31 Julie 2002
BASTIONS, TOEGANG EN DIVERSITEIT ...
In sy jongste reaksie op my, bring Etienne van Zyl die kernpunt van Kader Asmal se nuwe hoër onderwysplan ter sprake: toegang. Dit hang saam
met n ander sleutelterm in die huidige debat oor die transformasie van hoër onderwys, te wete diversiteit.
Teenoor die vergroting van toegang
en die bevordering van diversiteit stel hy dan die wekroep om die Universiteit van Stellenbosch as n bastion van die Afrikanerdom te beveilig en te bewaar, dws Stellenbosch as gemeenskapskollege.
Die een geldige punt in hierdie retoriese kontras is dat die ideaal van Stellenbosch as Afrikaner gemeenskapskollege inderdaad nie te versoen is met die ideale van toegang en diversiteit nie. Die probleem is net
dat Etienne nie duidelik maak van wie dit is dat die wekroep vir n
gemeenskapskollege uitgaan nie.
Dit is alweer n klassieke geval van n strooipop met n hamer bykom totdat hy aan flarde lê. Soos mense wat
dit teen die taalstryd het dat ons nie van almal kan verwag dat hulle
met ons Afrikaans moet praat nie, so asof daar enige prominente deelnemer aan die huidige debat is wat so iets verwag.
Of ander wat op n preektoon vir ons vertel dat Afrikaans nie meer dieselfde dominante
posisie as in die verlede kan hê nie, so asof enige iemand n dominante posisie vir Afrikaans vereis (en asof die dominante posisie van Engels soos in die verlede wel OK is).
Ek was n vlieg op die muur by die Groep van 63 se Wes-Kaapse beraad. Ek het my tjoepstil gehou en gekyk wat aangaan. Ek het die oordragte
baie geniet, maar sterk verskil van die posisies wat deur ZB du Toit en Koos Malan uitgestippel is. Die voordragte, ook die van Leopold Scholtz en andere, het, terloops, nie gehandel oor die universiteitskwessie nie.
Dit is eers tydens die algemene bespreking dat dit ter sprake gekom het. Die sprekers wat die sterkste gepleit het vir n meer inklusiewe
Afrikaansheid, wat nie gebonde is aan die eng Afrikanerbegrip van die verlede nie, te wete Herman Giliomee en Leopold Scholtz, het hierin die
voortou geneem.
Hulle standpunt was beslis nie dat Stellenbosch n Afrikanerbastion moet wees nie, maar bloot dat Afrikaans as hoofvoertaal op Stellenbosch behoue moet bly en dat daadwerklike stappe geneem moet word om dit te verseker. Hulle hoofargument daarvoor was dat Afrikaans die
meerderheidstaal in die Wes-Kaap is en dat geen ander universiteit in dié provinsie vir Afrikaanse onderrig voorsiening maak nie.
Ongelukkig was dié wekroep gekoppel aan n onnodig vyandige houding jeens Kader Asmal (tweede Treurnicht), n skerp aanval op die rektors (sonder om
te spesifiseer wie daarby in- of uitgesluit is) en n stryd- en protesretoriek wat vir my gevoel nie gepas het by die fase waarin die gesprek hom bevind nie.
Ek meen dat n ernstige beroep benadering strategies beter sou gewees het. n Verdere probleem is dat n mosie aangeneem is deur n vergadering wat nie behoorlik gekonstitueer is nie en waarby dit glad nie duidelik is wie wel en wie nie die mosie ondersteun het nie.
Ek besef ook dat die kommer oor Afrikaans by die Groep van 63 al te dikwels saamhang met n strewe om n Afrikaanse gemeenskapslewe statutêr te laat garandeer. Ek is te veel van n klassieke liberalis om daarmee gemaklik te wees. Vir my lê gemeenskapsregte opgesluit in die
individuele reg op vrye assosiasie. Om daarby ook nog groepe wetlik te definieer en hul voortbestaan as groepe statutêr te probeer verseker, gaan vir
my te ver omdat dit juis dreig om vrye assosiasie aan te tas. Gelukkig was daar in die Groep se mosie hierdie keer geen sprake van so iets nie.
Afgesien van al my voorbehoude, deel ek die Groep se kommer oor die toekoms van Afrikaans as akademiese taal. Hierdie kommer deel ek met die meerderheid Suid-Afrikaners, asook met leidende intellektuele soos Jakes Gerwel en Neville Alexander wat net so sterk pleit vir die behoud van
Afrikaans op Stellenbosch.
