5 Augustus 2002
VIR JAQUES DE JAGER — ’N LAATKOMMER ...
Nee, Jaques, ons is nie besig met ’n soort Afrikaanse oorlog nie. Aangesien dit voorkom dat jy ietwat laat op hierdie debat ingeskakel het, net gou kortliks die feite:
Steve, Patricia, Jurie en andere mag backtrax gebruik. Dit is hulle volste reg om al die geld in hul gatsakke te steek, geen musikant of klankman te hoef betaal nie, en sonder waarskuwing op hul “lewende” konsert-plakkate die publiek onder die indruk te bring dat die musiek “lewend” is. U betaal dus vir mimiektoertjies.
Maar, om die musiekindustrie te beskerm, behoort daar ’n tantieme te wees indien hulle die orkes ens met geblikte musiek wil vervang.
Tans is dit ook Steve, Patricia, Jurie en andere se voorreg om met front trax lewende konserte te doen. Dit is waar die agtergrondmusiek asook die stem/stemme, soos ’n CD aan die gehoor voorgespeel word.
DIt is fraud en behoort teen die wet te wees. ’n Verskoninkie — soos toe Kurt Darren op die KKNK hieroor uitgevang was, “die agtergrondsangers het vasgehaak”, is regtig nie goed genoeg nie.
Dit is jou en ander lede van die publiek se goeie voorreg om hierdie ge-mimery vir soetkoek op te eet, Jaques.
Ek en andere is slegs met ’n bewussynsveldtog besig om die toekoms van regte en lewende musiek op ’n regverdige wyse te beveilig.
Hierdie veldtog het niks teen hierdie mense as persone nie, dis die sisteem waarin hulle beweeg en management is gewoonlik hier skuldig.
Indien jy so baie van hierdie metode van “vertonings” hou, sal jy baie geld kan spaar deur eenvoudig die musiek op CD sommer tuis op jou hi-fi te speel — dis presies dieselfde as die kunstenaars se shows — plus ’n lyfswaai of twee.
Sela.
Anton Goosen
terug