11 Mei 2002
OPE BRIEF EN UITDAGING AAN STEVE HOFMEYR ...
Jirre, soveel famous mense, soveel kak opinies — waar begin ’n man. Seker maar by Stevie-boy. Steve, jy gee seker nie om as ek jou Stevie-boy noem nie siende dat jy na ons as seuns verwys nie.
Ek weet wragtag nie waar kom jy daaraan dat die name van die kunstenaars in die debatte almal skrywers en joernaliste is nie. Jy noem vier name: Valiant Swart, Anton Goosen, Dirk Uys en Gert Vlok Nel. Eerstens het ek nog nie eers ’n bydrae tot die debat van Gert Vlok Nel en Valiant Swart gesien nie.
Maar ek sien dat jy kort-kort vir Valiant wil bysleep (later meer hieroor). Nie een van daardie vier name is joernaliste nie. Net een van hulle is ’n skrywer, wat werk gepubliseer het, en dis die briljante Gert Vlok Nel. Benewens die feit dat jou feite verkeerd is verstaan ek ook nie eintlik watter punt jy probeer maak nie.
Die enigste vae punt wat ek kan aflei uit die relaas van jou is dat joernaliste en skrywers die mes in het vir jou. Dan praat jy van patologiese propaganda oor wie die meeste doen vir Afrikaans. Eerstens verstaan ek nie hoe enige propaganda patologies kan wees nie. Net oor iets mooi klink beteken dit nie dat dit sin maak of betekenis het nie. Min of meer soos jou liedjies. Maar kom ons los enige haarklowery oor jou taalgebruik daar.
Was jy nie die dapper kampvegter vir Afrikaans wat net ’n maand terug bereid was om ’n klein outjie te slaan omdat alles wat vir die Afrikaner mooi was opgeneuk word nie? Nou is jy skielik ongelukkig oor mense debatteer wat die beste is vir Afrikaans en wie die meeste bydrae tot kuns. Ek dink jy is eerder suur oor jou naam nie genoem word as een van die mense wat bydra tot Afrikaanse kuns nie.
En dan praat jy van die kuns van nugter vermaak. Jy verwys ook na hoeveel mense Jurie Els se CD besit en dat mense nou ander mense haat oor hulle musiek pleeg wat nie kuns is nie. Wat jy eerstens probeer doen is om te beweer dat dit ’n kuns is om die massas te vermaak. Wat jy eintilik wil sê is dat Steve Hofmeyr die massas kan vermaak en dat sy “Blou Bul”-liedjie baie meer kopieë verkoop as Valiant Swart se “Mystic Boer”. (Jy haal mos filosowe aan. Gaan soek bietjie die term “versweë premis” op.) Daarom wil jy hê moet kunskenners en koerante jou liedjie met dieselfde respek behandel. As jy geld daaruit maak moet dit mos goed wees. Dis jou argument, Stevie-boy.
En ja, hiervoor word jy nie net deur Goosen en die rockers nie verag nie, maar ook deur jouself. Want sien, Steve, dis die eintlike probleem: jy wil albei gode dien. Jy wil die geld maak en die erkenning vir kuns. Alles goed en wel as jy geld maak en getrou aan jou kuns bly. Maar ek weet, en jy weet, dat die geld wat jy maak gemaak word deur die kommersiële mark te ontgin. Dat jy goed hiermee is, staan bo enige twyfel. Daar is ’n rede hoekom dit twee keer meer geld kos om jou en jou CD`s op ’n verhoog te kry as wat dit kos om Anton Goosen en die Bushrock-band op n verhoog te kry.
In die lig daarvan vind ek dit ook belaglik dat jy kla oor jy advertensiespasie in die Beeld moet koop. Jy benader die musiektoneel soos ’n kommersiële onderneming en dan word jy kwaad oor jy soos enige ander besigheid moet adverteer.
