13 Mei 2002
ANTWOORDE VIR DIE ANTI-HOFMEYR CLAN ...
Ek antwoord net gou die anti-Hofmeyr clan, want hulle is die oulikste. Die wat saamstem, dankie, en moet nooit outomaties aanvaar ons is in die minderheid nie. Julle sal verbaas wees hoeveel mense sê: “Live & let live.”
Jaco — Ek pleit vir definisies vir kuns en jy gee my flou sinonieme. Kan ek ’n wetenskaplike spekulasie by jou los dat 80% van Suid-Afrikaners se enigste simbiose met “kuns” nooit meer as karaoke of Neil Diamond sal wees nie! Vir snobs is hulle natuurlik kômmen sonder verlossing (rede: sommer). Ek ken ongelukkig geen universele definisies (in die Kantiaanse sin) vir kuns soos jy en Anton nie, daarom is wat ek doen slegs kreatief van aard, maar beslis BESIGHEID ook!
Kapitalisme is al jare lank vloekwoorde in hierdie gesprekke, maar is Van Gogh minder kuns/kwaliteit omdat hy miljoene op Sothesby’s haal? Hierbenewens wil ek weet WIE gaan besluit watter model vir kwaliteit ons MOET nastreef. Moet net nie ’n nasionale referendum roep nie, want dan word jy moontlik nog verplig om ’n “kunslose” Jurie Els of Steve Hofmeyr CD aan te hou. Neil Diamond is my dertiende van veertien CD’s. Ek (wie Brel menigmaal verkrag het op dramaskool), skroom nog steeds nie om “covers” te doen nie. Veral NIE as daar meer as 160 totaal oorspronklike werke van my daar buite sirkuleer wat deur miljoene waardeer en talle opgeneem word nie. Ook internasionaal.
Musiek, mooi wysies en woorde mag nooit slegs aan een kontinent of generasie behoort nie. Laastens. Gert Vlok Nel moet hom toekak: in jou oulike essay oor kritiek berus die somtotaal van jou oordeel op die “volgorde” van sy liedjies. Myne oor skoene. Wie is julle en wie het julle leer praat?
Swys — Ek dog jy gaan my beskuldig van snobisme oor my Corolla-stelling. Jy kon, maar ek sien jy lees die metafoor raak. As student het ek agt blokke deur Sunnyside verhuis met niks meer as my Corolla nie! Sitkamerstel, Pinball, dubbelbed en ’n Heavy Metal CD-versameling wat net nie in ’n Merc sou “pas” nie.
Francois — In very much the same way I refuse to tolerate Barry Ronge in discussions requiring representatives of cultures suffering marginalised languages and alienated traditions, I shall treat your input on discussions of ego with a pinch of salt, as you represent a spiritual disposition void of ego (that ignores the Flow) and other material hang-ups (sorry, I’m monist). Your criteria for “music” seems different from Jaco’s, in that yours have something to do with “a good voice” and meaningful lyrics.
Your condescendence is not only psychological, it’s also geographical. Your opinions on the church are gratefully more emancipated than those on entertainment technology. I’ll have you know that half of the Pink Floyd show relies on backtracks, unless you believe they travel around with 200 alsatians that promptly bark on cue in “Dogs of War”?
Estee en Liesch — Jirre, Estee. Welkom. Liewer laat as nooit. Ons is presies sewe maande gelede deur jou argumente en hier kom jy aan. Jou aanbod op die kunsdefinisie is “slim”-geit. (Francois, ek vergewe jou alles.) Oor backtracks: Mauritz Lotz werk al 10 jaar op my backtracks, hy’s nie dom nie, ken sy regte en het hoogs moontlik nie ’n clue waarvan julle praat nie.
En al sou hierdie debat die wet verander, dit wil sê ons betaal die “ongelukkige” musikante, sou julle anders voel oor Patricia en Jurie? Ek twyfel. Snobisme is persoonlik en het niks met regte uit te waai nie. My kollegas in LA, Vegas, en Sun City, wat al vir dekades huldevertonings bied, ook op backtracks, weet ook nie van watter “regte” Anton Goosen van praat nie.
Dink net aan die 200 filmspanlede wat elk sy eie uitbetaalskema aan Spielberg se draaiboek wil vaskram (die sjef ingesluit). Al reg wat ek ken, Anton, is my reg om GEEN musikante te gebruik nie, omdat alles deesdae op een Acer Laptop gedoen kan word, kitare, dromme, bas en tromboon. Eina! Estee sê: “Dit gaan oor kuns, Steve.” Haai, rêrig? Dankie, Estee. En liefde by die redaksie. Sê hulle tog namens my dat baie mense Nietzsche lees, ook vir ander redes as spog. Estee, kan ek jou babbeltjie bars oor BESIGHEID? Dit gaan oor niks BEHALWE geld nie, en jy weet nie wat KUNS is nie. Ek sou nie spog dat ek ’n joernalis is nie... Liesch, lees Anton.
Steppenwolf — Ek sal van beginsel nie ’n debat bywoon wat gaan oor “wie die meeste bydra tot die vordering van Afrikaans, kunstenaars of politici?” nie. Plaas jy jou geld gaan uitdrink êrens in Baron von Rheedestraat. Wat jy kwytraak met jou “koel kop” laat my “vuiste” na vuurhoutjiespeel ruik. “Ons is nie almal so nie” is Jeanne (se karakters) op haar snobste. WANT ONS IS! En dis ook geweld om stil te staan en kyk hoe mense rond dônner met jou taal, tradisies, standbeelde, familie en mense.
