21 Julie 2002
TAALSTRYD SCHMAALSTRYD ...
Gerrit Brand is so opreg vriendelik (en ek bedoel dit opreg) terwyl hy my in ’n blik probeer druk dat ek my daarvan sal weerhou om te sê dat hy, synde ’n besoldigde werknemer van die Taalsekretariaat, sy siel en bes moontlik ook sy intellek aan die taalbeweging uitverkoop het, en nou terugsink in die gerief daarvan om net die “party-line” te kan volg.
Alles het ’n prys, ook die institusionalisering van ’n onafhanklike denker, of hoe, ou maat? Ek sal my tot ’n paar aantekeninge oor die sogenaamde taalstryd beperk. Of is dit nou die Schmaalstryd?
Henry Kissinger het ’n slag oor studentepolitiek opgemerk dat dit so vitterjoels is omdat dit so irrelevant is. Dieselfde geld die sogenaamde taalstryd. Kom ons kyk ’n bietjie van naderby wat die taalstryd ons al in die sak gebring het.
Eerstens is daar die monumentale oorwinning dat ons bakkies joghurt in Afrikaans kan eien. Noudat Jan Rap so ’n groot aanhanger van my skryfwerk geword het, het ek dit ter wille van sy selfbeeld oorweeg om ’n gedig te skryf oor hoe dit tot my identiteit bygedra het, en hoe ek sedert daardie oorwinning sommer ’n nuwe mens is elke keer as ek in ’n supermark instap.
Ek sukkel egter met die rym (as enigiemand weet van ’n lekker woord wat met joghurt rym laat my tog weet asb) en Jan sal nog ’n rukkie moet wag vir die “Ode aan ’n Joghurtbak”.
Tweedens sit ons (eintlik is dit minister Asmal wat nou daarmee sit) met die formidabele Gerwel-verslag. Hierdie meesterstuk is die gevolg van ’n spanpoging deur ’n hele brigade ou mans wat hulle uit hulle geveerde nessies gelig het om seker te maak die donsies bly waar hulle is. Hulle sal natuurlik enige aandeel ontken in die feit dat minister Asmal nou ’n sweep in sy hand het waarmee hy die Universiteit van Stellenbosch in toom kan hou deur, elke keer as dit wil handuit ruk, te dreig om dit, aan die hand van die Gerwel-verslag en met die goedkeuring van Afrikaners, tot ’n gemeenskapskollege te verklaar. Maar dis die taalstryd wat daardie wapen in minister Asmal se hande geplaas het. Punt.
Die taalstryd soos hy tans daar uitsien dra dus wesenlik by tot die agteruitgang van Afrikaans. Minister Asmal hoef nie bose planne uit te dink om Afrikaans te kelder nie; indien hy hoegenaamd sulke bedoelings het, hoef hy net agteroor te sit en wag terwyl ons taalridders weer op hulle pienk olifante klim en die vestings storm.
Om die mooi Afrikaanse vertaling van ’n Engelse spreekwoord aan te haal: hulle maak net hulle bekke oop om van voet te verwissel. My raad aan Woema Man en Gerrit Brand, aangesien hulle daarvoor gevra het: kry die spul net om hulle bekke te hou. Intussen dank ek die vader dat minister Asmal sy kop hou en hom nie aan hulle steur nie, behalwe om sy moer van tyd tot tyd te strip oor hulle beledigende uitlatings.
Gelukkig het gewone Afrikaners hierdie klomp ou vrouens met ’n nat broek al lankal sien drup. As Jan Rap dink ek gaan uit my pad om hulle te diskrediteer, kan hy gerus wees. Die maters kry dit self reeds skitterend reg. Ek het ’n heeltemal ander agenda. My probleem is dat hierdie nat broekens ’n hele klompie professorale stoele volsit, en terwyl hulle die taal willens en wetens in die afgrond probeer ry, is hulle ook besig om die laaste bietjie openbare aansien wat die akademie nog het, in sy kanon in te stuur.
Die hele tyd moet mens nou hoor hoe die taalstryd kwansuis gebaseer is op onbetwisbare “feite” wat deur respektabele wetenskaplikes opgediep is. Gerrit is natuurlik heeltemal reg dat mens êrens ’n standpunt moet inneem, maar dit is intellektuele bedrog om te wil voorgee dat ons hier met ’n voldonge feit sit wanneer daar niks meer agter steek as hipoteses wat professors uitdink om hulself mee besig te hou nie.
