8 Mei 2002
DIE PATRICIA-VOORVAL, OFTEWEL DIE BEWAKERS VAN DIE VALSE BEWUSSYN ...
(oftewel: “Ek wou op haar kots maar ek het nie genoeg kots by my gehad nie...”)
Tydens die Steve Hofmeyr-debat op RSG — die dag na hy vir Jan-Jan Joubert aangerand het — het Patricia Lewis die volgende kwytgeraak aan Niekie van den Berg:
“Kan ons nie maar vir Steve kry om Anton Goosen ook by te kom nie?”
Niekie was verstom, het haar onderbreek en gevra: “Hoe sleep jy nou die arme Anton Goosen by hierdie debat in?”
Ek was op toer in Jeffreysbaai en op pad KKNK toe, toe die debat-program uitgesaai is. En ek het dit gehoor: Patricia wil dus ’n hitman huur om my by te kom. Boonop ’n vriend (Steve), selfs al stem ek nie saam met die geweld-insident nie.
Met hierdie onnodige statement in my kop het ek Oudtshoorn binnegery, my free show die oggend in die tronk vir my en die band se bydrae tot sosiale bewussyn gaan doen, en my twee shows in die Stalteater met die Bushrock-band gedoen.
Ek baklei my hele lewe lank al vir inheemse, lewendige musiek. Die oor-kommersiële “kunstenaars” in Afrikaans voel nie so daaroor nie en maak mildelik gebruik van lawwe vertalings (waarvan die kopiereg se geld ewe onpatrioties uit die land gaan), en van front- of backtracks.
Front-tracks is waar net die CD gespeel word en die “sanger” dan maak asof hy of sy sing, of saamsing.
Backtracks is ’n ewe groot sonde, want hulle gebruik die intellektuele eiendom van die musikante wat vir die doel van ’n CD daarop gespeel het, se werk sonder toestemming of vergoeding.
In plaas van lewendige begeleiding op hul “vertonings” word die orkes of begeleier dan vervang. Sodoende is dit goedkoper en kan hul dan die ekstra geld in hul sakke steek.
In die proses word die publiek dus verneuk met die mimiektoertjies en word musikante van werk en tantièmes ontneem. Die ander probleem is dat die publiek wat na hierdie mense luister dus gelei word om aan hierdie valse bewussyn gewoond te raak en dit te aanvaar. Kondisionering, dus. Patricia Lewis en Jurie Els staan aan die voorpunt van hierdie klugspel.
Krit het die onderwerp van back tracks tydens die fees ontbloot (backtracks en mimiek in musiek hoort tog hoegenaamd nie op ’n kunstefees nie), maar met die Steve-aanrandingsdebakel het die onderwerp verdwyn.
Dus is ek en ’n paar vriende die Donderdag laat per uitnodiging met afloop van my Stalteater-show die Klipdrift-arena binne. En wie staan voor my? Ons eie Barbie. Later het heelwat ander kunstenaars ook opgedaag: Richard van der Westhuizen, Stef Kruger, Dozi, ens. Ek was in gesprek met Stef Kruger — en juis terwyl ek hom vertel hoe nice sy inheemse songs op Dozi se debuutalbum is — stap Patricia se agent/CD-player operator/boyfriend verby en vra: “O, is Stef besig om jou te leer liedjies skryf, Anton?”
Stef het teruggedeins, en ek was verbaas, want ek het nie die kêreltjie geken nie, en het gedog dis ’n waiter en het toe twee hamburgers en Coke by hom bestel. “Nee,” sê hy, hy is nie ’n waiter nie, hy is Patricia se “klankman”. “Nee,” sê ek, “Jy is nie, want sy werk met CD’s. Jy is nie ’n klankman nie, jy druk simply net ‘play’ en ‘pause’. Enigiemand kan dit doen.”
Twee verskillende tafels het gevorm: die een met die Patricia-crowd, en ons s’n. ’n Aktrise met blonde hare het ook daar gesit. “Hei is dit jou regte hare?” het iemand gevra.
Patricia het skerp omgekyk….
“Hei is dit jou regte tiete hierdie?” het iemand weer die aktrise gevra.
Patricia het weer skerp omgekyk.
En toe loop ek en die CD-operator/agent/boyfriend in mekaar vas naby die kosbakke.
Patricia was onmiddellik aan sy sy.
Omtrent almal in die volgepakte Klipdrift-watergat was teen die tyd eufonies en eufories; “dronk” — simbolies en letterlik.
Drank en nag bring kennis.
Die gewelddreigement van die vorige middag se RSG-uitsending het nog in my agterkop weerklink: en hier staan die twee toe reg voor my.
“Julle tweetjie moet jul tongetjies van my afhou, ek het die uitsending gehoor.”
“Kom ons m**r Anton Goosen”, het ’n onbekende aanhanger van Barbie en haar vriend gesê. So in die feeskultuur van die vorige dag se voorval.
“Alles omtrent julle is vals, pasop, ek sal julle wigs letterlik en figuurlik in die openbaar afhaal.”
“F**off,” het Barbie en haar vennoot gesê.
“Julle is p**skoppe.”
Almal sê dit agter haar rug. Nou was dit in haar gesig. Dit was tyd vir simboliese skoonwas...
Net soos bra Steve kan ek mos nou nie aan ’n vroumens loop slaan nie. Boonop glo ek nie aan geweld nie.
En toe mors ek maar die laaste bietjie brannewyn in my glas deur dit oor haar uit te gooi. Letterlik oor die simbolies verteenwoordiger van die valse bewussyn… Laat ons dan die kultuur se gewete ’n bietjie was.
Die probleem was dat dit goeie brannewyn was. Die ander probleem is dat ’n gedeelte die onskuldige Niekie van der Berg ook getref het.
Maar die punt was gemaak. Never the twain shall meet.
Niekie en ek en ’n vriend het eenkant veilig ver gaan staan en gesels oor die toedrag van Afrikaanse musiek. En oor die feit dat Afrikaanse musiek deur omtrent al wat ’n radiostasie is, afgeskaal word. En die wat dit wel speel, grootliks kwasi-Afrikaanse musiek speel.
En ek sê weer: “Never the twain shall meet.” Daar sal altyd twee kante in Afrikaanse musiek wees: die opregtes en die valse profete wat net bucks wil maak.
Hierdie voorval was nie vir die pers bedoel nie, maar noudat die ou koeie uit die stal gegrawe is; ten slotte dit:
Afrikaanse musiek sal seker altyd gebuk gaan onder die vretende invloed van kulterele kanker. Ons moet dit seker net maar aanvaar, maar dit beteken nie dat die kanker nie beveg moet word nie.
Ek het niks teen Patricia en die hele bubblegum musiek-bende as mense nie; ek sê nie jul moet nou poog om intellektueel te probeer voorkom nie (o wee behoed ons!). Ek sê ook nie jy moet soos ’n Karen Zoid ’n ghitaar stukkend slaan op stage nie (of ’n wig of iets dergliks op stage te verbrand nie). Ek sê nie die tande in die voorste ry van jul gehore moet getel word nie. Ek sê ek HAAT wat julle aan ons kultuur en taal doen. En aan musiek doen.
Wil jul tog nie maar oorweeg om — al is dit net een musikant te huur in plaas van om die gehore so te fnuik nie? Ek weet jul het die rol as bewakers van die valse bewussyn by die vorige bestel/regime geërf, maar asseblief, word real en doen net real musiek. Dan is daar tog hoop.
Toe blief. Dan koop ek vir jou ’n hele bottel Jack Daniels (en ’n lekker lollipop).
Anton Goosen
terug