Maar wat nou van toegangklikheid en diversiteit. Prof Chris Brink, die rektor van Stellenbosch, meen dat n Afrikaanse karakter by Stellenbosch nie met hierdie ideale instryd is nie. Ek deel sy standpunt.
In die eerste plek moet n mens daarmee rekening hou dat elke taal in die wêreld n barrier to access is, om n gunsteling term van Kader Asmal te gebruik. Die blote feit dat n universiteit n voertaal het maak hom vir sekere mense ontoeganklik. Engelstalige universiteite is
byvoorbeeld ontoeganklik vir 80% van Afrikataalsprekers in Suid-Afrika.
Hierdie inherente beperking kleef nie net aan Afrikaans, soos die minister suggereer nie. Om access tot hoër onderwys vir alle Suid-Afrikaners te verbeter en daarmee outomaties die diversiteit op kampusse te bevorder is daar net een moontlikheid: Verskillende universiteite moet verskillende tale gebruik. Die aantal universiteite wat aan elke taal toegeken word moet rofweg strook met die land se taaldemografie. So nie, word daar teen bepaalde sektore van die bevolking gediskrimineer.
Maar hoe moet die taalkoek gesny word? Sommige meen dat die regering tale aan universiteite moet toewys om te verseker dat elke taal haar regmatige deel kry. Hierdie benadering sit implisiet in Gerwel se voorstelle, waarvolgens twee universiteite Afrikaans moet koester terwyl elke
ander inheemse taal deur ten minste een universiteit gedien moet word. My probleem met hierdie benadering is dat dit n hoë konflikpotensiaal het, net soos die Groep van 63 (wat Gerwel se voorstelle steun) se idee van wetlik gereguleerde groepselfbeskikking.
Soos met die Belgiese taalwetgewing, gee dit aanleiding tot n nimmereindigende stryd oor watter gebied nou aan watter taal behoort, wie bevoordeel en wie benadeel word ens. Dit is byna onvermydelik dat sekere groepe deur so n beleid te nagekom sal word.
n Ander benadering is om die keuse aan universiteite oor te laat en dus op markkragte te vertrou om in die behoeftes van die verskillende taalgemeenskappe te voorsien. Die probleem daarmee is die probleem met elke verabsolutering van die vrye mark: Diegene wat ryk bedeeld is met materiële middele en sosiale invloed is in n beter posisie as ander om hul belange te bevorder.
Daarom is ek persoonlik ten gunste van n benadering wat elemente van sowel die wetlik gereguleerde en die markgedrewe bevat, maar die
slaggate van beide vermy.
Een manier sou wees om dit vir alle universiteite verpligtend te maak om ten minste twee voertale te gebruik, maar die keuse van voertale aan
hulle oor te laat. n Ander manier sou wees om n getalsformule te gebruik. Sodra n sekere persentasie studente in n bepaalde kursus op onderrig in n spesifieke taal aandring, lê dit n verpligting op die
betrokke universiteit om die kursus in daardie taal aan te bied. In beide gevalle geld dieselfde reël vir alle universiteite, sodat niemand oor onregverdige bevoordeling of benadeling kan kla nie.
n Verdere probleem met Asmal se siening is dat hy nie Etienne se koninklike weg volg deur sy beleid op soliede gegewens te baseer nie. Daarom vind ek dit vreemd dat Etienne hom so ywerig byval. Asmal beweer bloot dat Afrikaans as barrier to access dien, sonder om dié stelling
met feite te motiveer. Feit is dat Afrikaanse universiteite deur die bank baie meer toegeeflik oor taal is as die Engelse universiteite. Wat maak
Asmal van die feit dat die toetrede van swart studente tot HAUs steeds groei, terwyl die Engelse universiteite lankal n plafon bereik het?
Wat maak hy van die feit dat die gemeenskap wat die minste toegang tot hoër onderwys het bruin Afrikaanssprekendes is? Wys dit nie dat Engels
tans meer van n barrier as Afrikaans is nie? En wat van die feit dat die meerderheid swart studente (dws diegene wat matriek geslaag en universiteitstoelating gekry het) Engels redelik beheers, terwyl in hul
leeftydsgroep as geheel slegs die minderheid Engels magtig is?