I chose the lesser of two evils. Ek het jou vorige brief geniet, omdat baie daarin nuus was. Moet net nie vir my sê jy onderskat Kerkorrel nie of dat jou definisie van kuns berus by “beoordelaars” nie? Ek lees weer.
Jy verwar my ondersteuning van Afrikaans met die “wat is kuns?” debat. Lees weer. Die grootte van joernaliste is rêrig nie hoog op in my departement van probleme nie. Jy mis my argument met ’n myl. Die “massas” doen niks behalwe wat hulle eintlik wil nie. Ek smeek reeds om ’n definisie vir kuns. Lees weer wat ek sê oor konsensus. (Jirre, rook jy terwyl jy bydraes lewer hier?)
Die “gewildheids- en geldargument” is definieerbaar en meetbaar — maar kuns nie! Dis al wat ek daarmee sê, maar dankie vir die uitgebreide tesis en sielkundige profiel. Jou stappies om “ernstig opgeneem te word” is pragtig (behalwe dat ek voldoen aan al vier). En deur wie moet ek ernstig opgeneem word, jou kerk? Dat party mense in hul arrogansie dink ander is so dom dat hulle nie weet wat die verskil is tussen backtracks en ’n band nie. Wat is daar om te erken? Almal weet al dertig jaar lank hoe lyk backtracks en hulle VERKIES om hulle geld daar te spandeer. Hier is VERMAAK ter sprake, maar jy sien dit nie as kuns sodra daar effe te veel mense in die saal sit nie. MAAR, dis nie rêrig wat jy wil hê Stevie-boy moet erken nie.
Jy wil hê ek moet saamstem met ’n lang (dradige) brief om en om die eintlike probleem: jou snobistiese idee van wat JY dink mense gaan onthou oor 30 jaar, en jy’s bang een van my, (of die ander nie-kerkse mense se songs) is daar en nié die lead solo in “Mystic Boer” nie! Hoe jy “uitbuiting van die massas” gebruik elke keer as jy bedoel “besigheid”, verraai darem presies van waar jy kom.
Oor jou versweë premis: wat JY wil sê is dat dit NIE kuns is om die massa te vermaak nie (lees Van Gogh). Touché.
Moenie Q onderskat nie. Hulle weet hulle praat met MTV-juppies en die cool-faktor faksie. Jy sal ook nie lees van Meltem (Turkye), Dana Winner (België) en Deyan Boyko (Bulgarye) in Q nie. En ek WENS ek was met dieselfde objektiwiteit as Gary Moore behandel!
Dan gebruik mens aanhalings (ook) omdat mens mag erken dat iemand anders dit een keer beter as jy kon stel. My argument is KOOP WAT DIE FOK JY WIL EN LOS ANDER UIT en Nietzsche het dit net mooier gestel. Dit was nie ’n “appeal to authority nie”, en slimgeit my bal.
Met jou “groot” ooreenstemming oor wat kuns is (en nie), bevind jy jou in daai aaklige plekkie waar ek wou uitbly: KONSENSUS. As al die tannies met 3 eende teen hulle mure gevra word om saam te stem (in ’n mosie) oor of HULLE dink hulle eende is nie kuns nie, sit jy! Ek toer baie; weet jy hoeveel eende sit daar teen mure in die Goudveld alleen? Hoe die hel weet jy wat is NIE kuns nie as jy nie kan weet wat kuns IS nie; subjektiewe opinie, en ’n arrogante salfie wat jy elke aand aansmeer wat sê: “Jy’s reg, Wolfie!” ’n Persoonlike debat is nie nodig nie, want jy’t nog niks om te sê nie. Hierdie debat gaan oor “intellektuele goedere” en die regsimplikasies daarvan (wat nie bestaan nie!).
Anna-Marié R en Nicola — Nog iemand wat ander gaan vertel wat hulle eintlik MOET doen met hulle geld. Is ek in die Twilight Zone? Nicola, jy’t tog gelyk met “mime”. Ek kan dit self nie regkry nie, maar verstaan as “dansende” sangers dit gebruik. Het jy al “Die Stem” gesing na 100m vlinderslag?
Anton — Mmm. Dankie vir die forwards. Soos ek gedink het. Die debat is op ys totdat almal net gou oor die ad hominem klag kan kom van hoe ’n groot doos ek is. Ek wag dan. Vreemd dat my opinies gerespekteer is in twee jaar se e-posse op LitNet, onder ’n skuilnaam! Wat sê mens, nè? (Jirre, Dr Roodt, nou weet ek presies hoe jy voel!)
Ek en jy, Anton Goosen, (wat die enigste sinvolle teenvoeter bied in die 64 e-posse in verskeie kamers buite LitNet), sal maar soos gewoonlik die gesprek moet voortsit oor ’n “bier by die rivier”. Tot dan, staan ek by my ander kollegas se manier van doen totdat die grondwet (lees publiek) EN musici in ateljees ons stop vir die “diefstal” van hul “intellektuele” regte. Soos my dogter sê: “Hallooo?”
Ek bly vir eers weg totdat ietsie vars inkom.
(Damn, ek wou so graag eindig met ’n aanhaling.)
Steve Hofmeyr (alias Lucas Maree)
terug