8 Mei 2002
WAT WAS EERSTE: DIE HOENDER OF DIE EIER? ...
Na aanleiding van Gabriël Botma se “Voetnoot” in Die Burger van 7 Mei wil ek net graag meer inligting bydra tot die debat:
Botma het wel ’n paar belangrike gebeure uitgelig in die beweging soos bv die Piekniek by Dingaan kabaret-produksie. Piekniek het inderdaad positief bygedra tot die versetbeweging.
Gabriël sit egter die pot heeltemal mis in terme van chronologiese ontplooiing van die beweging asook seminale konserte wat lank voor Piekniek plaasgevind het. Ek verwys spesifiek na Die Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rock Konsert wat ek en Boogy Gottsman op 25 Maart 1988 in die Pool Club in downtown Johannesburg georganiseer het.
Koos, Johannes, Bernoldus,The Kêrels en die Genuines het almal opgetree. Hierdie was die seminale geleentheid wat die stewige fondament gelê het vir wat daarna sou volg. Dis as gevolg van hierdie geskiedkundige aand dat die media en die mense op voetsoolvlak begin verwys het na die “alternatiewe beweging”.
Ongeveer ’n duisend mense het hierdie waterskeidingskonsert met groot oë gade geslaan, insluitende die regisseur en sommige van die akteurs wat eers drie maande later in die Piekniek produksie sou optree. Joernaliste soos Theunis Engelbrecht van Beeld het volledig daaroor berig asook resensente van The Star en The Weekly Mail.
Verder het ek teen hierdie tyd ook al moerse shows in Pretoria gereël by The Grand Central in Kerkstraat (Piet Botha-hulle se ou klub.) Die shows hier was so suksesvol dat ons fisies die deur moes toesluit, wat die eerste aand letterlik deur mense buite afgebreek is om ook toegang tot die venue te kry.
Ons het ook ’n lekker anargistiese show in die Masker teater gehad wat ons moes stopsit omdat die ongeveer 600 argitektuur-studente die plek begin afbreek het. Daarmee saam het ons ook suksesvolle shows in die Sterrewagteater in Bloemfontein gehad asook in The Base in Kaapstad. Al hierdie vertonings het plaasgevind tussen Oktober 1987 en Mei 1988. Ek sou konserwatief skat dat ongeveer 8000 mense reeds hierdie rock-konserte bygewoon het voordat Piekniek sy eerste vertoning in Junie/Julie op Grahamstad geniet het.
Chronologies is dit ook belangrik om te let daarop dat Bernoldus se album reeds in 1986 verskyn het, André Letoit s’n in 1987 en die “Ek Verpes Bles” T-hemde in Januarie 1988. Die versetkultuur was al sterk op dreef en dit het gegons op die underground. Daar was toe al ’n bootleg kasset of twee wat van die fans onwettig met hul tuisopnemer by ons show opgeneem het.
Die posters en flyers wat ek en Catharina Klinknael ontwerp het, was orals trots in woonstelle en koshuiskamers opgeplak. Daarby het ’n paar honderd rockers met hul “Ek Verpes Bles” T- hemde hul ouers en base die bliksem in gemaak.
Let wel ek dink dat Piekniek ’n fantastiese produksie was en dat Gerrit Schoonhoven en sy talentvolle groep kunstenaars inderdaad ’n wêreldgehalte rock-kabaret op die planke gebring het. Ek glo dat Piekniek die versetbeweging versterk het, veral in die hoofstroom, onder mense wat nie normaalweg rockklubs ondersteun nie.
Ek poog in my boek waaraan ek tans oor Afrikaanse Rock skryf, Vroumense en ou Karre, om die gebeure chronologies en histories korrek aan te bied sodat die leser heeltemal in die prentjie is. Belangrike geleenthede sal ondersteun word deur voetnotas en persberiggewing wat belangstellendes dan verder kan naspeur om om ’n groter geheelbeeld te vorm.
Dis egter treurig dat iemand met Botma se ervaring so ’n hoenderkopperige artikel skryf sonder om die feite en datums te korreleer voordat hy dit publiseer. Nee man Gabriël, jy kon definitief jou lesers beter ingelig het as jy meer navorsing hieroor gedoen het, maar nou saai jy net meer verwarring oor ’n reeds wollerige onderwerp. (Like if we need it at this stage!)
Ek sal probeer om my boek teen die einde van die jaar te voltooi en dan kan die lesers maar self besluit wat die ware ontplooiing van Afrikaanse rock was.
Viva Boere-Rock, Viva!
Dagga-Dirk Uys
terug