Wys dit nie dat Engels, net soos Afrikaans, die meerderheid swart jongmense se toegang tot hoër onderwys versper nie? En as taal die skuldige is wat toegang versper, hoekom probeer die regering die probleem dan oplos deur byvoorbeeld studente na Kuba te stuur om medies te studeer? Is Spaans
minder van n barrier as Afrikaans? Dit wys tog duidelik dat die barrier storie grootliks uit iemand se duim gesuig is. Toeganklikheid het in ons land meer met geld en keuringsvereistes as met taal te doen en die rol wat taal wel speel dui daarop dat Engels eerder as Afrikaans die probleem is.
Dit alles maak dit volstrek onlogies om nou Engels in die hoër onderwys te wil versterk. As Asmal regtig toegangklikheid wil verhoog, sal hy
eerstens seker maak dat daar genoeg Afrikaanse studiegeleenthede vir die voorheen en steeds benadeelde Afrikaanssprekendes is en tweedens
kreatiewe stappe begin neem om ander tale as voertale te laat ontwikkel. Op die oomblik worstel verskeie NROs en individuele burgers met hierdie taak, maar die regering het nog nie n vinger verroer om daarmee te help
nie.
Dit wat toegang betref. En wat van diversiteit? Dit lyk my dat dié term veral in verband met ras gebesig word. Dit beteken dat dit hier nie gaan oor die inherente waarde van n diverse studente- en personeelsamestelling nie, maar oor die regstelling van die onreg wat in die verlede op
grond van ras gepleeg is. Taaldiversiteit, godsdiensdiversiteit en al die ander diversiteite sal, so word aangeneem, vanself kom, maar rasdiversiteit moet pro-aktief bevorder word: daar moet meer voorheen benadeeldes op histories wit universiteite kom.
Ek sê: Amen. As dit egter beteken dat elke individuele universiteit die presiese bevolkingsamestelling van die land moet weerspieël in terme van swart, wit, kleurling en Indiër, dan kan ek dit nie aanvaar nie. Miskien kan dit as ideaal vir die hoër onderwysstelsel in sy geheel gestel word, maar nie van elke afsonderlike universiteit nie. By lg moet die streek waarin die universiteit geleë is sy voedingsgebied eerder in ag geneem word.
So nie, sal die strewe na verteenwoordigendheid juis
diskriminerend inwerk op die plaaslike bevolking. Die meerderheid inwoners van die Wes-Kaap, byvoorbeeld, is bruin. n Universiteit wat n verteenwoordigende studentesamestelling het, sal dus n meerderheid bruin studente hê.
Dit is nie die geval by Stellenbosch (hoofsaaklik wit), UWK (hoofsaaklik swart) of UCT (hoofsaaklik swart) nie. Duidelik gaan meer Engels nie hierdie probleem oplos nie, eerder meer Afrikaans. As
Asmal die UWK en UCT verplig het om Afrikaans vir strategiese kursusse as onderrigtaal in te voer, sou daar nog n mate van redelikheid in geskuil het, maar sy huidige voorstelle kom neer op growwe diskriminasie teen n voorheen benadeelde en op hierdie gebied agtergeblewe
gemeenskap.
Verder sou ek self wou sien dat diversiteit ook in n breër sin gekoester word. Stellenbosch is byvoorbeeld tans die enigste universiteit in die Wes-Kaap wat rofweg die taaldemografie van die provinsie weerspieël.
In die Noorde kom Tuks en RAU baie nader daaraan as WITS. Daar is Zulu, Sotho en Afrikaans immers oorheersend en Engels relatief klein, ook in
Johannesburg. As ons tevrede is met rasdiversiteit kan ons, in ons pogings om dit teweeg te bring, nuwe onreg skep. Ons kan byvoorbeeld deur middel van Engels as voertaal daardie swartes wat Engels magtig is in die universiteite intrek en dan tevrede terugsit omdat ons nou diversiteit het.
In die proses kan ons egter bydra tot die verdere marginalisering van daardie swartes die meerderheid wat juis deur so n beleid uitgesluit word. Terselfdertyd word taaldiversiteit in die akademie daarmee n
nekslag toegedien en die taalregte van talle gemeenskappe grof geskend. Dit is n klassieke geval van n quick fix wat meer probleme skep as oplos.
Wat in elk geval duidelik is, is dat niemand tans bepleit dat enige universiteit n Afrikanerbastion moet wees nie en dat daar n indringende gesprek nodig is oor wat presies die oorsake vir lae toeganklikheid
is en wat presies met diversiteit bedoel word.
Gerrit Brand
terug