En dis die hele probleem met jou brief, Steve. Jy wil jou brood aan albei kante gebotter hê. Jou gegorrel oor die feit dat Jurie Els 150 000 CD`s verkoop het is ook by jou eie argument onsinvol. Gewild is nie dieselfde as goed nie, maar dit weet jy. Dis mos hoekom jy se dat konsensus nie goeie kuns maak nie. Tog keer jy vyf keer terug na die gewildheids- en geldargument. Maak selfs uit dat ons dink jou ondersteuners is kômmen. Hey, ek erken dit, ek dink mense wat jou aanhang is kômmen, my ma en broer tel onder hulle. Maar ek is eerlik. Wat jy doen is baie erger.
Jy dink ook eintlik hulle is kômmen, maar jy wil hulle geld hê. Daarom sê jy dit nooit nie en skryf jy liedjies om hulle te plesier. Dis sou seker nog OK gewees het. Maar die ergste ding wat jy dan doen is om met briefies soos die een aan LitNet en jou posting op die Valiant Swart website te heul vir die aandag van die rockers se fans. Alweer die twee gode, Steve. Jy dink self jou fans is nie goed genoeg nie. Dit sou egter onregverdig wees van my om net aan jou uit te wys dat jy nie albei gode kan dien as ek nie ook die vier gebooie van die rockgod aan jou uitwys nie. (Moet asb nie die brief aan die NG kerk sinode wys nie.) Jy probeer beweer dat daar nie konsensus is oor die standaarde nie en dat ons daarom jou moet laat om die kommersiële mark uit te buit.
Niemand weet wat kuns is nie, daarom mag julle my nie kritiseer nie, lui jou argument. Wel Steve, kom ek noem vir jou die vier dinge wat jy moet doen om ernstig opgeneem te word in die musiekwêreld.
1. Skryf oorspronklike musiek en lirieke. Geen vertalings, geen nuwe Afrikaanse lirieke oor ou Engelse of Skotse of Amerikaanse of Indiaanse wysies nie.
2. Maak seker dat jou lirieke ’n nuwe onderwerp aanspreek, of ’n bestaande onderwerp nuut toelig deur vindingryke beeldspraak. Of deur ’n totaal nuwe lig daarop te werp. Nie maklik nie, ek weet, want jy sal nie meer mag sweef soos ’n arend nie.
3. Probeer om jou wysies voortdurend vernuwend te maak. Met ander woorde, moenie net altyd dieselfde ou pop-tune formule gebruik nie. Soos jy in die Karoo aanbeveel het nuwe liedjieskrywers behoort te doen nie.
4. Maak seker dat jy musiek lewendig kan opvoer. En moenie backtracks gebruik nie, want as jy dit doen sal niemand ooit weet of jy regtig sing nie. En musiekliefhebbers koop CD`s om in die huis na te luister. Wat hulle verwag van ’n lewendige optrede is dat jou werk vars aangebied word en dat daar ruimte moet wees vir verandering.
Hulle is die mense wat jare later nog met respek gaan praat van ’n 21 minute lead break in die middel van “Mystic boer”. Of asemloos gaan fluister van ’n lead break wat gesplit is tussen Valiant Swart en Albert Frost.
Ek weet dis die erkenning waarna jy soek. Maar hierbo is die prys wat jy moet betaal. En o ja, die reward is nie ’n SLK nie. Dis die reëls van die kerk waarna jy so snydend verwys. Niemand in die kerk sê jy mag nie aanhou doen wat jy doen nie. Ons sê net: wees eerlik daaroor. Erken dat jou gebruik van backtracks nie werklike lewendige musiek verteenwoordig nie en dat mime eintlik nog erger is.
Erken dat mens nooit regtig sal weet dat wanneer jy backtracks gebruik, jy net backtracks gebruik (lees: die oorspronklike musikante se intellektuele goedere misbruik nie), en of jy mime nie. Noem dit fundamentalisme as jy wil. Ek verkies om dit te sien in die lig van standaarde. Dis jou goeie reg om te besluit of jy aan die standaarde wil voldoen. As jy verkies om eerder hope geld te maak, weet net dat jy soos Anton Goosen gesê het, nie deur die lede van die kerk gerespekteer sal word nie, en ook nie ’n lidmaat sal wees nie.
