8 Mei 2002
JOHNNY EN DIRK ...
Om te vra wie nou eerste die swartsmeerdery in die pers begin het, Johnny K of Dirk Uys, is vir my net so retories soos wat eerste was, die hoender of die eier?
Die storie mag dalk nou eers sy draai in die koerante en op die internet begin loop het, maar gerugte was nog altyd daar.
Hang maar net vir ’n rukkie rond by die Stellenbosch musiek-scene, dan hoor jy hulle nog almal.
Met die vreeslike gerondslingery van beledigings het ek nou al ’n slegte smaak in my mond vir albei hierdie kêrels. Menere, jul bewys julself net ’n onguns deur hiermee voort te gaan, want jul albei se skrywe getuig van ’n uiterste grootkoppigheid asook kleinlikheid (teenstrydig soos dit mag klink is die twee beskrywings kop in een mus).
Wat my sommer bring by die ander spul musos. Een ou kla dat die ander ou sy liriekeboek onder oë gehad het, en dat sy daaropvolgende treffer toe vreeslik bekend klink. Dieselfde ou kla toe weer by ’n ander ou oor juis dieselfde spul klipsitters by wie hy die eerste keer gaan kla het, en so skinder dit voort totdat die voorste spul pens en pootjies in die pers
beland.
G’n wonder eersgenoemde ly al aan agtervolgingswaansin nie. Bly op julle hoede, ouens, iewers kry iemand dalk in die middernag gedagtes en pleeg plagiaat!
Die alternatief is natuurlik om te leer uit hierdie ou relletjie tussen Kerkorrel en Uys. ’n Mens lyk dalk meer na ’n artist as jy idees in die openbaar bespreek en liriekeboeke oop laat rondlê, maar op die uiteinde van die dag lyk jy meer soos ’n poephol as jy 13 jaar na die tyd smaaklose beledigings rondgooi.
Meneer Kerkorrel, ek dink jy het jouself alreeds bewys as ’n voortreflike kunstenaar, deur jou musiek, en dat jou aandeel in die stryd nie te
betwyfel is nie. My ou tannie het destyds amper ’n aar gebars toe sy agterkom haar Engelsman-skoonseun besit ’n kopie van Eet Kreef en stem boonop vir die DP ook nog! Ek kry nou nog lekker as ek daaraan dink.
Meneer Uys, stilte is soms ’n uiters treffende wapen. Ek self is baie dankbaar vir jou bydrae, het heerlike tye meegemaak op Wingerdstok 1, 2
en 4 asook Kaktus op die Vlaktes. Daar is ook baie wat dankbaar is vir die blootstelling wat jy hulle gegee het op jou Trippy Grape-label
ensovoorts. Jy is egter besig om jou beeld skade te doen deur jou kleinlike gekriewel met Kerkorrel. Jou dade spreek duidelik baie beter as jou woorde.
Die meeste van ons stel nie juis te veel belang in die akkers in julle gutters nie, so lê liewer die strydbyle neer en neem die ghitaar (of pen) op en skryf vir ons nog ’n paar treffers! (Ja, jy ook, Dirk).
Koning Rooseboom
terug