12 Mei 2002
GOOSEN-SNOBISME? ...
Anton Goosen word nie verniet die Liedjieboer genoem nie. Hy is inderdaad een van Afrikaans se mees talentvolle musikante. Ongelukkig is dit jammer dat hy steeds so ’n onbuigsame houding teenoor kommersiële kunstenaars inslaan en sy neus vir hulle musiek optrek.
Sangers soos Els, Lewis, Darren ens besoek gereeld die platteland waar hulle in vol sale optree. By hierdie geleenthede trek dorpenaars soos een man saam. Ou toppies in kruisbande, jong bulle in kort broeke. Dik anties met bollas en vriendelike niggies met stadsrokkies. Daar word pannekoek, koeksisters en fudge verkoop en die mense sit die saal van muur tot muur om ’n Afrikaans te hoor in ’n idioom wat hulle waardeer en verstaan. Hulle soek nie lirieke met diep boodskappe nie en worry nie oor backtracks nie, want hy of sy daar op die verhoog raak hulle binneste aan. Hulle kan daarmee identifiseer en dit vermaak hulle!
En dit, meneer Goosen, is kultuur wat jy met ’n stok kan omroer. Sogenaamde meer ernstige kunstenaars — veral die aan wie daar ’n bietjie skryftalent geleen is — moet ophou om te glo dat net dit wat hulle doen diep en intellektueel is of die kultuur aan die gang hou. Kyk waar staan Afrikaanse drama, prosa en poësie vandag weens sulke ydele snobisme! Moenie dink dat julle die alleendraers van die kunste-oorlewing fakkels is nie. Wees verseker ná Kombuis, Kerkorrel, Swart en Goosen is daar inderdaad lewe! Ja, julle het wonderlike werk vir Afrikaans verrig, maar laat nou ook hierdie kunstenaars toe om op hulle manier hul talent uit te lewe. Onthou dit is merendeels hulle wat Afrikaanse musiek na kleiner dorpies bring terwyl julle ander ouens in die stad met kroegstoel en kitaar tussen vier dosyn eters (teen belaglike pryse) julle harte uitstort.
Terloops: Dis tog eienaardig dat Anton Goosen — die ou wat so neersien op kommersiële kunstenaars — gratis optredes by kunstefeeste wil beperk! Ek sou veel eerder wil sien dat die status quo wat dit betref, bly. Brandstof raak duurder, verblyf raak duurder, kos raak duurder. Dit is dus ’n welkome bonus vir diegene (en daar is baie!) wat dit nie so breed het om al die shows by te woon nie.
Groete
Arnold
terug