol ouens wat skreeu: “AAAALBERT FROOOOOSSSSTT!!!!!” Hy glimlag skelm, en gaan voort om sy Fender met liefde te verkrag. Weer van agter af: “AAAALBERT FROOOOOOSSSSTT!!!” Valiant beweeg uit die kollig met ’n lui gryns, verdwyn in ’n wolk rook. Albert kom vorentoe, sy skouers wikkel los sonder potjies, djienngg-djiengggg, sy voete skuifel met hulle eie ritme — en Albert vleg weer snare. Ek wonder hoe’t hy uit sy ma uit gekom — hy’s tog duidelik MET die kitaar gebore. Ons hang aan die staalreling, ruk en skud, dit begin bewe en rittel. Die spierpaleise staan stywebeen en die arms kruis. Hulle hou die reling dop.

    Ons dans soos mal diere, soos besetenes met permanente hondsdolheid. Valiant verskyn uit die rook — sy gesig vol plesierigheid en witwarm rock koors. “Vloek van die kitaar”. “Die Here weet, die duiwel was daar!!!” “Cyber Sakkie”. Valiant lei dit in met “... gaan kuier op my website. Die wêreld se grootste fishbowl.” Dan vertel hy van meisies met bakkies en klere wat waai. “Roekeloos” maak lywe warm. Ons dans. Spring. Gil met nuwe stembande. Hier toyi-toyi die Viceroy t-shirts weer in ’n dik linie. Daar word ’n babatjie uit die waentjie getel en vir Valiant in die lug gehou.

    Die bekkie kwyl spoeg — dit lyk soos ’n glimlag! Antony gil vir die kameraman wat die filmwerk doen vir die twee groot TV-skerms — “Hey man fuck off there! We want to see the show, not you!” Senuweeagtig retireer die mullett-man. Nie lank nie, of hy’s terug onder Albert se regterelmboog. Albert gryns, skuifel middel toe. Die stage is moer groot — en meer as een keer dans hy weg van die kamera af. En smelt in die snare in. Hard, glad, supersonies vinnig. Hy gaan staan teenoor Valiant, die kitare paar soos diere. Terug na die agterste luidspreker toe, gee die Fender ’n monoloog. Die gille meng en spat. Iemand gooi ’n opgeblaasde kondoom oor die reling. Die spierpaleis probeer dit teruggooi, dit waai windgat terug. Hy trap dit plat. Dan van agter kom ’n neon-armband. Land skrams teen Valiant se linkerskouer. Hy mis nie ’n sekonde met Icecream nie. Van daar af val niks weer op die verhoog nie. En dan kry ons “Katryn” uit die swart kitaar. Ek ken dit nie. Maar ’n pragtige handvol note — duidelik vir ’n spesiale persoon.

    Ag nee, daar is net 45 minute. Daarom begin “Mystic Boer” se spokerige klanke uit die dromme en baskitaar heeltemal te gou. Bokant my hang ’n bleek stukkie maan, om my begin arms sweef. “Grys voëls het ons dopgehou.” Valiant sweef. “Grys voëls.” Die oë vernou. Die denimbene word stil. En dan orgasmiese kakofonie. “VEERTIG DAE EN VEERTIG NAGTE... SOEK ONS DIE MYSTIC BOER!!!!!!” Schalk, Simon, Albert, Marius, Valiant. Hitte en passie en rock smelt binne daai klank en riwwe en gladde trappe wat met hitsige vingers op en af getrippel word. Bliksem. Die rook. Die blou ligte rol. Die rook word pers en geel. Wit rook gooi krulle om Valiant se bene. Met die laaste doef-doessshhhh-dongggggg.... word die rook rooi. En agter hulle flits al die ligte aan. Wit spiese.

    Valiant sê dankie, die glimlag kom uit sy hart — verdwyn agter die swart gordyn. My blaas klop dringend teen my borsbeen, en ek glip vinnig na die ry Supaloos, spoegafstand van die stage. Ek hoor nog Albert se laaste dik, donker snaarspasmas deur die Loo se plastiekmuur bewe. En die gille klim ’n laaste keer teen die moerse springkasteel uit.

    Buite beweeg die lywe soos ’n reuse amoeba na die Punk Stage vir Battery 9. Die aluminiumklanke begin uit die luidsprekers klim. “Bat-te-ry-Ne-ge... Bat-te-ry-Ne-ge...”

    Ek gooi handdoek in. Op die sementhoofweg hoor ek “Mamba” en “Gistraand om Dusketyd”. “Whisky en Reën” En ek weet — al is die Bosveld weg, die kors vullis op jou lyf, die gras in jou hare, die stof in jou koffie, die wit hekse met hulle bongo dromme, al is Northam net ’n herinnering — die musiek in Fonteine loop dik in die bloed. Luister terwyl jy kan — en sweef sonder skoene saam met die bont meerminhond.

    Katvrou

    terug


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.