Die keuse is joune. Verstaan ook dat ek van kunstefeeste sal versoek om jou en jou CD`s nie daar toe te laat terwyl jy nie besig is met kuns nie, maar bloot met die uitbuiting van die massas. Ek sweer as Karl Marx vandag gebore was sou hy gesê het: “POP is the opium of the masses.” Godsdiens het nie n kat se kans nie. Die genre-oorlog word deur die popouens begin. Elke keer wat hulle ’n slegte resensie kry is hulle egotjies platgetrap en is dit vuiste wat klap en krokodiltrane.
Rockers kry ook slegte resensies. Gary Moore se album Still got the Blues is uitmekaar geruk deur die resensente. Dit beteken nie dat hulle nie van die blues hou nie, ook nie dat hulle nie van Gary Moore hou nie. Dit beteken bloot dat hulle nie van sy album gehou het nie. En Steve, as jy dink die Suid-Afrikaanse media is hard, daag ek jou om jou Neil Diamond-CD vir Q (musiektydskrif) vir ’n resensie te stuur. Jy sal dink Riekie Human was die voorsitter van jou fanclub.
En hou asseblief op om aanhalings te gebruik om jou argument te probeer versterk. Nietzsche kan nie pa staan vir jou musiek nie. Die man moes al klaar vir die Nazi`s pa staan, so los hom nou maar uit. En net vir die rekord, beteken dit dat omdat Nietzsche dit gesê het, dit noodwendig reg was? Wat het hom ’n kenner van musiek gemaak? Bowendien het hy geleef in ’n tyd waar hy waarskynlik net bekend was met wat musiekhistorici noem “Westerm Art music”.
Die debat oor kuns duur voort, ja, en die ideale definisie is nog nie gevind nie. En mag dit ook nooit gevind word nie. Dit is juis die skoonheid van kuns — dat dit moet poog om sodra dit gedefinieer is, van die definisie los te breek in radikale nuwe maniere. Dis hoekom Duchamp se fonteintjie soveel opskudding veroorsaak het. Maar wat jy nie noem nie, is dat daar redelik groot ooreenstemming is oor wat nie kuns is nie. Jou musiek, (as jy eerlik is sal jy saamstem) sal nie as kuns gereken kan word nie. Dis soos Tant Marie se kosmosse-skilderye — eerder ’n kunsvlyt. Ek is seker daar is ook teen ’n 150 000 huise se mure drie eende wat vlieg.
Dit beteken nie dis kuns nie.
Ten opsigte van jou argumente oor die Stellenbosse dampkring (en hier wil ek darem Jaco Botha ook aantree), dink ek dat die dampkring op himself ingeplof het. Beide Toast Coetzer en Chutney de Ridder het erken dat die Kaapse musiektoneel vaal is teenoor wat in Gauteng gebeur. Jaco, jy ken nie die skares in Pretoria nie. Ja, daar is die Pieter Smith-ondersteuners, maar in die Kaap het julle vir Jakkie Louw. Waak teen die houding van “ek is verhewe oor ek in Stellenbosch bly.” Die hoogste vlak van musiekgeletterheid in Suid-Afrika, het ek aangetref in ’n kroeg in Boksburg.
Oor jou spoggery oor ’n vuishou aan ’n klein mannetjie, laat die manier wat jy daaroor aangaan dit klink of jy vir Mike Tyson self gaan dônner het. Vertel jy dit darem ook vir die skares, as jy die held voor hulle speel? Dit was die mees lafhartigste daad wat ek in my lewe gesien het. Veel erger as die boelies op skool. En dan gaan spog jy nog daaroor. Sies man!
Steve, as jy ’n man is daag ek jou om ’n artikel te skryf. Kom ons sê so teen die 15de, waarin jy backtracks en mime en covers en vertalings verdedig. Ek sal een skryf waarin ek dit aanval. Jy smeek mos op Valiant se website vir ’n intellektuele debat. So hier is jou kans. Of nog beter, wat van ’n lekker debat tussen my en jou op jou program op kykNET.
Of kan jy net mense slaan wat kleiner as jy is?
Steppenwolf
terug