16 Junie 2002
MOENIE ZOID-GENERASIE MET BAGGAGE OPSAAL NIE ...
Ek stem heeltemal saam met jou, Amanda. Ek dink ook dis verskriklik stompsinnig om Karen Zoid op te saal met ’n hele nuwe generasie se baggage. Sy is ’n deel van daardie nuwe generasie, maar beslis nie noodwendig verteenwoordigend van almal nie.
Die media deel te gerieflik etikette uit: Karen is deel van die nuwe golf in Afrikaanse musiek, en sy behoort so vry as moontlik gelaat te word om te doen wat sy wil, en op enige manier wat sy verkies. Die prophet-of-a-generation jas is ’n moerse heavy innuendo om vir iemand aan te trek, dit sal haar net later opsaal met gewaande verantwoordelikhede teenoor daardie generasie en haar sodoende afrem en deprimeer.
Gee haar vlerke, los haar om kitare te verbrand as sy dit wil doen, dis heeltemal aanskoulik genoeg en boonop entertaining. Dis tienduisend keer meer heroïes as necklaces in hierdie tyd waarin ons nou leef — om dit te vergelyk met destyds se necklaces in die townships (om te bewys wie is die ernstigste oor verset) is horribaal.
Clinton, jy skryf stunning gedigte, hou so vol: help om eerder nog potlode, boeke, kitare en saksofone uit te deel aan die nuwe generasie oor alle kleurgrense heen, laat hulle die nuwe vryheid vir ons oopskryf, oopsing en oopspeel. Die necklaces was onder die ergste vergrype van die struggle, oer-onnosel, en veral oer-onnosel was diegene wat toegekyk het en dit toegelaat het.
Net so onnosel soos die stelling No education before liberation. Vandag betaal ons nog die prys daarvoor: jy moenie eers probeer om dit goed te praat nie, dit ruik na blinde onkunde. Ek is seker Karen wil nie haar naam gekoppel hê aan ’n hele generasie nie, waarom moet sy die prys betaal omdat ’n joernalis te lui is om ’n gepaste metafoor uit te dink?
Dis sommer pure laksheid, en bloot die media se manier om te probeer cope met iets wat vir hulle vreemd dog fassinerend voorkom. En miskien is dit bloot net die koeke se manier om haar impak live te verwerk, gesien hulle agtergrond van repressie: Karen verdien ’n bietjie meer ruimte — en eerder vir haar musiek as vir daardie gerieflike generasie-etiket.
En ja, Amanda, my bokkie, jy het nog altyd briljante momente gehad waarin jy ’n ware diva was. Moenie jouself te veel blootstel aan die anonieme wolwe op LitNet nie, hulle is laf van hart en skuil agter pseudonieme. Maar, aan die ander kant, gooi jou pêrels gerus nog vir ’n lang tyd voor sulke swyne (en ook voor normale mense), daar is altyd diegene wat dit sal herken vir wat dit werd is. Jy is en was die eerste vrou wat ek teëgekom het wat Afrikaans regtig laat rock het. En laat blues en laat jazz het. Jy bly die diva van die teater en die kabaret. Jy sê hulle heeltemal reg: jy kry van my ’n bos rooi rose as jy weer in die Kaap kom. Moenie te veel worry oor my en Anton nie, hy het nog altyd niks aan my nie, en vice versa.
Johnny K
terug