Dis nou nie elkeen se idee van pret nie, maar dit is juis in dié vryheid om te sit en speel met idees waaraan die akademie sy vermoë te danke het om bruikbare kennis en insig te genereer, en waaraan hy gevolglik sy status ontleen. Elke dissipline het sy eie stel reels om te bepaal wanneer ’n hipotese begin om ’n onbetwisbare feit te word.
Ek sal nie nou in detail daaroor aangaan nie, maar volgens daardie reëls is dit feitlik nooit. Waar hipoteses nou sommer lukraak buite die konteks van onafhanklike “peer review” as die gegewe verkondig word, skep dit die indruk dat akademici sommer vir kwaadgeld rondloop en ’n klomp snert wêreldkundig maak. Wie wil sy kind na ’n universiteit stuur wat hulle met sulke strooi besig hou?
Neem die voorbeeld van die brief wat twee filosowe verbonde aan die Groep van 63, Danie Goosen en Pieter Duvenage, aan Marlene van Niekerk geskryf het (Beeld, 19/7). Onder die klomp goed wat hulle kwytraak, haal hulle die Duitse filosoof Hans-Georg Gadamer aan wat verklaar dat taal die werklikheid is, seker onder die indruk dat hierdie siening hulle taalstryd legitimeer. Of hulle in die normale gang van sake hierdie soort kapstokfilosofie bedryf sal ek nie weet nie, maar so behep is hulle om hulle taalstryd intellektuele geloofwaardigheid te gee dat hulle buite rekening laat dat Gadamer se stelling op vele wyse binne die taaldebat vertolk kan word.
Byvoorbeeld, as dit dan waar is dat taal die werklikheid is, dan maak dit mos sin dat mense die taal sal kies wat hulle die grootste toegang tot die werklikheid gee. In ’n geglobaliseerde wêreld, maak dit op grond van Gadamer se aanspraak dus sin dat mense Engels sal kies. Sal die geleerde here dan konsekwent wees en op grond van hierdie interpretasie sê: goodbye taalstryd?
Ek het in vorige skrywes reeds daarna verwys dat Gadamer se siening nie sonder meer na die taalstryd oorgedra kan word, omdat dit neerkom op ’n vergeet van die ontologiese verskil waarteen Gadamer se leermeester, Martin Heidegger, so onverbiddelik gekant was. Deur die ontologiese verskil te vergeet, maak hulle hulle skuldig aan die vermitologisering van die Syn waarvan Adorno tewens ook vir Heidegger beskuldig het. Nou verwag ek nie van Jan Rap om die ontologiese verskil aan sy maats te verduidelik nie; wat ek wel verwag is dat filosowe soos Danie Goosen en Pieter Duvenage sal dink voordat hulle die wederkoms van apartheid aan die hand van filosofiese konstrukte verkondig.
Daar is baie ander voorbeelde; ek sal net nog een kortliks byhaal. Ons moet gedurig hoor dat taalsosioloë dit en dat oor die taal sê. Wat ons hooggeagte geleerdes vergeet om te noem, is dat mens ’n sosiologie van omtrent alles denkbaar kry: godsdienssosiologie, gesinsosiologie, werksosiologie, ekonomiese sosiologie, sosiologie van kennis en wat nog meer.
Elkeen van daardie subdissiplines handel op ’n beskrywende en verklarende vlak oor iets wat universeel menslik is. Maar daar word ook op ’n meer oorkoepelende vlak sosiologie bedryf, omdat dit gebeur dat van die aspekte van die menslike werklikheid met mekaar in konflik kom. Die werklikhede van taal kan dus in konflik kom met die werklikhede van kennis en werk, byvoorbeeld, terwyl die werklikhede van die gesin in konflik kan kom met die werklikhede van instellings, ens.
Andersyds kan van hierdie werklikhede mekaar aanvul. Sosiologie maak gebruik van oorkoepelende paradigmas om sowel samewerking as konflik te probeer verklaar. Om dus een aspek uit te lig en dit onder die vaandel van sosiologie as die aangewese plan van aksie aan te bied, is eweneens ’n geval van intellektuele bedrog. Indien nie, dan van intellektuele onbeholpenheid. Weereens verwag ek nie dat Jan Rap dit alles aan sy maats moet uitlê nie (alhoewel die oefening hom goed sal doen). Wat ek verwag is dat taalkundiges soos Peter Louw sal dink voordat hulle die goed hier aan ’n politieke kapstok kom hang en die sosiologie daardeur voëlvry verklaar.
Intussen bly dit my voorreg om, soos Gerrit uitgewys het, op my eie manier tot die taalbeweging van diens te wees.
Etienne van Zyl
terug